Presisieboerdery het ten doel om die gehalte van die natuurlike hulpbronne te evalueer en hierdie eienskappe dan aan geografi ese posisies te koppel, sodat dit met groter sorg bestuur kan word. Elke stuk grond kan dus optimaal en volgens die potensiaal daarvan bestuur word.
Met die druk op produsente om produksie te verhoog te midde van onsekerhede oor die makro-ekonomie en klimaat, benodig hulle ‘n verskeidenheid kundige vennote. AgTech@NWK verskaf landboukundige dienste aan produsente wat hulle met waardevolle besluitnemingsinligting toerus. Dit lei tot ‘n verlaging van boerderyrisiko’s en ‘n verhoging van die boerdery se materiële welvaart.
NWK se eie slimkoptoep vir boerdery, NWK Online, is op 21 Junie 2023 amptelik bekendgestel. Die funksionaliteite waarmee dié toep toegerus is, is onlangs verfyn. Waar daar voorheen soms tot langer as ’n week vir die uitslae van ’n gedetailleerde grondopname en die verwerking daarvan gewag moes word, is dit nou bykans onmiddellik beskikbaar.
Die moderne produsent wat nie agteruit wil boer nie, kan eenvoudig nie daarsonder klaarkom nie. Die deursigtigheid wat NWK Online bied, stel graanboere in staat om proaktief op te tree, sowel as om deurdagte en doeltreffende besluite te neem.
NWK Presisiedienste
Grond is die graanprodusent se belangrikste bestuurbare natuurlike hulpbron omdat die fisiese, chemiese en biologiese eienskappe van grondtipes verskil. AgTech@NWK se grondkundiges ondersteun die produsent om sy grond optimaal aan te wend, te bewerk, te bemes en te bestuur. Van die vernaamste velde wat gedek word, sluit in:
- Identifisering van kompaksielae en die opheffing daarvan.
- Kartering van die geografiese grondeienskappe (potensiaalbepalings).
- Generering van stroperkaarte.
- Probleemondersoeke.
- Chemiese ruitmonsterneming (grids).
- Chemiese regstellings (kalk-, fosfaat- en kaliumregstellings).
- Wisselende kaarte (plantestand en bemesting).
DETAILGRONDOPNAME (KARTERING)
Grond se vermoë om gewasse te onderhou, word deur ’n groot aantal grondfisiese eienskappe bepaal. Hierdie eienskappe wissel gewoonlik redelik oor die plaas, so gevolglik wissel die opbrengspotensiaal en die produksierisiko ook geografies. Waarnemings word op ’n een- of tweehektaar- ruitpatroon met behulp van ’n meganiese boor tot op ’n diepte van 2,5 meter gemaak (Foto 1).

Die gronddata word geïdentifiseer en in die veld elektronies op NWK Online aangeteken. Die data word gestoor en met ’n eenvoudige kliek is alles onmiddellik en outomaties op NWK Online beskikbaar. Die grondlyne word met behulp van ’n ArcView-sagtewarepakket op ’n GPS-kaart van die plaas gedigiteer. ’n Omvattende verslag, vergesel deur ’n GIS-gegenereerde grondkaart en gewaspotensiaalkaarte van die plaas, is die finale produk.
CHEMIESE RUITMONSTERNEMING (GRIDS)
Grond se chemiese eienskappe wissel redelik oor ’n bewerkte land. Dit bring mee dat die gewas in sekere gebiede ondervoed is, terwyl bemestingstowwe in ander gebiede onnodig toegedien word. Die ideaal is dus dat die regte hoeveelheid bemestingstowwe op die regte plekke toegedien word, sodat die gewas oral op die land optimaal en volgens die grondpotensiaal kan produseer.
’n Een- of tweehektaar-ruitpatroon word met behulp van ’n tablet met ’n GPS oor die land geplaas. ’n Grondmonster, wat telkens uit vyf vermengde submonsters bestaan, word by elke ruitpunt met ’n grondboor geneem. Die monsterdiepte is ± 200 mm.
Waar plantrye sigbaar is, word een submonster op die ry geneem, twee submonsters ongeveer 150 mm weerskante van die ry en nóg twee ongeveer 300 mm vanaf die ry. Waar lande bewerk is, word vyf submonsters op ’n soortgelyke patroon geneem. Die monsternemingsmetode is eie aan NWK en word deur wetenskaplike navorsing beproef en ondersteun (Foto 2).

Grondmonsters word na Chemtech-Laboratorium in Sasolburg gestuur, waar elke monster individueel ontleed word. Die ontledings word ingetrek deur NWK se nuut gegenereerde GIS-rekenaarprogram en word binne sekondes verwerk om chemiese kaarte van die land vir elkeen van die ontledingsparameters (pH en makro-elemente) te genereer en vir die produsent aanlyn beskikbaar te stel. Differensiële regstellings word dan vir die toepaslike bemestingstowwe uitgeskryf deur die produsent se NWK-landboukundige, sodat die swak gebiede reggestel kan word en die gebiede wat optimaal is net so gelaat kan word.
NWK Online
NWK Online spog met ’n unieke platform – spesiaal vir die produsent geskep – waar alle landbouverwante data wat deur NWK behartig word, met een kliek tot die produsent se beskikking is. Die produsent loop dus nou met alle historiese tot op hede presisiedata van sy/haar boerdery in die hand.
Sodra die gebruiker aanteken, sal hy/sy begroet word deur ’n paneelbord met kitsinligting. Kitsinligting oor al jou landboukundige verwante data op jou vingerpunte, soos (Figuur 1 tot 3):
- NDVI-beelde.
- Fisiese grondkarteringskaarte.
- Grond- en gewaspotensiaalkaarte.
- Chemiese kaarte.
- Stroperkaarte.
- Regstellingskaarte (kalk-, fosfaat- en kaliumregstellings).
Moenie langer in die duister rondtas rondom jou presisieboerdery-data nie. Teken nou aan op NWK Online en wees altyd een tree vooruit.


