Sukses-stories
Die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing is bekend vir hul reddingspogings van uile en ander diere. Brendan en Danelle Murray spandeer ure op die pad om hul reddingswerk voort te sit. Hier is van die werk wat hulle in November 2022 besig gehou het:
- Op 13 November het selfoontorings veroorsaak dat drie reddingspogings moes plaasvind – in Etwatwa, Braamfisherville en Koster. Dit gaan goed met al hierdie geveerde vriende.
- Op 24 November is hierdie witkruisarend (Verreaux eagle) naby Groblersdal gered. Dit is die grootste arendspesie in Afrika, met volwasse wyfies wat meer as 3 kg weeg – meer as die gevlekte ooruil (spotted eagle owl). Hulle vlerkspan strek tot 1,5 m wyd. Dié voëlspesie kan hul maat tot 5 km ver hoor roep. Krimpvarkies is ’n gunsteling op hul dieet, maar hulle vang ook ander kleiner soogdiere, en jag selfs uilspesies!
Aasvoëls op pad en op die pad
VulPro, die aasvoëlbewaringsorganisasie in die Hartbeespoort-omgewing, het verskeie vennote wat help om hul hande sterk te maak. Die vervoermaatskappy, DHL, het op 9 Desember ’n baie waardevolle “pakkie” opgelaai – 13 aasvoëls wat na VulPro se sustersfasiliteit naby Queenstown in die Oos-Kaap vervoer moes word. Die span in Queenstown, onder leiding van Kate Webster, sal die groep voorberei vir hul vrylating in 2023. Spesiale reiskaste is ontwerp vir die rit om te verseker dat die voëls in gemak kon reis. Die “pakkie” het sy bestemming veilig bereik.
Conrad Ramsay was op pad terug na Elliot in die Oos-Kaap. Toe hy deur die Cala-pas ry, het hy op hierdie pragtige “jong dame” in die middel van die pad afgekom. Hy het haar betyds gered en na Kate Webster in Queenstown geneem, waar sy gerehidreer en geassesseer is vir enige beserings. Sy sal eersdaags weer vrygelaat word.
’n Tuiste vir uile
Personeel van NWK is baie opgewonde met die pragtige broeipaar gevlekte ooruile by hoofkantoor! Hierdie roofvoëls is vir die eerste keer in Januarie 2022 in ’n palmboom in NWK se binnehof opgemerk. Owl Rescue Centre naby Hartbeespoortdam is gekontak om ’n uilhuis aan te skaf in die hoop dat die uile daarin sou broei. Ongelukkig het die voëls vertrek voordat die huis opgedaag het. Die uilhuis is intussen opgesit en noudat die paar terug is, hou voëlliefhebbers duim vas dat hulle dit inderdaad sal gebruik en dat daar eersdaags kuikens sal wees.
Besoek www.owlrescuecentre.org.za as jy belangstel om ’n uilhuis in jou tuin of werksarea op te rig. Hulle lewer landswyd af.
Babas en einas
By Care for Wild, die grootste weesrenosterreservaat ter wêreld, het groot opwinding geheers toe Timbi, ’n 10½ jaar oue renosterkoei wat in 2012 gered is, geboorte geskenk het aan haar eersteling. Dit is die vyfde baba wat in dié reservaat gebore is.
In die intensiewe beskermingsone is ’n jong kameelperdkalfie opgemerk, wat gesukkel het om by die res van die groep te hou met sy kruppel poot. Met die ondersteuning van Save Giraffes Now, het dr Chris Smith en dr Hayden Cuthill van Wildlifevets.com kom ondersoek instel en ’n groot doring in die kameelperd se regtervoet gevind. Die doring is verwyder, en die wond is skoongemaak en verbind. Langwerkende antibiotika en pynverligting is ook gegee. Hy het vinnig weer by sy trop aangesluit.