“No man is an island, entire of itself; every man is a piece of the continent, a part of the main.” (John Donne, 1572-1631) Hierdie algemene Engelse sêding het die afgelope tyd gereeld in my kop gedraai. Na aanleiding van verskeie gebeure in die wêreld, wonder ek telkemale wat die uitkring-effek daarvan gaan wees. Dit was veral ná die skokkende gebeure in Israel op 7 Oktober 2023 en die daaropvolgende oorlog in Gasa wat ek oorweeg het waarheen hierdie intriges gaan ontwikkel.
Sonder om te veel in detail te verval, is dit veilig om te sê dat miljoene mense direk hierdeur geraak word. Mense wat in geheel niks met die oorlog te make het nie, het familie, huise, werkplekke en sommer hulle bestaan ook verloor.
Dit het nie lank geneem vir ander terreurgroepe om ook by die konflik betrokke te raak nie. Dis veral die toetrede van die Houti’s in die Rooi See wat nou voortdurend in die nuus is. Die onsinnige aanvalle op skepe op hierdie belangrike skeepsroete het ’n ernstige impak op die vervoer van landbouprodukte na verskeie wêrelddele. Vragmaatskappye moes noodgedwonge van die vragskepe herlei om onder Afrika deur na ander gebiede te seil. Dit het uiteraard geweldige implikasies vir die koste en tyd, terwyl veral bederfbare produkte ernstig hierdeur geraak word.
’n Ander gebeurtenis wat die nuus gereeld haal, is die betogings van produsente in die Europese Unie (EU). Aanvanklik wou dit lyk asof hierdie produsente sommer net moeilik is oor regeringsmaatreëls wat gewysig word, maar toe het dit duidelik geraak dat hulle eintlik vir hulle voortbestaan veg. Die behoefte aan beskerming teen invoere, verminderde EU-landbousubsidies en omgewingsregulasies wat kunsmis en chemikalieë se verbruik inperk, is van die redes vir die stakings.
Die plaaslike landbousektor het sterk handelsbande met die EU, aangesien sowat 27% van ons landbou-uitvoere na hierdie gebied gaan. Dit beteken dat Suid-Afrika ook direk deur EU-wetgewing geraak word.
Die plaaslike Nasionale Oesskattingskomitee het op 28 Februarie 2024 hul nuutste siening oor die 2024-somergraanoes vrygestel. Hiervolgens is die beplande mielie-aanplantings met 2,06% opwaarts aangepas teenoor 2023 se syfers. Sonneblomaanplantings is met slegs 0,68% verhoog, met ’n oes wat na verwagting 6,79% minder as die vorige jaar sal beloop. Die verwagte sojaboon-graanoes is 22,76% minder as die vorige jaar, maar dit sal steeds heelwat uitvoere benodig.
Met die heersende droogtetoestande wat reeds in ag geneem word, word sowat 14,4 miljoen ton mielies verwag, terwyl die plaaslike verbruik net sowat 12 miljoen ton is. ’n Beduidende gedeelte van hierdie surplus sal uitgevoer moet word. Transnet se Freight Logistics Roadmap verskaf riglyne oor die aksies wat benodig word om hulle prestasie te verbeter. Die hawens gaan egter oor die kort termyn nie hierdie uitvoere kan hanteer nie. Die skepe wat wel gelaai kan word, staan onmiddellik voor die vraagstuk oor watter roete gevolg moet word om nie in die oorlogsones te beland nie.
Europa en die Rooi See voel soms ver verwyderd van ons. ’n Mens is dikwels nie bewus van die implikasies wat dit op ons het as daardie streke hulle oorloë veg en hulle wetgewing wil wysig nie. As jy vir net ’n oomblik die groter prentjie analiseer, tref die nugtere besef jou dat die plaaslike landboubedryf, ons logistieke vermoëns, die blokkering van skeepsroetes en die oproer onder produsente in ander wêrelddele skakels in die volledige voedselketting is. Dit ráák ons! “No man is an island.”