Varke soos ons hulle vandag ken, het ’n lang ontwikkelingspad geloop om te eindig by die mak spesie waarmee vandag wêreldwyd geboer word. Volgens argeologiese navorsing het die makmaakproses van varke reeds meer as 11 400 jaar gelede begin. Dit blyk ook dat hierdie proses met tye gelyktydig en onafhanklik in verskeie dele van die wêreld plaasgevind het. Na beraming word sowat 1,5 miljard varke wêreldwyd jaarliks vir menslike gebruik geslag. Die bedryf het werklik indrukwekkend gegroei weens die talle gebruike van varkprodukte.
Ek het onlangs ’n kosbare Amerikaanse verhaaltjie gelees waarin die hoofrolspelers ’n tienjarige seun (Wilbur Chapman) en ’n vark genaamd Pete is. Die storie speel af in 1913 in ’n klein dorpie in Kansas met die naam White Cloud.
William Danner van die Amerikaanse Missie vir Melaatsheid het die dorpie besoek om finansiële skenkings te werf vir die pasiënte wat hulle moes versorg. Dit het op daardie stadium sowat $25 gekos om een pasiënt vir ’n jaar te onderhou. Die inligting wat Danner met die inwoners gedeel het, het die Chapman-gesin so diep geraak dat hulle onderneem het om $250 vir hierdie saak bymekaar te maak. Hulle het dadelik aan die werk gespring, met die jong Wilbur aan die spits van sake. Hulle het deur die gemeenskap gewerk en kon $225 bymekaarmaak om aan Danner te oorhandig voordat hy weer vertrek het.
Wilbur was teleurgesteld dat hulle nie die teiken van $250 kon bereik nie. Danner was egter só dankbaar vir die bydrae en beïndruk met die seun se poging dat hy vir hom $3 gegee het om dankie te sê.
Die jong Wilbur was vasbeslote om steeds die oorblywende $25 in te samel. Hy koop toe ’n varkie met die geld wat hy by Danner gekry het – toevallig vir $3. Hy noem die varkie Pete en begin hom vetvoer vir die mark. Toe die vark gereed is, vat hy hom na ’n veiling toe en verkoop die vark – weer toevallig vir $25 – presies die bedrag wat hy nog benodig het om die oorspronklike teikenbedrag te bereik.
Toe hy die geld vir Danner stuur, was die personeel by die Missie vir Melaatsheid só geïnspireer deur die jong man se passie dat hulle begin het om metaalspaarvarkies te vervaardig en dit wêreldwyd te versprei om geld vir hulp aan melaatse pasiënte in te samel. Wilbur is in 1938 vereer met die onthulling van ’n monument in sy tuisdorp ter ere van sy inisiatief en passie vir hierdie saak.
Hoewel hierdie verhaaltjie nie baie met die landboubedryf te make het, buiten vir die varkie wat een van die rolspelers was, het dit tog waarde omdat dit ’n inspirerende verhaal is van iemand wat geglo het dat hy sy doelwit kan bereik en tweedens nie moed opgegee het toe dinge nie uitwerk soos hy verwag het nie. Almal van ons kan hieruit ’n paar lesse leer.
Die landbou as bedryf gaan gereeld gebuk onder moeilike omstandighede. Soms reën dit te min. Vir ander is die reën weer te veel. Die onvoorspelbaarheid van die natuur waarmee ons moet rekening hou in landbouproduksie, veroorsaak gereeld dat die uitkoms van ons verwagtinge nie realiseer soos ons dit beplan het nie.
Internasionaal het die varkbedryf die afgelope tyd onder geweldige druk verkeer, veral met die gereelde uitbreking van Afrika-varkgriep (ASF), wat telkens ’n geskarrel afgegee het om dit te beheer en skade aan die bedryf te beperk.
Plaaslik het varkprodusente deur middel van hulle bedryfsorganisasie, die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAPPO), etlike suksesse behaal in die uitbreiding van die bedryf. Verder sluit hulle hooffokuspunte vir 2023 die uitbreiding van verbruik van varkvleis, die verbetering van die vertroue/integriteit van hulle produk en volhoubaarheid van die bedryf in. Die wyse waarop die uitdagings deur hierdie bedryf die hoof gebied word, is nogal ’n voorbeeld wat nagevolg kan word.