Ná slegs vyf jaar op die plaas, was Mick Carroll een van die finaliste in Agri NW se Jongboer van die Jaar-kompetisie. Hy en sy broer, Pieter, moes ná hulle pa se dood die boerdery oorneem.
Wyle Peter Carroll (59) sou vandag sekerlik bars van trots oor sy seun, Mick (28), wat ’n waardige mededinger in Agri NW se Jongboer van die Jaar-kompetisie was. Peter was in 2022/2023 een van die toppunteverdieners in NWK se Lojaliteitsprogram. Mick en sy broer, Pieter (25), het dus ’n gevestigde boerdery geërf waarop hulle kan voortbou.
Hulle pa het egter dekades se ervaring in die bedryf gehad en met Peter se afsterwe weens kanker in November verlede jaar, was die broers nog nie eens vyf jaar op die plaas werksaam nie. Hulle moes dus die moeilike, dog verantwoordelike, besluit neem om die familie-onderneming só te posisioneer dat dit wat hulle moet bestuur by hul vermoëns en kapasiteit pas.
Mick vou sy hande om ’n glas op die tafel en verduidelik: “Ons siening was grootliks: ‘Hier is jou potjie wat jy het. Dit kan vol wees en as jy dit nie kan beheer nie, gaan jy dit begin verloor… Hier kom krake.’ Ons siening was eerder om die potjie kleiner te maak en dit bymekaar te hou, en dit mettertyd weer groter te maak.”
Hy meen dat hy en Pieter eerder stelselmatig hulle voete in die boerderybedryf sal vind en op hulle eie tyd vooruitgang sal maak. Tog het Mick sedert sy toetrede tot die familieplaas in 2017 reeds talle suksesvolle strategieë en tegnologieë, waaroor sy pa aanvanklik skepties was, geïmplementeer.
Die sterkste aantrekkingskrag
Mick het aan Hoërskool Lichtenburg gematrikuleer, met ’n groot liefde vir meganika en boekhouding. Hoewel hy meganiese ingenieurswese begin studeer het, het hy vinnig besef dat hy moontlik tot ’n loopbaan “agter ’n rekenaar” gedoem sou wees en het toe eerder oorgeskakel na B.Sc. Landbou, met die fokus op weiding.
Hy het aanvanklik ’n loopbaan in die privaatsektor oorweeg, maar Peter is in 2017 met kanker gediagnoseer en Mick het toe besluit om eerder by sy pa op die familieplaas aan te sluit. “Jy is gekweek vir die liefde van die boerdery. Dis iets wat ontwikkel is in ’n mens, wat sterker aantrekkingskrag kry as iets anders,” verduidelik Mick.
Hy boer alleen en gedeeltelik saam met Pieter. Mick verbou sonneblom, mielies en bitterkoring, en verskaf ook vrylopende Angus-beeste aan die slagmark vir ’n groot kettingwinkel in Suid-Afrika. Hy het ’n voerkraal opgerig en sy eie Charolais-stoet, Micksu, gevestig. Daar is ’n ook ’n klein skaap- en wildkomponent, en ’n vervoermaatskappy voeg verdere waarde tot die voorsieningsketting.
Nuwe lewe in die boerdery
Peter het eers baie mielies geplant en geenbewerking toegepas. Hy het later egter gemeen dat die risiko met Safex-verhandeling te groot raak en besluit om hom eerder op sy beeste toe te spits. Sugargraze is aangeplant vir kuilvoer.
Mick het met sy toetrede tot die boerdery in 2017 gesien dat die sonneblom goed vaar en in 2018 aan sy pa voorgestel dat hulle hierdie vertakking vergroot. Sy pa het hom die groen lig gegee en toe Mick in 2019 aan NWK se Jongboerprojek begin deelneem, het hy selfs meer sonneblom aangeplant. “Ek wou graag die sonneblom ’n derde van die saaikomponent maak. Die ander twee derdes was sorghum en ek het voorgestel dat ons nóg ’n derde met iets anders plant,” vertel hy.
In 2020 het hulle bittersorghum begin plant en groot welslae behaal. “Jy stroop dit en behaal ’n wins, en jou beeste kan dan op die oesreste wei.”
Binne slegs drie jaar het Mick se boerdery só gegroei dat hy sy eie planter en trekker moes koop. Peter was egter skepties, totdat Mick voorgestel het dat hy dié nuwe werktuie by hom kon huur. Toe Peter sien dat dié nuwe tegnologie tot verminderde vermorsing van saad en kunsmis lei en boonop minder arbeid verg, het hy sy eie ou planter verkoop en nóg ’n nuwe een gekoop.
Die winkelgroep wat hulle vrylopende diere aankoop se kontrak met die Carrolls stipuleer dat die diere sekere tye by die abattoir moet wees. Diere wat byvoorbeeld oor die draad spring en ander oponthoude was ’n groot kopseer, en die kontrak is gevolglik gewysig sodat diere wat slaggereed raak hul laaste 60 dae in ’n versendingskraal kan deurbring.
Daar is besluit om vir hierdie rede ’n voerkraal op die been te bring. Mick het van sy winste van die kuilvoer wat hy verkoop het, ingespan om dit op te rig. Hoewel die voerkraal tans ’n klein inkomste genereer, is Mick positief dat dit in die toekoms nog ’n groot bate sal word.
Hy het ook sedert 2019 met van sy spaargeld Charolais-stoetverse begin aankoop en gaan eersdaags sy eerste bulle bemark.
’n Gedugte span
Peter het trusts en ’n maatskappy binne die familieboerdery gestig waaronder elke seun kon boer. “My pa se ondervinding was dat ’n familieboerdery só groot kan raak dat elkeen sy eie rigting wil inslaan sodra daar kinders bykom. “Dit bly ’n uitdaging in enige familie-onderneming – om konflik en emosie daaruit te haal.”
Hoewel Mick en Pieter elkeen hul eie verantwoordelikhede op die onderskeie plase het, bestuur hulle dit saam en fokus elkeen op sy eie sterkpunte. Hulle sal byvoorbeeld hul eie kunsmis en veemedisyne koop, maar Pieter, wat ook B.Sc. Landbou gestudeer en op voeding en dieregesondheid gefokus het, sal dan sy én Mick se beeste inspuit. Mick hanteer weer die finansiële beplanning en bestuur, organiseer arbeid, hou die toerusting en infrastruktuur in stand en bemark die twee broers se graan.
Wanneer die noodlot ander planne het
Mick vertel sy pa was “streng op sy eie goed” en sy boedelbeplanning was deeglik. Tog meen hy vandag niemand kan ooit ten volle voorbereid wees op ’n ouer se dood nie. “Niemand sal ooit voorbereid wees vir elke detail nie. Iewers gaan jy met iets sukkel…”
Daar was ’n oorgang waartydens hy sy eie voete moes vind en nie meer na sy pa kon gaan vir raad nie. “Ander mense weet nie presies in watter skoene jy staan nie…” Dit was ook uitdagend om arbeiders wat voorheen slegs met sy pa gepraat het, se vertroue te wen en met hulle te onderhandel.
Peter was hardwerkend en het alles teen ’n vinnige pas gedoen. Hy het sy seuns geleer dat, as hulle kern sterk is, die res sal volg.
“Ek en my broer het besef ons is nog baie jonk en dat ons foute kan maak as ons nou al teen my pa se kapasiteit moes boer.” Daarom het hy en Pieter besluit om vir eers eerder in “laer ratte” vorentoe te gaan en op hulle eie pas groter hoogtes te bereik.
Jongboere se toekoms is blink
Mick sê sy deelname aan Agri NW se Jongboer van die Jaar was ’n groot leerproses. Dit het hom in aanraking met ander jongboere gebring by wie hy waardevolle lesse kon leer. Hy het ook onlangs NWK se Leiers in Landbou-program voltooi, waarvolgens die maatskappy jong boere met sekere vaardighede vir die sakewêreld toerus.
Mick erken dat faktore soos fase-6 beurtkrag en rasgedrewe arbeidsteikens in sektore soos landbou, produsente en spesifiek jongboere se toekoms bedreig. Tog, wanneer hy na buite stap en sien ’n dier het gekalf of gelam en hoe die graan groei, het hy hoop. “Dán sien jy: Iets word geproduseer, iets word gedoen.”
Hy meen ander kontinente het hul eie uitdagings. “Ek het baie familie en vriende oorsee, maar Suid-Afrika is uniek in wat hy doen. Daar (oorsee) is weer oorlog en hulle banke is onder druk. ’n Oom het eendag vir my gesê: ‘As jy niks doen nie, het jy moeilikheid; as jy iets het, het jy moeilikheid. So kies jou moeilikheid.’
Mick probeer op die positiewe fokus en die negatiewe dinge een vir een uitskakel. Hy is ook opgewonde oor die kultuur wat hy onder veral jong Suid-Afrikaners waarneem. “Dít is wat uiteindelik verandering gaan bring – nie die huidige regering of ’n nuwe politieke party nie.”
Samewerkingsooreenkomste tussen maatskappye soos NWK en inwoners is ook vir hom verblydend, en hy hoop dat hierdie ondernemings belastingvergunnings sal kry. “Dit kan magic veroorsaak binne tien jaar,” glimlag hy.