’n Boervrou van die Schweizer-Reneke-omgewing wat kopgehou het tydens ’n plaasaanval en die boosdoeners in ’n kamer kon toesluit, is vasbeslote om ná die trauma op die plaas aan te bly.
Heibrie Kotzé (51) is vroegoggend op 6 Junie 2023 wreedaardig in haar huis oorval. Tog gaan sy en haar man, Tommie (53), op die plaas Turflaagte aanbly waar hulle met gesaaides, beeste en skape boer.
In die daaropvolgende maande is minstens drie mense in plaasaanvalle in die omgewing dood. Netwerk24 het berig oor die aanval op Frik (75) en Alida (69) Clapton op 9 November 2023 op hul plaas in die Reivilo-distrik. Alida is vermoor en Frik is ernstig beseer. Arrie Smit (71) is op 8 Desember op ’n kleinhoewe naby Schweizer-Reneke doodgeskiet, waarna Coen van der Walt (67) op Oukersdag op sy plaas naby Amalia vermoor is.
Heibrie het sowat sewe maande ná die voorval met Arena gesels oor die emosies wat sy hierna ervaar het en hul gesin se besluit om aan te hou boer.
’n Gewone oggend neem ’n aaklige wending
Tommie het daardie oggend om 06:45 na Schweizer-Reneke gery om werkers te gaan oplaai. Heibrie het wakker geword toe hy uitgaan en gehoor dat die honde vreeslik blaf.
Sy het opgestaan en deur die kombuisvenster na die agtererf gekyk, maar niks verdag gesien nie. ’n Jack Russel (Buks) en worshondjie (Rolo) wat binne saam met haar was, wou egter nie tot rus kom nie. Sy het hulle na die voordeur geroep om uit te gaan, maar hulle wou nie uitgaan nie.
Sy is hierna terug na die agterkant van die huis waar sy ’n deur wat die opwaskamer van die kombuis skei, oopgesluit het. Twee mans het die deur oopgedwing en haar oorval.
Heibrie kon sien dat een van die verdagtes ’n groot ysterpaal by hom gehad het. Dit is op die toneel agtergelaat en later as ’n “dropper” geïdentifiseer. Die ander een was met ’n mes gewapen. Sy is dadelik met die ysterpaal oor die kop geslaan, waarna die tweede verdagte haar aan die keel gegryp en teen ’n muur in die kombuis vasgedruk het.
Heibrie is fyngebou en slegs 1,5 m lank, maar kon die aanvaller in die oë kyk. Die merk wat haar kop teen die muur gelaat het, dui daarop dat die aanvaller haar van haar voete af gelig en vasgedruk het. Hy het die mes teen haar keel gehou en gesê: “I want the money! Where is the safe? I’m going to kill you!”
Sy het om haar lewe gepleit en na die Here geroep, waarna die man haar gelos en sy tot op die vloer gestruikel het.
Intussen het sy die verdagte wat haar met die paal geslaan het, herken as James Chipironi (44), ’n Malawiese burger wat vroeër by hulle werksaam was. Tommie het vertel dat James sowat ’n maand vantevore kom help het om ’n geelslang wat in ’n kas in hulle slaapkamer geskuil het, uit te haal. Hy het ’n klein kluis onder in die kas gewaar en volgens Tommie het James se houding hierna verander. Hy het in daardie stadium nie lank vir die Kotzé’s gewerk nie en kort daarna bedank.
“Sommige van die ander werkers het my gewaarsku dat hy gedreig het om ‘terug te kom’, maar ons het al voorheen sulke dreigemente gekry en ek het daarom nie veel ag daarop geslaan nie,” sê Tommie.
Vyftien minute voel soos ’n ewigheid
Die aanvallers is met Heibrie na die hoofslaapkamer. Sy het gebuk om ’n sleutel onder uit die kas te haal toe sy meteens agter die nek geklap is en die sleutels uit haar hand geval het.
Heibrie dra kontaklense en het dit nog nie daardie oggend ingesit nie. Sy het hulle gevra of sy dit kon insit, aangesien sy nie kon sien nie. Dit was eers toe sy in die spieël kyk dat sy gesien het hoe die bloed oor haar gesig stroom. Sy het op daardie stadium geen pyn gevoel nie.
Die aanvallers het ’n groot kluis agter die slaapkamerdeur oopgesluit en die Kotzé’s se wapens ontdek. Die jagwapens is op die mat neergesit. Hulle het ’n rugsak voor die kluis staangemaak en die inhoud daarin gegooi.
James en sy makker het bly vra waar die klein kluis se sleutels is, maar Heibrie het geantwoord dat sy nie geweet het waar dit was nie. Sy het in ’n stadium vir die aanvallers gesê dat sy die lig vir hulle aansit om beter te kan sien, maar sy het ongemerk ’n paniekknoppie naby die skakelaar gedruk.
Hulle het onverpoos na die klein kluis se sleutels gesoek en Heibrie het skielik besef dat nie een van hulle op daardie oomblik na haar gekyk het nie. “Toe vat ek my kans… As ek nie vlug nie… Hulle het al die wapens en kan my doodskiet.”
Heibrie vertel emosioneel dat die Here haar op daardie oomblik krag gegee het. Sy het na die deur beweeg, die sleutel uitgehaal en aan die buitekant van die deur in die sleutelgat gedruk, Rolo na buite geroep, die deur toegepluk en die sleutel gedraai. “Toe ek die sleutel draai, toe ruk hy aan die anderkant,” sê sy.
“Ek het gebid: ‘Asseblief Here’, en toe hardloop ek.” Sy het ’n Toyota Fortuner se sleutel op die kombuistafel gegryp en na die bure, Ben en Sanita Linde, gejaag.
’n Gemeenskap staan saam
Intussen het die sekuriteitsmaatskappy vir Tommie gebel en gesê dat hulle ’n panieksein ontvang het. Tommie het aanvanklik vermoed dat die panieksein verkeerdelik deur beurtkrag geaktiveer is en het gesê dat daar waarskynlik niks fout was nie.
Heibrie het hom egter kort hierna vanaf ’n selfoon by die Lindes gebel en meegedeel dat sy aangeval is en die boosdoeners in die huis toegesluit het. Tommie het onmiddellik ’n stemboodskap na die Boerehulp-groep op WhatsApp gestuur en vir hulp gevra.
Vier van die egpaar se vyf kinders was in daardie stadium in Potchefstroom, waar hulle later daardie oggend eksamen by die Noordwes-Universiteit moes gaan skryf. Ook hulle is lede van dié WhatsApp-groep en het só van die aanval op hulle ma verneem.
“Dit was vir hulle baie traumaties,” vertel Heibrie. “Hulle moes nog sowat 45 minute wag voordat hulle meer inligting kon kry.” Hulle oudste seun was ten tye van die aanval in Amerika.
Produsente en inwoners van die dorp het hulle na die plaas gehaas om te gaan help. Tommie en lede van die sekuriteitsmaatskappy is saam by die huis in, maar het gesien dat die aanvallers daarin geslaag het om te ontsnap.
Die huis was vol bloed en Tommie het aanvanklik gevrees dat die twee hondjies doodgemaak is. Hy het toe nog nie vir Heibrie gesien of die erns van haar beserings besef nie.
’n Buurman, Cilliers Snyman, was met sy kinders op pad skool toe en het twee mans met balaklavas in Schweizer-Reneke se rigting sien stap. Hy het Tommie onmiddellik laat weet en hy het besef dat dit die aanvallers was.
Volgens die Kotzé’s het hulle later op sekuriteitskameras langs die paaie tot 60 bakkies getel van produsente en inwoners wat daar opgedaag het. Twee vliegtuie is ook beskikbaar gestel om met die soektog te help. ’n Hommeltuig wat met ’n hittekamera toegerus is, is in die lug in gestuur en die verdagtes is onder ’n boom gewaar waar hulle geskuil het.
“Sowat R300 000 is ’n paar jaar gelede ingesamel om dié hommeltuig te koop ná ’n plaasaanval op Amalia waartydens ’n tannie ontvoer en vermoor is,” vertel Tommie. “Dit het baie gehelp met die soektog, omdat ons nie al die areas met voertuie kan bereik nie.”
James is aangekeer, maar die tweede verdagte het weggekom. Die Kotzé’s se handwapens, selfone, bankkaarte en ander items is op die toneel gevind. ’n Broodsakkie met vrugte in is ook in ’n ou bouval daar naby ontdek en James het glo erken dat hulle die egpaar toe reeds ’n geruime tyd lank dopgehou het.
Die tweede verdagte, Joseph Phiri (34), is sowat ’n maand later naby Pretoria aangekeer. Hy is aanvanklik ook aangekla, maar die klag is later teruggetrek omdat daar nie genoeg bewyse was om hom met die voorval te verbind nie. Hy was wel onwettig in die land en dit is nie duidelik of hy intussen na Malawi gedeporteer is nie.
Kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het by navraag gesê dat hy moontlik later met behulp van DNS met die voorval verbind en weer aangekla kan word.
James het op 24 Januarie in die streekshof in Schweizer-Reneke verskyn en die saak is uitgestel tot 4 Maart sodat hy vir regshulp kon aansoek doen.
Die pad na genesing
Sanita het Heibrie se wond versorg en Ben het vir haar koffie gemaak. Sy is later die oggend na ’n dokter op die dorp waar sy steke gekry het. “Die dropper het gebuig soos wat ek oor die kop geslaan is. Die dokter kon nie glo my skedel was nie gekraak nie,” sê Heibrie.
Twee vriendinne het haar “onder hul vlerke geneem” en na ’n haarkapper gevat, waar haar hare gewas is. “Die haarkapper het gesê dat die bloed my kopvel gevlek het. Dit was egter klein bloukolletjies wat deur die riffels op die dropper veroorsaak is.”
Sy is dieselfde dag na ’n sielkundige vir berading en het ook twee opvolgsessies bygewoon. “Aan die begin is jy half gelate. Jy kan nie dink dat dit met jou gebeur het nie. Dan kom die woede omdat hulle in jou huis was,” sê sy.
“Daar was baie dinge wat ’n bestiering was. Ons is oortuig dat hulle ons reeds die naweek wou aanval. Gelukkig was ons roetine anders weens die kerkbasaar en beeste wat op ’n ander plaas siek geword het.”
Heibrie sien die Here se hand oor haar daardie oggend telkens raak: “Soos dat Tommie die Fortuner se sleutel op die kombuistafel gelos het en daar nie ander voertuie agter die Fortuner geparkeer was nie. Cilliers het ’n pap band gehad wat hy eers moes omruil en het later as gewoonlik sy kinders skool toe gevat.”
Tog dwaal haar gedagtes ook na die ondenkbare… “Wat as hulle die wapens gevat en my geskiet het? Jy hoor van lelike goed wat met vroue gebeur. Daar is later ’n rol maskeerband op die toneel gevind wat nie ons s’n was nie. Die sielkundige sê ek moenie vra ‘Wat as?’ nie, maar jy kan dit amper nie help nie.”
Heibrie het graag Vrydagaande alleen buite gesit en solank vuur gemaak terwyl Tommie die werkers teruggeneem het dorp toe. Sodra hy terug was, het hy vir hulle gebraai. Nou is sy te bang om dit te doen. “Elke geluidjie pla my. Jy gaan nie meer net uit as jy ’n hond hoor blaf nie, maar gaan eers na die kameras in die kamer en kyk daarna.”
Die polisie het beslag gelê op die Kotzé’s se handwapens om dit weg te stuur vir ballistiese toetse. Weens die reuse-agterstand by laboratoriums, kan dit egter so lank as twee jaar neem voordat hulle dié wapens terugkry.
Sy kry soms nagmerries oor die voorval en erken dat die aanvallers in ’n mate haar vrede gesteel het. Haar raad aan ander slagoffers van plaasaanvalle is om dit “met die Here se genade” te verwerk. “Jy dra elke dag jou veiligheid en dié van jou mense aan die Here op.”
Hoekom dan bly?
“Dis ’n mens se lewe. Jy kan nie afstand doen van jou lewe nie. Dit was een voorval en dit was sleg, maar al ons kinders wil plaas toe kom en kom boer,” glimlag Heibrie.
Sy geniet die lewensgehalte wat hulle op die plaas het en besef dat sy dit nie elders sal kry nie. “Dit het ons wel baie paraat gemaak en ’n ander uitkyk op die lewe gegee.”
Buiten vir ander veiligheidsmaatreëls wat die Kotzé’s ná die aanval op hul plaas laat aanbring het, het hulle besluit om van die skape ontslae te raak. Hulle is van mening dat dit ’n indruk by misdadigers kan skep dat hulle groot hoeveelhede kontant in die huis het.
Tommie se raad aan ander produsente is om meer voorkomend op te tree. “Jy moet ’n plan in plek hê vir ás daardie dag aanbreek. Versteek ’n goedkoop selfoon êrens in jou huis sodat jy ná ’n aanval hulp kan ontbied. Sit dit af, maar sorg dat die battery gelaai en die simkaart reg is. Slaan ook ag op waarskuwings.”
Heibrie voeg by: “Let op vir vreemde gedrag deur jou honde. Hulle probeer ons waarsku. Moenie dit afmaak as niks nie.”