• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Mon, Jun 16, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

Meng herkouervoere tuis met sonneblomsifsels

Pieter le Roux, Hoof-diere-en-weidingwetenskaplike, NWK

29 Jul 2024
in Tegniek
Meng herkouervoere tuis met sonneblomsifsels
Share on Facebook

Sonneblomsaadsifsels is ’n neweproduk afkomstig van die suiweringsproses van sonneblomsaad ter voorbereiding vir die ekstraksieproses vir olie. By Epko, NWK se oliepers in Lichtenburg, word jaarliks ongeveer 154 000 ton sonneblom ingeneem en gesuiwer. Daar kom dan sowat 2 300 ton sifsels uit die siftingsproses (normaalweg sowat 1,5%). Dié syfers wissel van jaar tot jaar na gelang van die seisoen.

Veeprodusente kan hierdie sonneblomsaadsifsels aankoop vir gebruik in her kouer diëte. Die vraag is: Wat is die sifsels se voedingswaarde? Kan dit gebruik word vir die meng van herkouervoere en indien wel, hoe kan dit gebruik word?

Sonneblomsifsels vir herkouers

In Tabel 1 word agt waardes vir die ruproteïen (RP)-inhoud van sonneblomsifsels aangedui. Die waardes wissel van 91 g/kg tot 113,4 g/kg (of 9,1% tot 11,34%). Dit word bepaal deur die hoe veelheid heel sade wat in die sifsels voorkom.

Die hoeveelheid heel sade wat in die sifsels voorkom, bepaal grootliks die RP- en vetinhoud daarvan. Hierteenoor bevat sonneblomdoppies byvoorbeeld slegs sowat 70 g RP/kg (Tabel 2). Die gunstige vetinhoud van sonneblomsifsels dra ook by tot ’n metaboliseerbare energie (ME)-inhoud van 8,1 MJ ME/kg in vergelyking met mieliesifsels, wat 13,7 MJ ME/kg bevat.

Die relatiewe lae acid detergent fibre fraksie (ADF)- en neutral detergent fibre fraksie (NDF)-waardes dui daarop dat beide die inname en verteerbaarheid van sonneblomsifsels gunstig is vir aanwending as veevoer vir herkouers. Die gebruik van die sifsels in tuismengformulerings is dus moontlik en boonop wil dit voorkom asof daar selfs besparings vir die produsent hieruit kan spruit.

VARIASIE IN VOEDINGSWAARDE

Dit is ook duidelik uit Tabel 1 dat daar ’n groot mate van variasie voorkom in die voedingswaardes van sonneblomsifsels, selfs tussen monsters wat by dieselfde laboratorium ontleed is.

Die enigste manier om hierdie variasie te bestuur, is deur nougeset ontledings van elke lot sifsels te doen en deurlopend die plaasmengsels daarby aan te pas. Dit gaan egter vir die meeste produsente nie prakties uitvoerbaar wees nie. Daarom is die enigste ander opsie om die gemiddelde waardes vir formulerings te gebruik en dit net van tyd tot tyd te ontleed om die gemiddelde waardes se akkuraatheid te verbeter.

LOSMAATPRYS

Met die skryf van hierdie artikel was die huidige losmaatprys vir sonneblomsifsels by Epko R121,33/t. Die prys van 1 ton-sakke was R347,83/t. Een ton sifsels pas om en by in drie 1 ton-massasakke. Die prys per kilogram RP vergelyk baie goed met ander soortgelyke bronne, soos in Tabel 2 aangedui. Die prys is só gunstig dat dit selfs teen wisselende samestellings steeds lonend is om te gebruik.

Sonneblomsifsels is meestal regdeur die jaar beskikbaar, aangesien daar deurentyd gepers word. Die volumes mag van tyd tot tyd wissel na gelang van die internasionale vraag en aanbod na olie, wat grootliks die volumes bepaal wat gepers word. Die meeste saad word egter aan die begin van die winter gelewer en daar is meestal sifsels gedurende hierdie tyd beskikbaar. Sifsels kan dus goed aangewend word in die formulering van wintervoere, -aanvullings of -lekke.

MONSTERS

Alle waardes in Tabel 1 is uit drie bronne afkomstig. Daar is in 2020 sewe monsters by Epko geneem en by twee laboratoriums ontleed, vyf by ChemNutri en twee by NutriLab. ChemNutri het nie die NDF en ADF bepaal nie, maar wel ruvesel, terwyl NutriLab nie ruvesel bepaal het nie, maar wel die NDF en ADF.

Die getal monsters wat in die geval van die Feedipediawaardes vir die onderskeie voedingstowwe ontleed is, word in hakies aangedui (Feedipedia, 2012). Die verskil tussen die maksimum en minimum waardes is ’n aanduiding van die wisseling in waardes tussen die verskillende monsters.

Die ME word nie in die tabel aangedui nie, aangesien dit slegs Feedipedia is wat hier ’n berekende waarde verskaf het (sien Tabel 2). Die ME word nie in ’n laboratorium bepaal nie, maar word indirek vanaf ander voedingswaardes afgelei.

Mieliesifsels

Mieliesifsels is ook ’n graanneweproduk. Dis afkomstig van die siftingsproses van mieliegraan wat by graansilo’s gelewer word. Die beskikbaarheid hiervan wissel egter baie. Daar is vandag heelwat produsente wat hul mielies self sif om dit dan teen ’n beter graad te kan lewer. Mieliesifsels kan desnieteenstaande baie goed aangewend word vir die tuismeng van herkouervoere en -aanvullings, ook in kombinasie met sonneblomsifsels.

Die voedingswaarde van mieliesifsels word in Tabel 2 aangedui en is in dieselfde orde as vir hominy chop of selfs mieliegraan, met ’n RP-waarde van 93 g/kg en ME van 13,7 MJ ME/kg.

Mieliesifsels wat op die plaas gesif word, kan bykans as gratis beskou word. Die produsent verhaal die sifkoste meestal vanaf die verhoogde premie wat weens die verhoogde graad verkry word. Graan word egter ook op die plaas gesif – juis om die sifsels vir gebruik op die plaas aan te wend, ongeag of dit tot ’n beter leweringsgraad sal lei.

Sifsels wat by die silo’s te koop is se prys word egter deur die heersende markprys bepaal. Sifsels word ook by die silo’s gegradeer en die pryse van graad 1- tot graad 3-sifsels beloop onderskeidelik ongeveer 75%, 66% en 61% van die heersende Safex-prys vir beide wit- en geelmielies.

Die belang van ruvesel, NDF en ADF

Volgens Schick (2023) en Sharpe (2019) kan die ruveselfraksie (of totale veselfraksie) van veral ruvoere verder onderskei word in beide die ADF- en NDF-inhoud daarvan. Die NDF gee ’n aanduiding van die voer se selwandinhoud en dui basies op die totale veselinhoud van die voer of plantmateriaal. Dit sluit sellulose, hemisellulose, lignien en silika in – dus die primêre strukturele komponente van alle plante of voer. Hierteenoor is die ADF ’n meting van slegs die mees onverteerbare gedeeltes van plante of ruvoer, naamlik lignien en silika.

Beide die ADF en NDF is negatief gekorreleer met onderskeidelik die inname en verteerbaarheid. Ouer plantmateriaal bevat meer strukturele komponente, wat tot ’n hoër NDF-inhoud en laer inname daarvan lei. Die NDF kan wissel tussen 80% vir koringstrooi of laegraadse winterveld tot minder as 40% in jong lusern (30% tot 40% blom).

Hoër ADF-waardes dui weer op verlaagde verteerbaarheid en energie-inhoud van ’n voer. Jong lusern bevat byvoorbeeld ’n ADFinhoud van 30% tot 35%, terwyl volwasse lusern se ADF gewoonlik bo 40% is. Die ADF-inhoud van koringstrooi sal ongeveer 50% of meer wees (Schick, 2023).

Die ADF-inhoud van sonneblomsifsels is ongeveer 362 g/kg en die NDF is sowat 254 g/kg (of 36,2% en 25,4%). Hierdie waardes is gunstig vir beide die verteerbaarheid en inname, soos binne die raamwerk hierbo bespreek.

Hoe om sonneblomsifsels aan te wend

Soos reeds genoem, kan sonneblomsifsels wel suksesvol by her kouer diëte ingesluit word. In Tabel 3 word daar by wyse van voorbeelde vier sulke tuismengsels aangedui. Dit is nie raadsaam om enige voerbronne vir tuismengsels sonder meer saam te voeg nie, want dit kan aanleiding gee tot wanbalanse in die eindmengsels se voedingstowwe.

Tuisgemengde voere behoort dus altyd deur ’n voedingkundige geformuleer en bevestig te word om seker te maak dat die eindproduk korrek gebalanseer is vir die spesifieke doel waarvoor dit beplan is. Die formulerings in Tabel 3 is uit verskillende roumateriale en kommersiële voere saamgestel. Verskeie soortgelyke produkte vanaf ander maatskappye kan alternatiewelik ingesluit word na gelang van beskikbaarheid, voorkeur en prys. Gesels gerus met jou voedingkundige om hierdie opsies sinvol te oorweeg en dan korrek te formuleer.

Kontak Epko se algemene bestuurder, Schalk Brits, om meer uit te vind oor die beskikbaarheid en prys van sonneblomsaadsifsels. Rig navrae aan gm@epko.co.za of skakel 018 632 2018.

Bronnelys

Feedipedia, 2012. https://www.feedipedia.org/node/733
Schick B, 2023. Pasture and forage minute: Understanding ADF and NDF, hay quality after calving. https://cropwatch.unl.edu/2023/pasture-and-forage-minute-understanding-adf-and-ndf-hay-quality-after-calving#:~:text=ADF%2C%20on%20the%20other%20hand,is%20available%20to%20the%20animal
Sharpe P, 2019. Uses and relative advantages of NDF and ADF measurements. Science Direct. https://www.sciencedirect.com/topics/agricultural-and-biological-sciences/neutral-detergentfiber#:~:text=NDF%20can%20be%20used%20in,the%20lower%20the%20energy%20concentration

Tags: Jul/Aug 2024
Previous Post

Kieters kan rotplae hokslaan

Next Post

Presisieboerdery bied talle voordele


Recommended

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In