Die algemene vlak van frustrasie onder ANC-kiesers is besig om hoër te word as die bevrydingsdividend wat dié regerende party hulle bied. Dit is die mening van prof. Theo Venter, ‘n politieke ontleder wat Omnia se Boeredag by Sannieshof die afgelope Donderdag toegespreek het. Die geleentheid is by die Hervormde Kerk gehou en Theo het gesels oor politiek as risiko in landbou.
Met die nasionale verkiesing op 29 Mei vanjaar om die draai, het Theo bepaalde neigings onder kiesers toegelig.
Vertroue in die regering daal
Daar is ‘n betekenisvolle verlies aan vertroue in die regering onder Suid-Afrikaners, wat Theo die newe-effek van sosiomaatskaplike ontwikkelingsprosesse noem.
Hy het na syfers van Statistieke Suid-Afrika verwys en gesê dat, hoewel tot 82% van Suid-Afrikaners byvoorbeeld toegang tot water het, dit nie noodwendig beteken hulle hét water nie. Dieselfde geld elektrisiteit. Dit help veel tot 90% van Suid-Afrikaners het toegang tot elektrisiteit, maar dat die ligte weens beurtkrag nie altyd aan is nie.
“As jy ‘n ontwikkelingspad geloop het, maar jy kan dit nie volhou nie, raak mense keelvol,” het hy verduidelik.
Kwessies soos misdaad, opstande, staatskaping, korrupsie en swak ekonomiese groei het kiesers ook warm onder die kraag.
Neigings wat die komende verkiesing beïnvloed
‘n Onlangse verandering in die verkiesingswet behels dat kiesers op 29 Mei slegs sal kan stem in die kiesdistrik waar hy/sy geregistreer is. “Dit is belangrik, want daar is ‘n 10% differensiaal tussen die stemtempo in nasionale en plaaslike verkiesings. Minder mense stem in laasgenoemde, bloot omdat jy nie in ‘n ander dorp kan stem as waar jy geregistreer is nie.
“Sou daardie 10% differensiaal in hierdie verkiesing ook ‘n rol speel, kan ons ‘n laer kieserstempo verwag,” het Theo opgemerk.
Toenemende verstedeliking het tot gevolg dat slegs 30% van Suid-Afrika se bevolking tans in die platteland bly. “Politiek gaan dus in die stede plaasvind.”
Tot 92% van Suid-Afrikaners het selfone en dit is waarom sosiale media met reg sy plek in die politiek gevind het. Die aantal huishoudings met televisies het toegeneem van 52,6% in 2011 tot 79% in 2022. Dit is waarom dit belangrik is dat politieke partye hul veldtogte via sosiale media voer en dit meer visueel moet maak.
Plaaslike regerings misluk die een na die ander, met die uitsondering in die Wes-Kaap.
Armoede en werkloosheid is op onvolhoubare hoë vlakke. In Noordwes is 52% mense tans sonder werk, wat beteken dat vyf uit tien mense op straat nie werk het nie. “Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat ‘n toelaag gee vir mense wat kán werk,” het Theo opgemerk.
Hy het bygevoeg dat die afname in steun vir die ANC nou al só duidelik is, dat ook dit as ‘n basiese neiging beskou kan word.
Rasgroepe se kruisies by die stembus
Soveel as 50% van Suid-Afrika se bevolking bly in die 17 grootste munisipale gebiede, soos Bloemfontein, Mbombela en Polokwane. Sowat 10% van die bevolking bly in die 95 kleinste munisipale gebiede. “Die ANC se grootste steun lê onder hierdie 10%, maar hulle grootste uitdaging is egter in die stede.”
In 1996 was die mediaan-ouderdom in Suid-Afrika 22 jaar, teenoor 28 jaar in 2022. “Die EFF se steun is grootliks onder jongmense en dit is iets wat die ANC in gedagte moet hou.” Tog is baie van hierdie jongmense nie geregistreer om te kan stem nie.
Theo skat dat slegs sowat 55% van Suid-Afrikaners in vanjaar se nasionale verkiesing sal stem. “Die groot vraag is of hierdie apatiese houding vanjaar sal skuif tot ‘n stem vir die opposisie.”
Hy is van mening dat swart kiesers nie sommer teen die ANC sal stem nie, omdat dié party die instrument tot hul bevryding was. Hulle is egter ook nie meer noodwendig tevrede met die ANC se prestasie nie en sal daarom eerder tuis bly op stemdag.
“Dit was die neiging tot nou. Ek wens dit verander, sodat ons ‘n meer kompeterende verkiesing kan hê.”
Wit kiesers verskuif makliker hulle stempatroon, aldus Theo. Hy het verwys na die Vryheidsfront Plus wat in 2019 meer stemme op homself kon vestig ná die DA se hantering van die sogenaamde Schweizer-Reneke debakel.
Hy het hier verwys na ‘n onderwyser – Elana Barkhuizen – wat in 2019 geskors is omdat sy swart kinders in haar klaskamer apart van wittes laat sit het. Sy is valslik deur onder andere die DA van rassisme beskuldig en dit het verskeie wit kiesers laat besluit om nié vir dié party te stem nie.
Bruin kiesers, meen Theo, was nog altyd verdeel tussen die ANC en DA. “Tog is hulle op soek na ‘n eie identiteit en iemand uit eie geledere wat hulle kan lei. Hoewel bruin kiesers in die Wes-Kaap steeds oorwegend vir die DA behoort te stem, sal hulle elders moontlik eerder vir ‘n kleiner party stem.”
Die tyd sal leer of die veelpartyhandves nog ‘n verenigde front sal bly. “As hulle hou by wat hulle tans doen, kan ons ‘n baie kompeterende verkiesing hê,” meen Theo.
Die Umkhonto weSizwe (MK)-party
Theo is nie so seker dat die media-aandag wat die MK-party tans geniet, sal oorgaan tot kiesers wat vir hom stem nie. “Daar is 6 miljoen stemgeregtigdes in KwaZulu-Natal. Die MK-party geniet tans sowat 20% steun. Sou daar 4 miljoen Zoeloes na die stembus gaan, behoort die MK-party 800 000 tot 1 miljoene stemme te kry.
“Jy het 50 000 stemme nodig vir een verteenwoordiger in die parlement. Sou die MK-party dus 20% stemme in dié provinsie werf (800 000 stemme), kan hulle tussen twaalf tot 20 verteenwoordigers in die parlement hê, wat hulle betekenisvol sal maak.”
As die stemtempo afneem, bevoordeel dit groot partye, aangesien hulle ‘n lojale ondersteunersbasis het. Met sterker logistieke en netwerkvermoëns, kan hulle boonop meer mense aanry stembus toe.
“Hulle word ook statisties bevoordeel, omdat die som wat gemaak word om te bepaal hoeveel mense parlement toe gaan, kleiner word,” het Theo verduidelik.
Die land se regering word grootliks bepaal deur mense tussen die ouderdom van 30 en 69 jaar (meeste geregistreerde kiesers). Diegene jonger as 30 jaar het nog nie regtig ‘n belangstelling in die politiek nie. Slegs sowat 4,5 miljoen mense tussen die ouderdom 20 en 29 jaar is geregistreer om te stem en slegs sowat 500 000 jeugdiges (18 en 19 jaar oud) is geregistreer.
Die EFF geniet steun van veral jongmense en dit is waarom dié party ‘n plafon van slegs sowat 10% steun bereik.
Daar is twee uitkomste in vanjaar se verkiesing wat Theo meen waarskynlik is:
- Dominasie deur een party duur voort: Sou die ANC sowat 47% steun werf, het dit ‘n baie klein persentasie steun van ander partye nodig om 50% te behaal. “Dit is ‘n baie realistiese scenario, ten spyte van meningsopnames wat anders dui,” meen Theo.
- Die groot koalisie: In hierdie geval kan die ANC na die DA uitreik om saam te regeer. Die DA het al voorheen aangedui dat, in só ‘n geval, hulle ‘n speaker in die parlement wil hê, asook voorsittende beamptes van al die komitees. “Die DA stel nie belang in ministers nie. Hulle wil posisies hê op vlakke waar hulle beheer kan uitoefen.” Die ANC kan egter ook na die IVP uitreik, meen Theo.
Die ANC is voor die grootste uitdaging in sy bestaan en Theo voorsien ‘n afname van 7% in hul steun. “Daar is ‘n groot kans dat die ANC beheer oor KwaZulu-Natal en Gauteng kan verloor.”
Hy is nie oortuig dat die EFF ‘n noemenswaardige rol in hierdie verkiesing sal speel nie.
“Die volgende plaaslike verkiesing is in 2026 en kan selfs méér negatief vir die ANC wees, veral omdat president Cyril Ramaphosa dan die einde van sy termyn sal nader.
“Die ANC het weer ‘n leierskapskonferensie in 2027 en gewoonlik wil die nuwe leier onmiddellik die leisels oorneem, wat beteken dat Ramaphosa dan opsy sal moet staan.”