Goeie landboukundige praktyke is belangrik om suksesvol te boer. Die span van NWK Landboubestuursdienste is altyd gewillig om produsente by te staan om optimaal te boer.
In hierdie uitgawe gee Martiens du Plessis (bestuurder: landboustelsels en -projekte) riglyne oor oorlêlande en gewasgroei deur die groeiseisoen. Pieter le Roux (hoof- diere- en weidingswetenskaplike) deel wenke oor weidingsbestuur en dieregesondheid.
Akkerboupraktyke
OORLÊLANDE
Dit is nou die gepaste tyd om chemiese regstellings van oorlêlande te doen. Gegewe die koste van kalk en ander misstowwe, maak dit ekonomies sin om dit variërend te doen en slegs op dié gedeeltes regstellings te doen waar dit nodig is – in plaas daarvan dat die hele land teen ’n algemene peil bekalk of bemes word.
Daar is nou ook oorgenoeg tyd om verdigte sones in die lande by wyse van ’n penetrometer op te spoor en dan die regte bewerkings uit te voer vir die seisoen vorentoe. NWK Landboubestuursdienste se grondverdigtingsdiens is spesifiek vir hierdie doel ontwerp. Advies rakende voorgestelde bewerkingspraktyke is deel van dié diens.
GEWASGROEI
Februarie en Maart is die ideale tyd om die gewasprestasie te evalueer en probleemaspekte te identifiseer sodat dit reggestel kan word. Dit kan gedoen word deur wortelontwikkeling in profielgate te bestudeer en plantontledings te laat doen om die vlakke van plantvoeding te evalueer. Satellietbeelde is ook van waarde om gebiede in lande te identifiseer wat onderpresteer. Profielgate en plantontledings kan spesifiek in dié gebiede gedoen word.
Ondersoek nou die gewasse vir siektes en plae en indien nodig, neem aksie om dit te beheer. Let veral op na grysblaarvlek en noordelike blaarskroei op mielies, hoekige blaarvlek op sonneblom en vroeë- en laatblaarvlek op grondbone. Insekplae wat dopgehou moet word, is landmeterruspes op sonneblom en bolwurm op sojabone. Sclerotinia op beide sonneblom en sojabone is tans nog ’n onbeheerbare siekte. Skakel gerus jou landboukundige by Landboubestuursdienste om jou hiermee by te staan.
Opgedateerde satelliet- en NDVI-beelde van die hele NWK-bedieningsgebied word elke vyf dae op die NWK Online-portaal bygevoeg. Dit kan gratis met ’n selfoon, tablet of rekenaar bekom word ná registrasie op die toepassing. ’n Skakel hiervoor is beskikbaar op NWK se webbladsy. Die produsent se lande moet korrek aan die toepassing gekoppel word om die volle funksionaliteit daarvan te ontsluit. Kontak jou silobestuurder om die koppelings van lande te doen of regstellings te maak.
Indien die boerdery se chemiese presisie by NWK Presisieboerdery gedoen is, is dit ook op die NWK Online-portaal beskikbaar en kan dit ook in die lande gebruik word om probleme by swak presterende kolle te identifiseer.
Grondkaarte is ook in proses om op dié portaal gelaai te word en kan dan ook gebruik word om die gewasprestasie in sekere gebiede te verklaar.
KONTAK ONS
Skakel NWK Landboubestuursdienste by 018 633 1143 en word deel van hul suksesvolle presisieklante om toegang tot die groot verskeidenheid tegnologiese dienste te kry.
Weidings en voeding
- Die tweede bemesting kan nou gedoen word indien die bemesting van aangeplante droëlandweidings in twee toedienings gedeel was en dit genoeg gereën het.
- Finale voorbereidings vir Februarie-aanplantings moet ook nou gedoen word. Verseker ’n onkruidvrye, fyn en goed voorbereide saadbed, waarvan die voedingstofstatus reeds reggestel is, om in te plant.
- Vleikampe kan nou rus om moontlik later nog ’n keer benut te word of uit te groei en saad te skiet. Vee kan voortgaan om die soetveld te benut. Suurveld behoort reeds opgevreet te wees. Laasgenoemde begin nou uiters onsmaaklik raak.
Dieregesondheid en bestuur
SKAPE
- Die skaapdekseisoen is pas verby of byna verby. Dragtigheidsondersoeke kan vanaf drie weke ná die einde van die dekseisoen gedoen word.
- Meerlingooie moet voor en ná lamtyd in ’n spesiale bestuursgroep geplaas word.
- Geen inentings met lewendige entstowwe moet tydens dragtigheid gedoen word nie, aangesien dit tot embrio-afsterwing of -afwykings kan lei. Raadpleeg jou veearts indien sulke inentings nodig is.
- Ontwurming moet strategies gedoen word. Doseer vir die regte parasiet op die regte tyd en doseer slegs diere wat besmet is. Hou rekord daarvan en selekteer teen diere wat chronies besmet raak.
BEESTE
- Beeskuddes behoort ook nou in hul dekseisoen te wees en verse moet reeds ’n maand voor die koeie gedek wees. Dragtigheidsondersoeke kan vanaf twee maande ná dektyd gedoen word.
- Voorbereidings en die aankoop van entstowwe vir inenting teen besmetlike misgeboorte kan nou gedoen word. Verse behoort die Stam 19-entstof op die ouderdom van vier tot agt maande te ontvang.
- Beeskuddes moet ’n somerlek (P6 of P12, 50/50 gemeng met sout) ad lib ontvang.