Baie produsente het met hul hande in hul hare gesit oor hoe hulle ondanks die stygende kunsmispryse steeds optimaal kan bemes. Die antwoord is natuurlik nie om minder te bemes nie – veral nie met die afgelope twee jaar se goeie opbrengste, wat redelik baie kunsmis uit die grond onttrek het, nie.
Die einde van 2021 was die begin van ingrypende insetprysstygings, veral dié van kunsmis. Gelukkig het hoë kommoditeitspryse die uitwerking van die prysstygings op winsmarges effens verlig.
Waarom het die kunsmispryse gestyg?
- Natuurlike gas se pryse was reeds voor die Russiese oorlog teen Oekraïne ongebalanseerd. Europa en die Verenigde State van Amerika (VSA) het ’n baie koue winter in 2021 beleef, en die natuurlike gasmarkte het vinniger as verwag herstel ná die Covid-19-pandemie. Rusland, wat gewoonlik een derde van Europa se gas verskaf het, het sy uitvoere na Europa teen middel 2021 verminder. Dit alles het tot hoër natuurlike gaspryse gelei. Die stygende pryse van natuurlike gas het gelei tot die dalende produksie van ammoniak – ’n belangrike inset vir stikstofgebaseerde kunsmisstowwe.
- Stygende pryse van steenkool in China, wat ’n belangrike grondstof vir ammoniakproduksie is, het kunsmisfabrieke ook gedwing om hul produksie te verminder, wat tot die styging in ureumpryse bygedra het.
- Hoër pryse van ammoniak en swael het ook die fosfaatpryse laat styg.
- Hiermee saam het China die uitvoere van kunsmis opgeskort om binnelandse beskikbaarheid te verseker.
- Die prys van spesifiek ureum het verder gestyg weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, aangesien Rusland vir ongeveer 16% van die wêreld se ureum-uitvoere verantwoordelik is.
Laer kunsmispryse
Ten tyde van die skryf van hierdie artikel het die kunsmispryse weens die volgende redes gedaal:
- Wintertemperature in die VSA en Europa was in 2022 warmer as gewoonlik, wat tot ’n verlaagde vraag na natuurlike gas gelei het. Dít, asook die verhoogde produksie van natuurlike gas, het die pryse laat daal. In Desember 2022 het die Europese Unie ’n prysbeperking op energiekoste geplaas om verbruikers te beskerm.
- Die dalende pryse van natuurlike gas en mielies het tot dalende kunsmispryse gelei. Watervrye ammoniakpryse hou fundamenteel verband met die mielie- en natuurlike gaspryse. Vanaf 2008 tot 2023 het maandelikse watervrye ammoniak- en mieliepryse ’n korrelasie-koëffisiënt van 0,75 gehad, en watervrye ammoniak- en natuurlike gaspryse ’n korrelasie-koëffisiënt van 0,64.
- Die korrelasie-koëffisiënt is ’n aanduiding wat die neiging van twee veranderlikes meet om ’n lineêre verband tussen mekaar te vind.
Die pad vorentoe
Die VSA verwag dat die aangeplante oppervlak tussen 2022 en 2023 met 4% gaan verhoog, met hoofsaaklik mielies wat aangeplant word. Wisselbou tussen sojabone en mielies word toegepas in ’n poging om grondgesondheid te handhaaf.
In 2022 het Amerikaanse produsente baie sojabone geplant as gevolg van die hoë kunsmispryse. Noudat die kunsmispryse daal, kan produsente weer na mielies terugkeer. Mielies lewer ook meer betroubare opbrengste as sojabone.
Amerikaanse kunsmispryse is steeds hoër as die afgelope tien jaar se gemiddeld, maar 40% laer as verlede jaar hierdie tyd. Indien meer mielies geplant gaan word, gaan die vraag na kunsmis styg, wat deur ’n styging in die kunsmispryse gevolg sal word. Brasilië beplan ook om 11% meer mielies te produseer, wat bykomende druk op die kunsmisprys sal uitoefen.
Samevatting
Kunsmispryse is tans stabiel, maar broos. Groot prysdalings word nie verwag nie en die pryse sal waarskynlik steeds hoër wees as voriges, wat aanplantings onder finansiële druk sal hou.
Dit is belangrik om deurentyd die ekonomiese markte dop te hou om te probeer vasstel wat die kunsmispryse beïnvloed en besluite dan daarvolgens te neem. Die kans op ’n styging in die kunsmispryse is groter as dié van ’n daling en kan deur enige ontwrigting in die mark veroorsaak word – van toenemende wêreldspanning tot voorsieningskettings wat ontwrig word.
Bronnelys
- Cooban A, 2023. Europe’s natural gas prices fall to 18-month low. https://edition.cnn.com/2023/02/17/energy/europe-gas-price-18-month-low/index.html [6 Maart 2023]
- Mick Dehlinger K, 2023. Brazil corn exports to surge in 2023. https://www.dtnpf.com/agriculture/web/ag/news/business-inputs/article/2023/02/15/brazil-poised-become-worlds-largest [7 Maart 2023]
- Pescatori A and Stuermer M, 2022. From abundance to thirst. https://www.imf.org/en/Publications/fandd/issues/2022/12/from-abundance-to-thirst-Pescatori-Stuermer [3 Maart 2023]
- Quinn R, 2023. DTN retail fertiliser trends. https://www.dtnpf.com/agriculture/web/ag/crops/article/2023/02/08/uan-fertilizers-lead-prices-lower [3 Maart 2023]
- Schnitkey G, Paulson N and Balz J, 2023. Fertiliser prices and company profits going into spring 2023. https://farmdocdaily.illinois.edu/2023/02/fertilizer-prices-and-company-profits-going-into-spring-2023.html#:~:text=Increases%20in%20these%20companies’%20profits,led%20to%20higher%20fertilizer%20prices [3 Maart 2023]
- Trading Economics, 2023. https://tradingeconomics.com/commodity/urea [3 Maart 2023]
- Weinraus M, 2023. US farmers plan to go big on maize planting. https://www.businesslive.co.za/bd/world/americas/2023-02-06-us-farmers-plan-to-go-big-on-maize-planting/
#:~:text=Growers%20eye%20lower%20prices%20of%20fertiliser%20and%20hope%20for%20a%20bumper%20crop&text=Chicago%20%E2%80%94%20US%20farmers%20are%20planning,supplies%20near%20a%20decade%20low [7 Maart 2023]