Lede van Landbouskrywers SA het NWK op 21 en 22 Junie besoek om NWK Online se eksterne bekendstelling by te woon. Die invloed van beurtkrag op die maatskappy se werksaamhede, asook die ontwerp van NWK se unieke graanbunkerstelsels, is ook tydens dié mediatoer uitgelig.
Nicolene Smalman (kommunikasiebeampte van NWK) het ’n paneelbespreking gelei om die praktiese toepassing van die onderskeie bestuursfunksies op dié toep te illustreer. Leon Stoltz (assistentbestuurder van stelsels by NWK se IT en ontwikkelaar van NWK Online), Eric Louw (bestuurder van presisieboerdery by AgTech@NWK), Pieter Coetzer (senior bestuurder van Handel), Jurie Bezuidenhout (senior portefeuljebestuurder by Graanbemarking), Biebies Smith (finansieringsanalis) en Attie Smook (produsent van die Delareyville-omgewing) het aan die gesprek deelgeneem.
Theo Rabe (groephoof- uitvoerende beampte van NWK) het hierna die invloed van beurtkrag op NWK se werksaamhede bespreek en die astronomiese uitgawes wat dit tot gevolg het, uitgelig. NWK se hoofkantoor is gevolglik volledig met sonpanele, wisselrigters, batterye en ’n kragopwekker toegerus. Sonkragstelsels word ook by die silokomplekse in Sannieshof, Ottosdal en Delareyville opgerig.
Tydens die sessie met die media het Theo onthul dat Epko beplan om krag op te wek deur die sonneblomsaaddoppies wat as afvalproduk by die pers versamel, te verbrand. Dié kragopwekkingsaanleg sal na beraming sowat R200 miljoen kos en 2,2 megawatt se krag kan opwek.
Die bestuurder van NWK se Silodienste, Ian Britt, het die volgende dag die graanbunkerstelsel by Nooitgedacht se silo’s aan die landbouskrywers gaan wys. Ian, ’n meganiese ingenieur, het dié stelsel self ontwerp. Hy het verduidelik dat, hoewel dit nie nuwe tegnologie is nie, dit bestaande tegnologie van ’n silo inspan om die werking van ’n graanbunker meer presies en doeltreffend te maak.
Stapelaars word gewoonlik gebruik om graan van bo na onder in bunkers te stort, maar dit lei tot grootskaalse vermorsing omdat dié hope se hellings dan té skuins neig. Ian het gevolglik stellasies met vervoerbande bokant die graanbunkers opgerig. Graan word nou op hierdie vervoerbande geskuif en met ’n statiese stortbak na onder geledig, wat Ian en sy span silobestuurders beter beheer oor die vorming van die hope graan bied.
Marianna du Plessis, ’n lid van Landbouskrywers SA wat getaak is met bemarking by AgriX, het ná afloop van die mediatoer gesê: “NWK is planmakers en groot verskilmakers in die gemeenskappe waar daar verteenwoordiging is. Die boere het julle nodig, bou so voort.”