Ten einde ’n goeie lewenskwaliteit te handhaaf, is dit belangrik om gesond op fisieke, emosionele en finansiële vlak te wees. Suid-Afrikaners het boonop met baie veranderlikes te doen wat hul lewenskwaliteit beïnvloed, soos besoedeling, misdaad en beurtkrag.
NWK het gevolglik besluit om ’n leefstyl-ekspo op 8 September 2023 by sy opleidingsentrum aan te bied waar kliënte en personeel eerstehands met uitstallers sal kan gesels om omvattende oplossings vir hul uitdagings te vind.
Maak oogkontak met uitstallers
Antoinette Barnard, ’n finansiële adviseur by NWK & IP Makelaars wat spesialiseer in lewensversekering en mediese fondse, het verduidelik dat hulle graag ’n geleentheid wou skep waar klante op ’n meer persoonlike vlak met versekeraars kan kommunikeer.
“Gewoonlik gesels boerekliënte en die breë publiek net met ons wanneer hulle eise moet indien en dit word voorafgegaan deur ’n negatiewe gebeurtenis.”
Uitstallers by die ekspo word die geleentheid gebied om self hulle produkte aan kliënte bekend te stel en laasgenoemde sal breedvoerig met makelaars kan gesels oor produkte wat die beste in hulle behoeftes sal voorsien.
“Versekeraars en mediese fondse is nou baie meer markgerig, met selfdiensportale waarvan die meeste kliënte nie kennis dra nie. Deur hulle hiervan te vergewis, kan albei die diensverskaffer en kliënt ’n meer gebruikersvriendelike en bevredigende ervaring hê.”
Charlene Human, bestuurder van vergoeding en voordele by NWK se Mensekapitaal, het bygevoeg dat hulle ervaar dat personeel dikwels oorweldig is deur die verskillende opsies waaruit hulle kan kies.
“Ná afloop van hierdie dag, glo ons dat personeel die regte vrae sal vra en ingeligte besluite sal neem oor watter produkte en dienste die beste na hulle en hul gesinne, se belange sal omsien.”
Uitstallers
Vir omvattende lewens-, besigheids-, korttermyn- en oesversekering, asook trauma- en begrafnisdekking sal kliënte kan gesels met gerekende ondernemings soos Liberty, Hollard Life, Bidvest Life, Agility Life, Fedgroup, Zazu, Old Mutual, Santam, SA Fire Insurance, Merx, Impac, Hollard en Western.
Finansiëlediensteverskaffers wat hier gaan uitstal, sluit in Rise, Metropolitan en Sanlam; terwyl Liggies High Performance Centre, Herbalife, Arrie Nel Pharmacy Group en Breathe Smart oplossings vir fisiese gesondheidsprobleme bied.
Bonitas en Medihelp, bied omvattende mediese fonds-opsies terwyl Momentum Health4Me en Stratum mediese versekering-opsies bied. Chaplaincy bied traumaberading vir almal in hul gemeenskap.
LegalWise bied regsdekking op verskeie terreine soos kriminele sake, siviele eise en arbeidsgeskille.
Alternatiewe kragoplossings, hommeltuie en brandbestryders sal ook uitgestal word.
Daar is inkleur- en kunskompetisies vir die jongspan en tieners waar lekker pryse soos ’n skootrekenaar, tablet en sportsak met oorfone gewen kan word.
Diegene wat gaan bywoon, kan uitsien na ’n feestelike atmosfeer met lekker kos en koffie, waar hulle in ’n ontspanne atmosfeer die volgende stap na goeie welstand kan neem.