Gee aandag aan oorlêlande
Dit is nou die gepaste tyd om chemiese regstellings op oorlêlande te doen. “Gegewe die koste van kalk en ander misstowwe, maak dit ekonomies sin om dit wisselend te doen en slegs op dié gedeeltes regstellings te doen waar dit nodig is – in plaas daarvan dat die hele land teen ’n algemene peil bekalk of bemes word,” sê Eric Louw, bestuurder: Presisieboerdery by AgTech@NWK.
Hy noem ook dat daar nou oorgenoeg tyd is om verdigte sones in die lande by wyse van ’n penetrometer op te spoor en dan die regte bewerkings vir die komende seisoen uit te voer. AgTech@NWK se grondverdigtingsdiens is spesifiek vir hierdie doel ontwerp. Advies rakende voorgestelde bewerkingspraktyke is deel van dié diens.
Evalueer gewasse om probleme vinnig reg te stel
Februarie en Maart is die ideale tyd om die gewasprestasie te evalueer en probleemaspekte te identifiseer sodat dit reggestel kan word. Dit kan gedoen word deur wortelontwikkeling in profielgate te bestudeer en deur sapontledings en/of blaarontledings te laat doen om die vlakke van plantvoeding te evalueer. Satellietbeelde is ook van waarde om gebiede in lande wat onderpresteer, te identifiseer. Profielgate en plantontledings kan spesifiek in dié gebiede gedoen word.
Ondersoek nou die gewasse vir siektes en plae en indien nodig, neem aksie om dit te beheer. Let veral op na grysblaarvlek en noordelike blaarskroei op mielies, hoekige blaarvlek op sonneblom en vroeë en laat blaarvlek op grondbone.
Insekplae wat dopgehou moet word, is landmeterruspes op sonneblom en bolwurm op sojabone. Sclerotinia op beide sonneblom en sojabone is tans nog ’n onbeheerbare siekte. Toetse vir aalwurmgetalle in die grond kan ook nou sinvol gedoen word. Skakel gerus ’n landboukundige by AgTech@NWK om jou hiermee by te staan.
Benut die NWK Online-toep
- Opgedateerde satelliet- en NDVI-beelde van die hele NWK-bedieningsgebied word elke vyf dae op die NWK Online-toepassing bygevoeg. Dit kan ná registrasie op die toepassing gratis deur ’n selfoon, tablet of rekenaar bekom word. ’n Skakel hiervoor is op NWK se webwerf beskikbaar. Die produsent se lande moet korrek aan die toepassing gekoppel word om die volle funksionaliteit daarvan te ontsluit. Kontak jou silobestuurder om die koppelings van lande te doen of regstellings te maak.
- Indien die boerdery se chemiese presisie by AgTech@NWK Presisieboerdery gedoen is, is dit ook op die NWK Online-toepassing beskikbaar en kan dit in die lande gebruik word om probleme by swak presterende kolle te identifiseer.
- Grondpotensiaal-kaarte is ook op dié toepassing beskikbaar en kan dan gebruik word om die gewasprestasie in sekere gebiede te verklaar.
Kry weidings gereed
“Die tweede stikstofbemesting kan waar van toepassing nou toegedien word, indien voldoende reën geval het,” sê Pieter le Roux, hoof-diere- en weidingswetenskaplike by NWK. Hy gee ook die volgende raad:
- Finale voorbereidings vir Februarie/Maart-aanplantings moet ook nou gedoen word. Verseker ’n onkruidvrye, fyn en goed voorbereide saadbed, waarvan die voedingstofstatus reeds reggestel is, om in te plant.
- Vleikampe kan nou rus om moontlik later nog ’n keer benut te word of uit te groei en saad te skiet. Vee kan voortgaan om die soetveld te benut.
- Suurveld behoort reeds opgevreet te wees. Laasgenoemde begin nou uiters onsmaaklik raak.
Boere bid saam vir uitkoms
Meer as 30 produsente het op 5 Desember in die Oos-Vrystaat by ’n vierrigtingstop bymekaar gekom om te bid vir reën en ander behoeftes wat die boere in die omgewing van Paul Roux, Kaallaagte en Arlington ervaar. Hulle het produsente in ander dele van die land aangemoedig om ook sulke byeenkomste te hou, waar daar saam gebid word – nie net tydens moeilike tye nie, maar ook om dankie te sê wanneer dit goed gaan.
Bron: landbou.com
Raad vir veeprodusente
Die skaapdekseisoen nader sy einde. Dragtigheidsondersoeke kan vanaf drie weke ná die einde van die dekseisoen gedoen word. Meerlingooie moet voor en ná lamtyd in ’n spesiale bestuursgroep geplaas word.
Volgens Pieter le Roux moet geen inentings met lewendige entstowwe tydens dragtigheid gedoen word nie, aangesien dit tot embrio-afsterwing of -afwykings kan lei. Raadpleeg dus jou veearts indien sulke inentings nodig is.
Ontwurm strategies en doseer slegs diere wat besmet is. Hou rekord daarvan en selekteer teen diere wat chronies besmet raak.
Beeskuddes in ’n somerdekseisoen behoort reeds sedert begin Desember of Januarie in hul dekseisoen te wees. Dragtigheidsondersoeke kan vanaf twee maande ná dektyd gedoen word. Gee ’n somerlek (P6 of P12, 50/50 gemeng met sout) ad lib aan beeskuddes.
Skuiling teen die hitte
Richard Kotze van Bayer het dié unieke oomblik tydens ’n plaasbesoek vasgevang. Twee duikertjies het kom skuiling soek teen die versengende hitte in Noordwes. Die gedrag van die bokkies is baie ongewoon en dit is duidelik dat hulle hittestres ervaar het.
Ontmoet die nuwe landboukundige
Naam: Kyle Taylor (22)
Kwalifikasie: B.Agric Landboubestuur
1. Waarom het jy dié studierigting gekies?
Ek het op dié studierigting besluit omdat ek nog altyd ’n baie groot passie vir die natuur en landbou het.
2. Wat hoop jy om in dié pos te bereik?
Ek werk om eendag een van die beste landboukundiges in my bedryf te wees en soveel moontlik bystand te bied aan mense wat dit benodig, asook om tot die maatskappy se sukses by te dra.
3. Hoe het jy in Lichtenburg beland?
Ek kom van Meyerton (Gauteng) en het by ’n vriend wat by NWK werk van die pos wat geadverteer is te hore gekom. Die posbeskrywing was presies wat ek wou doen.
4. Wat doen jy in jou vrye tyd?
In my vrye tyd geniet ek verskeie buitemuurse aktiwiteite, soos skiet, jag en sport (rugby en gym). Ek maak ook seker dat ek gereeld saam met my vriende kuier.