Dis weer dáárdie tyd van die jaar. Oktober het aangebreek en daarmee saam ook die tyd om my rubriek vir die laaste uitgawe van 2023 se Arena neer te pen.
Ek is hartseer hier waar ek sit. My beste skoolvriend (39) is drie dae gelede skielik aan natuurlike oorsake oorlede. Christiaan Labuschagne was diep gelowig en besig om lofprysing by ’n kerkkamp met sy kitaar en pragtige sangstem te begelei toe hy skielik inmekaargesak het. Die feit dat hy dood is terwyl hy gedoen het waarvoor hy lief was, bring darem troos.
Só dink ek aan al die gesprekke wat ons as tieners gehad het. Ons het ons diepste drome en vrese met mekaar gedeel in briefies wat ons in mekaar se hande gedruk het as ons klasse gewissel het. Ek dink aan sy jong weduwee en twee klein dogtertjies, en ’n Kersfees sonder ’n pappa wat op hulle wag. Hy gaan hulle nooit sien grootword nie. Hy gaan hulle nooit sien skitter op hul matriekafskeid of hulle weggee by hul troues nie.
Tyd is ons kosbaarste besitting. As ons dit eers géé – hetsy aan ’n persoon of ’n aktiwiteit – kry ons dit nóóit weer terug nie.
Ek dink aan hoe Christiaan sy tyd spandeer het. As die tweede oudste van sewe kinders, het hy vroeg in sy hoërskoolloopbaan douvoordag koerante met sy fiets afgelewer vir ’n sakgeldjie. Hy het Desember-vakansies oorsee gaan werk om sy studies te kon finansier. Naweke het hy vir Debonairs pizzas gaan aflewer met sy ou Volkswagen Fox, wat hy self gerestoureer het. In die aande het ons gaan jol, soms tot die son opkom.
Christiaan het die wêreld vol gereis en in sy 20’s die liefde van sy lewe ontmoet, en hulle het getrou. Hy was geweldig goed met sy hande en het nooit nee gesê vir nóg ’n projek nie. In 2014 het hy en sy vrou die tydskrif Tuis se regruk-kompetisie gewen deur ’n vervalle huis op ’n kleinhoewe wat hulle gekoop het, in ’n meesterstuk te omskep. Hy was ’n toegewyde gesinsman en nie bang vir harde werk nie. Daar was egter áltyd tyd vir die Here.
Sy skielike afsterwe dwing my om my prioriteite te heroorweeg. Hoeveel van ons is elke oggend douvoordag in die gimnasium, werk daardie ekstra uur of twee om alles gedoen te kry, vraatkyk Netflix terwyl ons ’n oog op Facebook hou en is dan saans te moeg vir Bybelstudie of om daardie kennis met kanker in gebed aan die Here op te dra?
Ons sê moeilik nee vir ’n naweek weg saam met vriende, maar ons lê graag in as die Bokke die vorige aand teen Ierland verloor het en ons te triestig voel om kerk toe te gaan.
Sou Christiaan sy laaste oomblikke anders wou spandeer as hy geweet het dit is inderdaad sy laaste? Ek dink nie so nie. Ek dink hy was presies waar hy wou wees. Die Franse filosoof, Jean de la Bruyere, het gesê: “Those who make the worst use of their time, are the first to complain of its shortness.”
Geniet ’n Christus-gevulde feesseisoen saam met jou geliefdes en koester elke oomblik. Bel daardie tannie van jou wat te oud is om te bestuur en nie saam kan kom kuier nie, en wens haar ’n geseënde Kersfees toe. Moet nooit ’n “Sien jou môre” ligtelik gebruik en as vanselfsprekend aanvaar nie. Want môre breek nie vir almal aan nie.