Dis Mandela-maand en NWK het dit die afgelope week gevier deur 500 pare splinternuwe skoolskoene aan behoeftige leerlinge te skenk as deel van sy jaarlikse Skoolskoenprojek. Dit bring die getal leerlinge wat sedert dié projek se ontstaan in 2012/2013 daarby gebaat het, op bykans 6 000 te staan.
Die maatskappy het op Vrydag, 12 Julie besoek afgelê by Laerskool Vlakpan naby Lichtenburg asook Morweng Primary School waar daar 250 pare skoolskoene, mussies, kouse, skoenpolitoer en -borsels asook seilsakkies aan leerlinge uitgedeel is.
Laerskool Vlakpan is in 1916 gestig waar hoofsaaklik kinders van produsente in die omgewing onderrig is. Met die toemaak van talle ander plaasskole in die omgewing is die skool opnuut in 2011 in bedryf gestel. Joseph Semela, skoolhoof, het gesê dat sommige van die leerlinge daagliks meer as 120 km na die skool en terug huis toe, moet aflê.

Dit was hartroerend om te sien hoe stukkend van die kinders se skoentjies is. “Die armoede van hierdie kinders en hul gesinne is inderdaad erg. Ons sien daagliks leerlinge wat sonder ordentlike skoene en selfs die basiese noodsaaklikhede skool toe kom. Hulle kan nie leer nie, al wil hulle. Daarom beteken ‘n skenking van hierdie omvang geweldig baie,” het Semela gesê.
Ook Goitsemang Mapete, departementele hoof van Morweng Primary School, het haar waardering namens die skool vir die skenking uitgespreek.

Die afgelope Dinsdag het NWK weer 250 pakkies aan leerlinge by twee skole in die Coligny-omgewing uitgedeel. Monamaladi Primary School is in 1896 deur sendelinge op die been gebring. Die skoolhoof, Koba Choabi, was verheug oor die skenking. “Dit beteken baie vir die skool, asook die kinders en hul ouers. Dit sal die leerlinge aanmoedig om elke dag skool toe te kom en hulle prestasie te verbeter,” het sy gesê.

Coligny Special School wat leerlinge met matige leergestremdhede spesiale vaardighede leer, was ook een van vanjaar se begunstigdes. “Van hierdie kinders het baie moeilike huislike omstandighede en is selfs mishandel. Hulle benodig enige ondersteuning wat hulle kan kry en ons is daarom baie dankbaar vir hierdie skenking,” het die skoolhoof, Dinah Sedumedi gesê.

Die waarde van vanjaar se skenking is sowat R263 000. Benedict Modise, direkteur van ekonomiese ontwikkeling by NWK, het die skole toegespreek en gesê dat die bevordering van kinders se ontwikkeling baie belangrik vir die maatskappy is.
“NWK is deel van die gemeenskap en ons vier vanjaar reeds 115 jaar in die bedryf. Ons steun hard op waardes soos klantgerigtheid en medeverantwoordelikheid in ons gemeenskap en is daarom besorg oor lede van hierdie gemeenskap se welstand.
“Onderrig is die hoeksteun van enige gemeenskap en dit is NWK se voorreg om met skole hande te kan vat in die belangrike taak wat hulle het,” het hy bygevoeg.
Die skole wat skenkings ontvang word geïdentifiseer in samewerking met Noordwes se Onderwysdepartement asook Samuel Nkone, voormalige areabestuurder van Ditsobotla by die departement.

