Die jaar lê alweer byna op sy rug. Dit was ’n seisoen van groot seëninge – wat ’n wonderlike geluid was dit nie om die reën op die huis se dak te hoor dans nie. Om in die natuur te werk, is ’n voorreg en dan is dankbaarheid ’n logiese gevolg. Die reuk van nat grond, gewasse wat ontkiem en besig is om op te kom, lammers wat vroegoggend spring en dans, en so is daar vele meer voorbeelde wat ons gemoed laat oorloop van dankbaarheid.
Dit is ook met groot dankbaarheid dat NWK sy beste jaar ooit gehad het. NWK se direksie en bestuur besef dat dié sukses toegeskryf kan word aan die unieke verhouding wat NWK met sy aandeelhouers, klante, personeel, besigheidsvennote en die breër gemeenskap het. So, dankie aan elkeen wat ’n rol hierin gespeel het.
Dit is ’n behoefte van my hart om saam met die lesers van Arena ons Hemelse Vader te bedank vir die seën wat hy oor NWK en die boerderygemeenskap uitgestort het. Sy genade is groot en onverdiend.
My wens is dat jy en jou gesin ’n geesvervulde Christusfees sal hê. Mag jy geloof, hoop en liefde in oorvloed ontvang in dié tyd. Mag die vrede van Christus deur die Heilige Gees jou deur hierdie feestyd vergesel.
Seisoengroete
Heinrich Krüger
Voorsitter NWK Beperk