Ek sien onlangs ’n video van ’n motor wat op ’n redelike besige Amerikaanse pad ry. Daar is niks buitengewoon aan ’n voertuig op ’n besige pad nie, maar in hierdie geval is daar niemand in die bestuursitplek nie. Daar is ook niemand in die sitplek langsaan nie, maar wel ’n passasier op die agtersitplek en dis hierdie persoon wat die video-opname maak.
Die voertuig word heeltemal deur tegnologie beheer. Dit navigeer op die pad, neem die ander voertuie in die onmiddellike omgewing in ag en pas die snelheid en posisie van die voertuig daarvolgens aan.
Sulke tonele is enkele jare gelede slegs in futuristiese flieks gesien, waar die voertuie hulle passasiers flink kom oppik en by hulle eindbestemmings besorg sonder dat ’n potensiële ongeluk ontstaan. (Op ’n ligte noot kan dit moontlik ’n oplossing bied vir die roekelose, wettelose huurmotorbedryf in die land.)
In die landbou is die ontwikkeling van outonome trekkers, wat van ’n afstand af deur rekenaartegnologie beheer word, reeds ver gevorder. Hierdie operateurlose trekkers gaan in die afsienbare toekoms waarskynlik in werking op die lande gesien word.
Die asemrowende tempo waarteen tegnologie vorder, is ook duidelik in die landbou-omgewing sigbaar. Volgens ’n berig op Farming Portal (Maart 2023, Top 13 innovations in Agriculture/Farming 2023) het tegnologiese innovering ’n betekenisvolle rol gespeel om volhoubare voedselproduksiestelsels te vestig en om voedselsekerheid wêreldwyd te verseker.
Volgens hierdie bron is 13 van die toptoepassings in landbou die volgende: Die outomatisering van plaastake, blokkettings, Internet of Things (IoT), geografiese inligtingstelsels (GIS), kunsmatige intelligensie, herlewingslandbou, beheerde landbou-omgewings, landbou-robotte, onbemande vliegtuie, presisieboerdery, biotegnologie, grootdata en analises, asook konnektiwiteit.
Sommige hiervan word alreeds algemeen op plase aangewend en dit vergemaklik die daaglikse bestuur van take geweldig. Enkele minder bekende toepassings verdien egter ook meer aandag, aangesien dit ’n groot impak kan hê op die wyse waarop boerderye in die toekoms gaan funksioneer.
’n Gonswoord wat deesdae baie in die media gehoor word, is naspeurbaarheid. Dit behels die rekordhouding en openbaarmaking van die produksiemetodes en -prosesse van die produksiestadium af tot op die winkelrak. Hierdie inisiatief word grootliks gedryf deur die “reg” wat die verbruiker het om te weet hoe sy voedsel geproduseer is en of dit veilig is.
Die Walmart-groep het byvoorbeeld onlangs ’n blokketting-raamwerk genaamd Hyperledger in gebruik geneem, wat voedsel wat nie geskik is vir gebruik nie opspoor voordat dit by die verbruiker uitkom. Die plaaslike rooivleisbedryf is tans ook hard aan die werk om naspeurbaarheid te implementeer om produksieknelpunte soos bek-en-klouseer te bestuur.
Beheerde stelsels behels die produksie van landbouprodukte in ’n ten volle beheerde omgewing. Dit staan ook bekend as die vertikale produksie of binnenshuise produksie van veral plante deurdat daar aan al die plant se behoeftes voldoen word deur die water, bemesting en beligting kunsmatig te voorsien deur akwaponika, hidroponika en aëroponika. Die ooglopende voordele van hierdie stelsels behels die uiters ekonomiese gebruik van hulpbronne en ’n verlaagde of selfs totale staking van die gebruik van ongewenste chemikalieë en gifstowwe.
In die hedendaagse inligtingsgedrewe wêreld is alle bedrywe wat sukses wil behaal van ’n kennis- en datagedrewe benadering afhanklik. Produsente moet in staat wees om met ander produsente, hulle verskaffers en kopers, asook met die verbruiker, te kommunikeer. Mobiele toestelle, satelliete en internetplatforms dra by tot beter besluitneming en verbeterde produksieprosesse. Dit bied ook die geleentheid om groot data in die boerdery te gebruik en data-analises te doen.
Die wêreldbevolking is konstant besig om groter te word. Dit plaas alreeds onmoontlike druk op voedselvoorrade en terselfdertyd is verbruikersvoorkeure voortdurend aan die verander. Daar is toenemend stemme wat opgaan vir gesonder voedsel en groter pogings om die hulpbronne volhoubaar te gebruik. Nuwe tegnologie bied verskeie oplossings aan die landboubedryf om hierdie knelpunte aan te spreek.