Dis begin Desember 2022. Die somergraanprodusente werk van vroegdag tot laatnag om die grane in die grond te kry. Sommige plant sommer deurnag. Daar is nie nou tyd om te mors nie.
Hierdie ywerige, soms angstige, geskarrel om die oes te plant voor die vensterplanttyd in Noordwes verby is, is aansteeklik. Dis kompleet asof daar daagliks weer nuwe energie by ons produsente beskikbaar is. Natuurlik is daar ook laagtepunte, wanneer die gedruk teen tyd gesaboteer word deur ’n ernstige breek op ’n noodsaaklike trekker of werktuig, of wanneer die reën vir ’n tydperk wegbly en die plantvog min raak.
Die hoë insetkoste maak dinge natuurlik nie makliker nie, want dit is net té duur om oor te plant. Dit moet die eerste keer reeds suksesvol wees. Dit mag ook wees dat die tyd uitloop om ’n tweede keer te plant… en dan is dit amper komies as sommige van die landbou se insetverskaffers alreeds hulle Kerskouse opgehang en teruggeskakel het na ’n baie lae rat – gereed vir die Kersreses en skynbaar min gepla deur die dringendheid van die taak voorhande vir die produsent, wat sy aanplantings afgehandel moet kry.
Voorlopige aanduidings is dat Noordwes-produsente hierdie seisoen heelwat meer sojabone gaan aanplant. Dit blyk dat hierdie uitbreidings moontlik ten koste van sonneblom mag wees. Dis te verstane, gegewe die Sclerotinia-probleme wat die vorige seisoen oral kop uitgesteek het en die verwagting van ’n nat opvolgseisoen.
Dis veral opmerklik dat sojabone al verder wes aangeplant word en dat goeie sukses in die meeste gevalle daarmee behaal word. Dit word grootliks aan verbeterde produksiepraktyke toegeskryf. Die Nasionale Oesskattingskomitee rapporteer ook ’n verwagte betekenisvolle vermeerdering in die nasionale oppervlak onder sojabone.
’n Mens wil onwillekeurig vra of die land hierdie geweldige uitbreiding van sojaboonoppervlaktes kan hanteer. Sedert instellings soos die Proteïennavorsingstigting (PNS) ’n klompie jare gelede verskeie inisiatiewe bekendgestel het om veral sojaboonproduksie te bevorder, is die oppervlak onder hierdie gewas reeds meer as vyf keer groter.
Die vernaamste drywer vir hierdie uitbreidingstrategie was die geweldige behoefte aan proteïenryke grondstowwe soos soja-oliekoek. Groot hoeveelhede hiervan moes voorheen noodgedwonge ingevoer word en plaaslike produksie was die antwoord hierop. Waar staan ons deesdae hiermee?
Hierdie afgelope seisoen is reeds gekenmerk deur wesenlike surplusse bo die plaaslike verbruik en dié tendens kan in die 2022/2023-seisoen voortgesit word. Dit skep waardevolle geleenthede vir uitvoere en volgens die Suid-Afrikaanse Graan- en Oliesadehandelsorganisasie (SACOTA Nuusbrief, 2 Desember 2022) kan ’n beraamde 330 000 ton in die 2022/2023-seisoen uitgevoer word na bestemmings soos Maleisië, Indonesië en Thailand.
Die 2023/2024-seisoen se uitvoere kan soveel as 500 000 ton beloop, mits ons uitvoerhawens dit kan hanteer. China, Egipte en Indonesië is moontlike bestemmings vir hierdie uitvoere.
Volgens Agbiz (South Africa’s agriculture export drive is not a straightforward path, Sihlobo W, 30 November 2022) is daar in die eerste agt maande van vanjaar 6% meer landbouprodukte uitgevoer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dit was veral sitrus, mielies, neute, wyn, suiker, appels, pere en druiwe wat die sleutelrolspelers was.
Dit is vir produsente in Noordwes belangrik dat daar heelwat belangstelling is vir die diepsee-uitvoer van witmielies. Sekere rolspelers in hierdie mark is van mening dat witmielie-uitvoere van sowat 1 miljoen ton in die komende jaar moontlik is. Dis ’n reuse verbetering op die 174 000 ton gedurende die 2021/2022-seisoen.
Die meerderheid hiervan gaan na Mexiko verskeep word, terwyl Kenia ook nou ’n moontlikheid is nadat hulle GMO-beperkings opgehef is. Hierdie mark kan tussen 700 000 ton en 1 miljoen ton beloop, maar die plaaslike aanbod sal waarskynlik nie aan hierdie aanvraag kan voldoen nie.
Ten spyte van soveel druk op die plaaslike landboubedryf om winsgewend te bly, die logistieke en arbeidsvraagstukke aan te spreek, en klimaatsveranderinge in die boerderyplanne te verdiskonteer, blyk dit tog dat dit relatief goed gaan. Deur die beskikbare uitvoergeleenthede ook ten volle te benut, gaan die landboubedryf voortgesette belangrike bydraes maak tot die land se ekonomie.