Daar word beweer dat ’n mens ongeveer 35 000 besluite per dag neem. Daar is onwillekeurige besluite en dan besluite wat vir sommige mense makliker is, soos onder andere hoe laat om in die oggend op te staan, wat om aan te trek en wat om te eet.
Die moeiliker besluite wat geneem moet word, is gewoonlik die tipe besluite wat ’n gesin se toekoms kan beïnvloed of daaglikse besluite wat in die werkplek geneem moet word. Dit moet boonop dikwels vinnig geskied, met min tyd vir behoorlike oorweging.
Niemand kan vooraf sê of die uiteinde van ’n besluit positief of negatief gaan wees nie. Net die tyd sal leer. Daarom is dit belangrik om vooraf – indien dit moontlik is – seker te maak van al die feite voordat ’n groot besluit geneem moet word.
Een van die vrae wat die afgelope paar jaar gereeld in die boerdery-omgewing gevra word, is watter bewerkingsmetode die beste is. Daar is ongelukkig nie net een regte antwoord op hierdie vraag nie. Daar is bloot te veel faktore wat die antwoord op hierdie vraag kan en gaan beïnvloed.
Hierdie artikel gaan poog om die belangrikheid van inligting vir besluitneming uit te wys. Die volgende is onder andere ’n paar van die faktore wat besluitneming rondom die verandering van bewerkingsmetodes kan bemoeilik:
- Hoekom moet bestaande bewerkingsmetodes op ’n plaas verander word?
- Is die grond (hulpbron) geskik om die spesifieke veranderings in bewerkingsmetodes aan te bring?
- Is daar voldoende inligting oor die grond (hulpbron) beskikbaar om só ’n besluit te kan neem?
- Hoe gaan hierdie veranderings die res van die boerdery beïnvloed?
- Wat gaan die uitwerking op die boerdery se winsgewendheid wees?
- Hoeveel kapitaal is nodig om die veranderings aan te bring?
- Hoe vinnig kan die veranderings aangebring word?
- Gaan ander vertakkings die moontlike verlies aan inkomste in die oorgangsproses kan subsidieer?
Die antwoorde op bogenoemde vrae gaan van plaas tot plaas verskil. Drie van die grootste redes vir dié verskille kan aan die tipe grond, die geskikste bewerkingspraktyke wat op die grond toegepas kan word en toegang tot kapitaal toegeskryf word.
Om ’n verandering aan bewerkingsmetodes te oorweeg, is akkurate en betroubare data van die plaas van kardinale belang. Die inligting kan dan met ander produsente se data en prosesse vergelyk word. Eers dán kan die uitwerking van só ’n verandering tot ’n mate bepaal word.
Datagebruik
Vir die doel van die ondersoek om verskillende bewerkingsmetodes met mekaar te vergelyk, is die Delareyville Studiegroep se data gebruik. Die doel met die verwerking van die data was nie om te bepaal watter bewerkingsmetode die beste is nie. Die hoofoorweging was om die groep produsente se betroubare data te verwerk en dan te probeer bepaal wat daaruit geleer kan word, met spesifieke verwysing na die bewerkingskoste. Met hierdie data kan elke produsent ’n ingeligte besluit neem, gebaseer op die beskikbare data vir sy eie plaas. Die volgende data is gebruik:
- Vyf produksieseisoene (2018/2019 tot 2022/2023) se finansiële syfers is verwerk.
- Vir die doel van die vergelyking, is slegs mielieverbouing ontleed.
- ’n Totaal van produsente se werklike mielie-inkomste en veranderlike koste is ontleed.
- Die groep produsente is volgens verskillende bewerkingsmetodes in drie groepe verdeel:
- Geenbewerkingsgroep: Drie produsente wat vir die afgelope vyf jaar geenbewerkingspraktyke gevolg het.
- Oorgangsgroep: Vyf produsente waarvan die bewerkings gedurende die afgelope vyf jaar gewissel het tussen konvensioneel, spoorverkeer, verminderde bewerking en geenbewerking.
- Diepwerkgroep: Vyf produsente wat jaarliks diep werk en wat ander wisselboupraktyke het as die ander twee groepe se produsente. ’n Noemenswaardige hoeveelheid grondbone word slegs deur twee produsente in hierdie groep verbou. Die opvolggewas op grondboonlande is mielies.
- Die vyf produksieseisoene se hektare, mielie-opbrengs en reënvalsyfers saam met uitgawes soos onkruid- en plaagdoders, brandstof en herstel- en onderhoudskoste is per produsent en per groep ontleed.
- In dié vyf jaar is die totale veranderlike koste, inkomste en marge bo veranderlike koste vir mielieverbouing ook ontleed.
- Sover moontlik is geweegde gemiddeldes gebruik om die drie groepe met mekaar te vergelyk.
Totale hektare
In Grafiek 1 word die totale hektare mielies wat in elke groep gedurende die vyf jaar aangeplant is, aangedui. Die grootste wisseling tussen produsente het in die oorgangsgroep voorgekom.
- Produsente in die geenbewerkingsgroep het in die vyf jaar 7 392 ha mielies in totaal aangeplant.
- Die oorgangsgroep het in totaal 25 969 ha mielies in dieselfde tydperk geplant. Die grootste wisseling in hektare aangeplant het in hierdie groep voorgekom.
- Die diepwerkgroep se produsente het in totaal 7 967 ha mielies geplant.
Opbrengs
In Grafiek 2 word die vyf jaar onder bespreking se geweegde gemiddelde opbrengs (t/ha) vir mielies aangedui. Die opbrengs binne elke groep is van die laagste tot die hoogste opbrengs vir die vyf jaar gerangskik. Hierdie volgorde geld vir al die grafieke. Die grootste wisseling tussen produsente het in die diepwerkgroep voorgekom.
- Die geenbewerkingsgroep se geweegde gemiddelde opbrengs per hektaar was 5,81 t/ha. Dié groep se gemiddelde opbrengs was die hoogste.
- Vir die vyf jaar was die oorgangsgroep se gemiddelde opbrengs 5,52 t/ha. Die wisseling tussen die laagste en hoogste opbrengs is die kleinste van die drie groepe.
- Die diepwerkgroep se gemiddelde opbrengs van 4,88 t/ha was die laagste. Wisseling binne dié groep was ook die grootste. Die twee beste opbrengste in hierdie groep val onder die topvyf opbrengste in die hele studiegroep vir die vyf jaar onder bespreking, terwyl die drie swakste opbrengste vir die vyf jaar ook in hierdie groep is. Dit kan hoofsaaklik aan die verskillende praktyke binne die groep toegeskryf word. Die twee produsente wat ’n gemiddeld van hoër as 6 t/ha vir die vyf jaar gekry het se wisselboupraktyke behels onder andere mielies wat grondbone opvolg.
Reënval
Net om seker te maak dat die klimaat nie een van die groepe bevoordeel het nie, word die afgelope vyf jaar se reënval in Grafiek 3 uitgebeeld. Die reënval het nie baie verskil tussen die individuele produsente en selfs tussen die drie groepe nie.
Die laagste gemiddelde reënval vir die hele studiegroep was 404 mm in die 2018/2019-produksieseisoen, terwyl die 758 mm reën in 2021/2022 die hoogste was. Die vyf jaar se gemiddelde verspreiding van reënval was soos volg gewees:
- September tot Maart = 86,7%.
- April tot Augustus = 13,3%.
Die twee jare met die grootste afwykings vanaf die vyfjaargemiddeld was 2021/2022 met ’n 79%/21%-verdeling, asook 2022/2023 met ’n 92%/8%-verdeling.
Inligting vir besluitneming
Ongeag die bewerkingsmetodes word goeie opbrengste steeds behaal. Die klem kan dus nie op die opbrengs alleen wees om ’n keuse tussen verskillende bewerkingsmetodes te maak nie. Daar moet ook na ander inligting soos die koste en bemarking van graan gekyk word.
Vir die doel van die ondersoek is daar besluit om die klem vir eers slegs op sekere van die veranderlike insetkoste te plaas. Die redenasie is nog altyd dat verminderde bewerking, wat in wese minder diesel per hektaar beteken, deur verhoogde chemiese behandeling uitgebalanseer word. Die beste manier om hierdie redenasie te probeer beantwoord, is om na die werklike koste soos dit in die praktyk spandeer word, te kyk.
Onkruid- en plaagdoders
In Grafiek 4 word die drie groepe en die produsente se gemiddelde koste vir onkruid- en plaagdoders vir die vyf jaar aangedui.
- Soos verwag was die geenbewerkingsgroep se gemiddelde koste vir die vyf jaar die hoogste – R1 244/ha.
- Die oorgangsgroep se gemiddelde koste van R956/ha was R288/ha goedkoper as die geenbewerkingsgroep se koste. Drie van die vyf produsente in hierdie groep se koste was baie dieselfde as die geenbewerkingsgroep se koste. Dit kan daaraan toegeskryf word dat hulle alreeds ernstig besig is met verminderde en selfs geenbewerkingspraktyke op sommige van hulle lande.
- Die diepwerkgroep se koste was die goedkoopste – die R829/ha was R415/ha goedkoper as dié van die geenbewerkingsgroep.
Die algemene verwagting dat geenbewerking se chemie duurder as dié van die ander groepe behoort te wees, is deur die studiegroep se data bevestig. Vyf jaar gelede was die geenbewerkingsgroep se gemiddelde onkruid- en plaagdoderkoste 50% duurder as die diepwerkgroep se koste. In die vyfde jaar het hierdie verhouding egter na 26% verklein. Aangesien die produkte se koste vir almal verhoog het, beteken dit dat die ander groepe se chemiese uitgawes egter ook gestyg het.
Brandstof
By die brandstofkoste word die teenoorgestelde tendens as wat by onkruid- en plaagdoders voorgekom het, waargeneem. Volgens Grafiek 5 wissel die brandstofkoste baie tussen die groepe en is die wisseling individueel binne die groepe ook noemenswaardig. Dit kan waarskynlik aan verskillende landspesifieke behoeftes toegeskryf word.
Die opheffing van ’n verdigtingslaag – ongeag die bewerkingsmetode – gaan ongelukkig gepaard met verhoogde brandstofverbruik. Indien dit nodig is, moet dit gedoen word, want die moontlike verlies aan inkomste as gevolg van ’n swakker opbrengs kan baie groter wees as die ekstra koste wat hopelik eenmalig of net indien dit werklik nodig is, aangegaan moes word.
Die diepwerkgroep se brandstofkoste van R1 236/ha is R249/ha duurder as dié van die oorgangsgroep en R671/ha duurder as dié van die geenbewerkingsgroep.
Om die verskil in brandstofkoste te verifieer, kan die drie groepe se gemiddelde brandstofverbruik om mielies in die vyf jaar te produseer in Grafiek 6 gesien word.
- Ten spyte van die een plaas se 40 ℓ/ha brandstofverbruik, was die geenbewerkingsgroep se gemiddelde brandstofverbruik 29,2 ℓ/ha. Die rede vir die 40 ℓ/ha kan hoofsaaklik aan grondregstelling toegeskryf word.
- Die oorgangsgroep se gemiddelde brandstofverbruik was 54,3 ℓ/ha. Die 72,3 ℓ/ha in die groep is as gevolg van sommige lande wat nog diep bewerk word as gevolg van die spesifieke gewas wat aangeplant is. Daar is eers in die laaste drie jaar met verminderde bewerking en spoorverkeer begin, en in die laaste twee jaar het oorskakeling na geenbewerking deel van die bewerkingsproses op die plaas geword.
- Binne die diepwerkgroep was daar groot wisseling, wat hoofsaaklik aan die verskillende praktyke in die groep toegeskryf kan word. Die groep se gemiddelde brandstofverbruik van 65 ℓ/ha is, soos verwag, die hoogste.
Gesamentlike uitwerking van chemie en brandstof
Die algemene gevoel was altyd dat minder meganiese bewerking, wat tot laer brandstofkoste lei, deur hoër chemiese koste uitgebalanseer word. Delareyville Studiegroep se syfers wat vir die vyf produksiejare ontleed is, toon dat daar wel ’n verskil is, maar die gemiddelde verskil vir die vyf jaar tussen die hoogste en laagste koste was slegs R254/ha.
Alhoewel heelwat minder as verwag, is die algemene gevoel tot ’n groot mate bevestig. In Grafiek 7 is die chemiese en brandstofkoste bymekaar gevoeg om die totale koste van die twee insette vir die vyf jaar met mekaar te vergelyk.
Wanneer die drie groepe se gemiddeldes met mekaar vergelyk word, is die oorgangsgroep se koste per hektaar R134/ha hoër as dié van die geenbewerkingsgroep en R120/ha laer as dié van die diepwerkgroep, terwyl die geenbewerkingsgroep se koste R254/ha (14,03%) laer as dié van die diepwerkgroep was.
Dit is baie belangrik om te besef dat daar in ’n vergelyking soos hierdie nie net na die drie groepe se gemiddeldes gekyk moet word nie. In Grafiek 7 is die verskille per plaas in elke groep en selfs tussen die 13 produsente duidelik waarneembaar.
Die twee plase in die geenbewerkingsgroep met die laagste geweegde gemiddelde koste per hektaar was gemiddeld slegs R151/ha laer as die twee plase in die diepwerkgroep met die laagste koste.
Dit is interessant dat die diepwerkgroep se plaas met die hoogste gekombineerde koste slegs R58/ha duurder as die geenbewerkingsgroep se plaas met die hoogste gekombineerde koste was.
Selfs nou, met al hierdie inligting tot produsente se beskikking, is die beste bewerkingsmetode nog nie voor die hand liggend nie. Die feit dat elke plaas en boerdery verskil en verskillend hanteer moet word, is alreeds bewys.
Herstel- en onderhoudskoste
Nóg ’n faktor wat in ag geneem moet word, is herstel- en onderhoudskoste. Dit loop hand aan hand met die hoeveelheid meganiese bewerking wat op plase gedoen word. Vir begrotingsdoeleindes is dit baie moeilik om die verwagte randwaarde te begroot. Daarom is rekordhouding baie belangrik om die werklike data van ’n vorige jaar of jare te kan gebruik.
In Grafiek 8 kan gesien word dat geenbewerking, met die laer brandstofverbruik as gevolg van minder meganiese bewerkings, se herstel- en onderhoudskoste van R228/ha die laagste van die drie groepe is. Dit is ondanks die feit dat een van die produsente in een van die jare baie meganiese probleme gehad het.
Die oorgangsgroep se gemiddelde koste van R371/ha is R143/ha hoër as die geenbewerkingsgroep se koste, maar R101/ha goedkoper as die diepwerkgroep se koste van R472/ha.
Kry ’n geheelbeeld voordat ’n besluit geneem word
Wanneer chemie, brandstof, herstelwerk en onderhoud bymekaar getel word, lyk die koste soos volg:
- Vir die vyf jaar was die geenbewerkingsgroep se gemiddelde koste R2 038/ha.
- Die oorgangsgroep se gemiddelde koste vir die vyf jaar was R2 315/ha.
- Die diepwerkgroep se gemiddelde koste vir die vyf jaar was R2 536/ha.
Dit bly steeds ’n moeilike besluit om tussen die verskillende bewerkingsmetodes te kies, maar met bogenoemde inligting en data kan ’n besluit makliker geneem word.
Volgens hierdie data is die gemiddelde koste van diepwerk ongeveer 24,44% hoër as dié van geenbewerking. Dit is sonder om die aanvanklike kapitale belegging in berekening te bring.
Alhoewel bogenoemde koste ’n uiters belangrike oorweging is vir die moontlike verandering van bewerkingsmetodes, is dit tog belangrik om te bepaal hoe die drie groepe se winsgewendheid ten opsigte van mielieverbouing in totaal met mekaar vergelyk.
Dit bly altyd belangrik om ’n geheelbeeld te probeer visualiseer. In Tabel 1 word die drie groepe se totale veranderlike koste, verkope en marge bo veranderlike koste vergelyk. Uit Tabel 1 se vergelyking van gemiddeldes is dit duidelik dat die opbrengs ’n baie groot invloed op die winsgewendheid het.
Die geenbewerkingsgroep se totale veranderlike koste per hektaar was die hoogste. Daarteenoor was die gemiddelde prys per ton ontvang oor vyf jaar die laagste, maar tog was die gemiddelde marge bo die veranderlike koste vir hierdie groep die beste.
Grafiek 9 wys presies hoe gevaarlik gemiddeldes kan wees. Daarom is dit altyd belangrik om inligting reg te interpreteer.
- Geenbewerkingsgroep: As dit nie vir die R12 523/ha marge van die een plaas in die groep was nie, sou die gemiddelde marge heelwat laer gewees het.
- Diepwerkgroep: Dieselfde kan van die groot wisseling in die diepwerkgroep gesê word. Die laagste drie plase in hierdie groep se gemiddelde marge oor die vyfjaartydperk was R5 297/ha, terwyl die twee plase wat die beste gedoen het se gemiddeld R11 405/ha was.
- Oorgangsgroep: Die wisseling in hierdie groep was die kleinste, maar die verskil tussen die hoogste en laagste plaas was steeds R4 539/ha.
Dit is algemeen bekend dat produsente wat vir ’n paar jaar geenbewerkingspraktyke volg se brandstof- en herstelkoste baie afgeneem het. Daarmee saam het veral die ure wat trekkers per jaar gebruik word, baie afgeneem.
Om te bepaal of dit wel die geval is, het een van die produsente data beskikbaar gestel om die tyd per hektaar tussen gewone bewerking en geenbewerking te vergelyk. Die studie het duidelik getoon dat die ure op die geenbewerkingslande 56% minder was as op die lande waar daar diep gewerk is en onkruid meganies en chemies beheer is.
Gevolgtrekking
Bogenoemde vergelykings bewys net weer dat besluite nie oorhaastig geneem moet word nie en dan ook vir die regte redes geneem moet word. Verkeerde besluite kan nadelige finansiële gevolge teweegbring.
Nadat voldoende inligting en feite ingesamel is, kan ’n besluit soos hierdie geneem word, maar die moontlike kapitale belegging moet vooraf bereken en begroot word. Die tydperk wat dit gaan neem om die verandering doeltreffend te doen, moet ook vooraf bepaal word.
In Grafiek 9 kan gesien word dat een van die drie produsente in die geenbewerkingsgroep ’n gemiddelde marge van meer as R10 000/ha gerealiseer het. In die oorgangsgroep is daar ook net een produsent wat dit kon vermag. In die diepbewerkingsgroep het twee produsente meer as R10 000/ha gerealiseer. Dit bewys dat elke produsent se plaas verskil en dat elke produsent spreekwoordelik “met sy grond moet praat” om te kan besluit wat die heel beste uitkoms behoort te wees.
Dat verminderde bewerking, spoorverkeer en geenbewerking die pad vir die toekoms is, kan nie geïgnoreer word nie, maar kyk en ontleed asseblief eers die grond voordat finaal besluit word.
Vooruitgang kan slegs gebeur wanneer die regte aanpassings gemaak word. Daar sal altyd ’n mate van risiko saam met sulke besluitnemings wees. Die geykte spreekwoord, “Wie nie waag nie, sal nie wen nie”, is egter heel gepas hier.
Bronnelys
Krockow EM, 2018. How many decisions do we make each day? https://www.psychologytoday.com/za/blog/stretching-theory/201809/how-many-decisions-do-we-make-each-day
Smook A, 2023. Rekordhouding van 2022/23-bewerkingspraktyke op plaas. Ongepubliseerde verslag. Plaas Kameelboom. Sannieshof
Van Rooyen M. Boerdery-bedryfsontleding vir Delareyville Studiegroep, 2018/19 tot 2022/23. Ongepubliseerde verslag. Departement Finansiering, NWK Beperk. Lichtenburg
*Met dank aan lede van die Delareyville-studiegroep wat hulle data beskikbaar gestel het.