Ná meer as twee weke sedert sowat 40 000 van Herman du Preez (38) se kuikens tydens ‘n kragonderbreking versmoor het, is die stukkende transformator steeds nie vervang nie. Dié transformator van die Coligny-substasie wat Herman se plaas op Gruisfontein van elektrisiteit moet voorsien, het al op 14 Desember gebrand.
Mariaan Hendriks, ‘n boervrou van die omgewing, asook Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri NW, het dit sedertdien verskeie kere aan Eskom gerapporteer. Hul pleidooie het op dowe ore geval en sowat ‘n maand later het ‘n reuse-ramp Frangipani-boerdery getref met die massavrekte van dié kuikens.
Nadat die transformator gebrand het, het Eskom wel die foutiewe Coligny/Putfontein-lyne met dié van Makokskraal en Opraap verbind. Sedertdien ervaar Herman en ander produsente in die omgewing egter geweldige wisselinge in die aantal volts van elektrisiteit wat hierdeur loop. “Op, af, op, af… Dat ons motors verloor in hokke, dompelpompmotors op boorgatte. Ons kan nie besproei nie. As jy wel krag het, dan werk die goed nie,” het Herman vertel.
Die Frangipani Boerdery het ‘n saai- en hoenderkomponent en sluit ook ‘n Bonsmara-kudde en Simentalerstoet in.
‘n Grusame vonds
Die oggend van 17 Januarie het soos enige ander oggend op Gruisfontein begin. Toe die werkers omstreeks 06:00 na die hokke is om na die kuikens om te sien, het hulle egter ontdek dat die UPS van die rekenaar wat die temperatuur en lugsirkulering in een van die 20 hokke beheer, nie in werking getree het ná ‘n kragonderbreking die vorige aand nie.
Die rekenaar was vir langer as vier ure buite werking en sowat 40 000 kuikens het gevolglik versmoor. Slegs die kuikens aan die voorkant van die hok (sowat 17 000) het bly leef danksy panele wat oopgegaan en ‘n bietjie lug deurgelaat het.
Op video’s wat daardie oggend geneem is, kan gesien word hoe van dié 17-dagoue kuikens verskrik tussen die karkasse van die dooie kuikens rondhardloop. Die dooie kuikens is met kalk in ‘n diep gat in die grond toegegooi.
Daar vrek egter steeds daagliks van die kuikens wat wel bly leef het, omdat hulle longe weens die suurstofnood beskadig is.
Eskom het min te sê
“Hierdie skade, wat nie net ek het nie, wat ons bure het, landswyd… Hierdie hoenders wat op so ‘n wreedaardige manier versmoor het, wat hartverskeurend is, wat in jou siel in knaag, wat jy sien voor jy gaan slaap in die aand. En niemand van Eskom bel jou nie,” sê Herman verslae.
Eskom-werkers het wel op 19 Januarie opgedaag om die volts hoër te stel en ‘n dag later toestelle geïnstalleer om die kragtoevoer te meet. “Hulle het nie gesê hulle kom nie. Sou die Coligny/Putfontein-lyn wel eendag herstel word, wat gaan met hierdie volts gebeur? Alles gaan weer brand,” het Herman bygevoeg.
Eskom ontken egter dat hulle nog nie in kontak met Herman was nie en het by monde van hul woordvoerder, Sikonathi Matshantsha, gesê dat Eskom wel die eerste keer gereageer het toe die kliënt dit onder hulle aandag gebring het. “Eskom het alles gedoen wat nodig is om die geleentheid aan te spreek en alle prosesse is aan hom (Herman) uitgelig. Enige uitstaande werk word deur Eskom geprioritiseer.”
Herman sê dis ‘n leuen. “Hulle was nie met my in kontak nie.”
Eskom is ook uitgevra oor gerugte dat ‘n kontrakteur wel aangestel en betaal is om die transformator te vervang en waarom dit nog nie gedoen is nie, waarop Sikonathi bloot geantwoord het: “Eskom is in die proses om die transformator by die substasie te vervang.”
Sikonathi het bygevoeg: “Eskom is reeds besig om die fout te herstel. Alle kliënte word vanaf ‘n alternatiewe bron van krag voorsien.”
Herman het bygevoeg dat hy maandeliks meer as R100 000 by Eskom spandeer en moet dan tydens fase-6 beurtkrag tot tien ure per dag sonder elektrisiteit klaarkom. “Dit is abnormaal. Dit is absurd.”
Omvang van die verlies eers later bepaal
Herman sou die geaffekteerde hok se kuikens hierdie week, wanneer hulle 31 dae oud sou wees, aan die abattoir lewer. Eers dán sal hy die werklike verlies van die kragonderbreking kan bepaal.
“Die diesel en steenkool wat ek gebrand het om hulle op daardie ouderdom te kry. Doppe. Arbeid…”
Die voortslepende kragonderbrekings plaas egter voortdurende druk op die slagpale en nie al die hoenders kan op tyd geslag word nie. Herman verduidelik dat kuikens gevolglik soms eers op 39 dae oud geslag kan word. “Die slagpale is egter nie ingerig om sulke groot kuikens te slag nie en kliënte soek in elk geval nie sulke groot hoenders nie.”
Boonop moet bykomende voer gemaak word om kuikens ouer as 31 dae te voer, wat ook voermeule onder druk plaas.
“SAPA (Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging) het aangekondig dat hulle in Desember 10 miljoen dagoue kuikens moes doodmaak weens die voortslepende beurtkrag. Tot 70 KFC-winkels het landswyd gesluit. Ons kan dit nie volhoubaar doen nie.”
Onafhanklike kenners is besig om verslae op te stel oor die kragonderbreking. Of Herman se versekering gaan uitbetaal, sal net die tyd leer, aangesien daar beperkings op kragstuwings is. Hy beoog om sake-onderbreking te bewys. Hy is wel van plan om ‘n eis teen Eskom in te stel.
Sonkrag ‘n duur alternatief
Herman het kragopwekkers, rugsteun-kragopwekkers asook drabare kragopwekkers wat by die hokke ingeprop kan word in geval van kragonderbrekings. Tydens fase-6 beurtkrag, moet hy R14 000 per dag vir diesel vir sy kragopwekkers opdok, nét om sy hoenderboerdery aan die gang te hou.
Infrastruktuur om sy 20 hokke (waarvan die grootste ‘n kapasiteit vir 57 000 kuikens het) vir slegs twee ure van sonkrag te voorsien, gaan hom sowat R6 miljoen uit die sak jaag.
Hy ondersoek tans alternatiewe vir kragvoorsiening, maar is vasbeslote om steeds uit te brei. Herman het sedert NWK Arena se besoek aan Gruisfontein in Maart verlede jaar nóg ‘n 16 ha-spilpunt opgesit en gaan binnekort ‘n 21ste hoenderhok oprig.
Henwill se splinternuwe voeraanleg, met ‘n kapasiteit van 12 000 ton per maand, gaan ook eersdaags in werking tree. “Dit is ten volle geoutomatiseer en bykans heeltemal stofdig. Die rekenaarstelsels word vanuit Nederland gemonitor.”
Hoe lyk die toekoms?
As besproeiingsprodusent sukkel Herman ook om voor te bly te midde van die beurtkrag en bid nou vir reën.
Die gesprek draai dan na dienslewering in die platteland oor die algemeen. Paaie is in ‘n benarde toestand. Daar ry daagliks sowat vier vragmotors na en van Herman se plaas om steenkool, voer en hoenders te vervoer. “Ek moet 24 uur trekkers op bystand hê om hulle uit te sleep as hulle in gate vasval,” voeg Herman by.
“Lichtenburg is ‘n klein plattelandse dorpie en 80% afhanklik van landbou. Hoe moet ons werk skep en positief bly? Hoe moet ons uitbrei en ‘n nalatenskap laat vir ons kinders?”
“Jy moenie werklikheidsvreemd wees in die lewe nie. Kyk die realiteit in die oë. Ons realiteite lyk op die oomblik nie goed nie. Nie as voedselprodusente vir Suid-Afrika nie.”
Tog bly Herman positief en is hy oorgehaal om sterk te staan. “Ons sál hierdeur kom. Ons is al deur erger. Ek is eintlik bly dit het met my gebeur. Ek het ‘n spreekbuis regoor die wêreld geword vir boere wat onder hierdie moeilike omstandighede kos moet produseer.”