Op die vooraand van Vrouedag het my verloofde ons Boxer-teef, Laika (sowat twaalf maande), na die veearts geneem vir ’n sterilisasie. Sy is vroeg die oggend geopereer en om 15:30 het die veearts laat weet dat ons haar kon kom haal. Met my verloofde se aankoms by die veearts, is hy egter meegedeel dat sy ’n rukkie vantevore ophou asemhaal het en dat pogings om haar by te bring, onsuksesvol was.
Ek het in ongeloof geluister toe my verloofde bel en het my soontoe gehaas, haar lyfie nog warm toe ek oor haar vryf om afskeid te neem. Ons was absoluut verslae.
Daardie aand was ek ontroosbaar. Dit was veral erg toe ek in die studeerkamer kom waar sy en ons Boxer-reun, Spencer, altyd op hul kussinkies gelê en slaap het. Theuns Jordaan sing in Beautiful in Beaufort-Wes: “Ek het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf en soos ’n roeiboot al in die rivier af dryf.” Dis die beste hoe ek dié ontydige verlies kan beskryf.
Volgens ’n studie wat in die vaktydskrif Evolution and Human Behaviour verskyn het, is die rouproses en trauma van diegene wat ’n troeteldier verloor dieselfde as wanneer jy ’n geliefde (mens) aan die dood afstaan.
Die verhouding tussen ’n troeteldier en eienaar word in die studie met dié tussen ’n ouer en kind vergelyk. Wat die emosionele band tussen mens en dier selfs nog meer bevredigend maak, is die onvoorwaardelike liefde wat ’n dier vir sy/haar eienaar het, wat dikwels in menseverhoudings ontbreek.
Die dag ná Laika se dood gaan stap ons om tot verhaal te probeer kom. Spencer bly by die huis. Sy blou hals- en leiband hang langs die pienke van sy sussie. Ek sien nog nie kans om hom alleen uit te neem vir ’n stappie nie. Ons gesels oor hoe sy ons lewens in háár kort leeftyd verryk het. Ons voel gekul en ontnugter dat ’n ooglopende standaardprosedure hierdie aaklige nadraai gehad het.
Te midde van my hartseer, kan ek nie help nie om te sien hoe vrolik die geelvinkmannetjies aan nuwe nessies bou. My verloofde, ’n plantkundige, stop en wys my die bolletjies op takkies wat op die punt staan om te bot en grasgroen blaartjies na vore te bring.
Hoewel dit op daardie oomblik voel of jou wêreld tot stilstand gedwing is, wentel Moeder Aarde onverpoos om die son. Nóg ’n dag nader aan ’n nuwe seisoen. Nóg ’n dag nader aan ’n geleentheid om ’n nuwe asempie in die huis te verwelkom en nuwe herinneringe te vorm.
Mag hierdie lente jou bekoor soos ons Skepper stelselmatig ’n groen kombers oor die dorre een van die winter gooi. Mag die vroeë sonsopkomste jou inspireer om elke dag ten volle te benut. Mag jou hele wese blom soos ’n perskebloeisel, vasberade om ’n vrug voort te bring wat van Sy goedheid en guns in jou lewe getuig.