Ek word die oggend van 19 Junie kort voor 05:00 wakker ná ’n baie vreemde droom waarin ek droom ek lees ’n koerantberig oor ’n plaasmoord op ’n familielid aan vaderskant. Die artikel meld dat daar dekades gelede óók ’n moord op dieselfde plaas gepleeg is en dat ’n klein dogtertjie ’n ooggetuie was. Daar is ’n swart en wit foto van die dogtertjie langs die berig. Dis my ma as klein dogtertjie.
Tydens die droom ervaar ek vrees en skrik wakker. Ek wonder nie eens hóékom ek hieroor gedroom het nie. Ek weet presies: Dis weens die talle mediaberigte die vorige twee weke oor agt plaasmoorde binne agt dae in vyf provinsies oor die land.
Lees dit weer: Agt plaasmoorde, binne agt dae, in vyf provinsies.
Ek staan op, oefen oudergewoonte en maak reg vir werk. Op kantoor maak ek dadelik ’n afspraak met my sielkundige, want ek weet dié droom is ’n simptoom van post-traumatiese stresversteuring (PTSV) wat weer opvlam. Buiten dat ek die slagoffer van twee geweldsmisdade was, was ek teenwoordig by verskeie wrede, ontstellende tonele in my loopbaan as misdaadjoernalis. My redakteur het my destyds gewaarsku dat dit uiteindelik sy tol sou eis. Sy was reg…
Die trauma wat slagoffers van hierdie geweldsmisdade ervaar, asook diegene soos wetstoepassers, mediese personeel en joernaliste wat hiermee werk, is eenvoudig onbeskryflik. Tog ervaar die res van Suid-Afrikaners wat hiervan in die media lees, óók sekondêre trauma.
Dr Kobus Roux, ’n psigiater van Benoni, word op Netwerk24 aangehaal waar hy verduidelik dat die aanhoudende kyk na beelde en berigte van geweld die veg-of-vlug-reaksie in jou liggaam aktiveer. Jou liggaam en brein is dus heeltyd besig om voor te berei vir ’n bedreiging en skei ’n oormaat adrenalien en kortisol af. Hierdie twee hormone, in oormaat oor die lang termyn, kan direk tot PTSV lei.
Ons sê elke dag vir onsself: “Ten minste is ek nie verkrag nie. Gelukkig is ek nie geskiet nie. Ek leef nog.” Trauma bly egter trauma. Of jy dus eerstehands ’n geweldsmisdaad ervaar of bloot daarvan lees – as dit gevoelens van ontsteltenis by jou ontlok, is dit trauma. Die graad verskil net.
Is die antwoord om die TV af te skakel, koerante toe te vou en jou kop in die sand te druk? Miskien. Dis nou as jy kan saamleef met die feit dat jy dan grootliks oningelig deur die lewe sal gaan. Onbewus van die uitdagende en selfs lewensbedreigende omstandighede waaronder produsente kos op ons tafels moet sit.
My redakteur het my altyd gevra of ek okay is wanneer ek huilend van ’n toneel af teruggekeer het kantoor toe. Dan het ek geantwoord: “Ja, worry oor my die dag as ek nié meer huil nie.” Ek glo dit steeds. Ons moet begin worry as hierdie nuus ons nié meer ontstel nie. As dit jou nié meer met ’n hol kol op die maag laat nie. Dan is ons afgestomp. Dan aanvaar ons dit as normaal.
Dit is dus okay om nie okay te wees nie. En dis okay om vir hulp te vra.
Junie was ook PTSV-bewusmakingsmaand. Simptome sluit veel meer as net terugflitse van ’n traumatiese gebeurtenis in, soos nagmerries, woede-uitbarstings, probleme met jou geheue en disassosiasie (’n gevoel van verwydering van jouself en die res van die wêreld). Maak kontak met ’n sielkundige as jy vermoed jy of ’n geliefde het PTSV of kontak die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) by 0800 567 567.