Die gesegde “Uit die oog, uit die hart” is ’n kolskoot as dit by die beskrywing van aalwurms kom. Omdat hulle nie met die blote oog sigbaar is nie, dink baie produsente nie eers aan aalwurms of aan die moontlike skade wat deur hierdie diertjies berokken kan word nie.
Aalwurmprobleme is aan die toeneem – dit kan duidelik gesien word aan die hoeveelheid monsters, asook die probleme wat dikwels met die stuur van hierdie monsters na die analitiese laboratorium by LNR-Graangewasse gepaardgaan.
Soms kry plantsiektes wat deur fungusse en bakterieë veroorsaak word die skuld, maar as daar dieper na die probleem gekyk word, is dit dikwels ’n sekondêre probleem wat oorspronklik deur aalwurms veroorsaak word. Die skade wat aalwurms aan die wortels aangerig het, baan dan dikwels die weg vir ander plantsiektes.
Om sake verder te kompliseer, word aalwurmsimptome dikwels ook verwar met simptome wat deur versuiping, voedingstekorte of chemiese skade veroorsaak word. Dan word verkeerde diagnoses gemaak, wat die produsent geld uit die sak jaag terwyl dit steeds sy oesopbrengs negatief beïnvloed.
Eerste tekens van aalwurmbesmetting
Die eerste tekens van aalwurmskade sou teen Januarie begin duidelik word. Teen daardie tyd sou die aanplantings net oud genoeg wees om deur aalwurms geaffekteer te wees.
Tipiese simptome wat as waarskuwing kan dien, sluit in vergeelde, verdwergde of verlepte plante, al is daar voldoende vog. ’n Aalwurmpopulasie is nooit eweredig oor ’n land versprei nie en daarom sal die simptome ook in kolle voorkom (Foto 1).
As sulke simptome in vasgestelde rye of strepe voorkom, sal dit eerder ander tipe probleme wees en nie aalwurms of plantsiektes nie. Wanneer onraad vermoed word, is dit dus raadsaam om eerder grond en wortelmonsters na ’n gekwalifiseerde nematoloog te stuur. Dit kan hier geanaliseer word en die probleem kan dan betyds en korrek geïdentifiseer word, sou dit aalwurms wees al dan nie.
Die ideale monster
WAT IS NODIG VIR ’n AALWURM-ANALISE?
Die ideale aalwurmmonster sluit wortels en grond in. As die gewas sy oes onder die grond dra (soos byvoorbeeld aartappels), is dit raadsaam om die knolle ook in te sluit. Dit is nie ’n goeie idee om net na die grond te kyk nie omdat dit ’n gewaarborgde resep is om die knopwortelaalwurm, wat tans die algemeenste “probleemkind” is, mis te kyk.
Knopwortelaalwurm spandeer die grootste gedeelte van sy lewensiklus in die wortels. Die enigste stadium (van vier stadia) wat in die grond voorkom, is die larwe wat vars uit ’n eiertjie gebroei het.
Hierdie larwe het ’n baie klein vensterperiode waarin hy so vinnig as moontlik ’n wortel moet opspoor om in te dring, anders sal hy vrek. Hulle word dus baie maklik gemis as die grondmonster nie presies tydens die uitbroeiproses (wat onvoorspelbaar is) geneem word nie.
TYD OM MONSTERS TE NEEM
Die beste tyd om aalwurm-analises te laat doen, is tydens die gewas se blomtyd omdat die aalwurmpopulasie dan op sy hoogste piek in terme van getalle is. Dit is wel moontlik om voor (die plante moet dan minstens agt weke oud wees) of ná blomtyd monsters in te bring.
Ongelukkig val die meeste aalwurmdoders se weerhoudingstydperk (waar jy dit nie meer mag gebruik nie) reeds in blomtyd. Enige aanbevelings wat dan gemaak word, is uiteraard eers op die nuwe seisoen van toepassing. As daar wel ’n geskiedenis van aalwurmprobleme in daardie omgewing voorkom, is dit wys om met planttyd voorkomend aalwurmbeheer toe te pas.
DOEN DIT SÓ
- Spit die hele plant se wortelstelsel met die grond rondom dit uit (Foto 2) en sit dit net so in ’n plastieksakkie (Foto 3).
- Die bogrondse gedeelte van die plant kan afgesny word, want al die aalwurms sal in die wortels of in die grond direk rondom die wortelstelsel wees (Foto 4).
- Merk die monster duidelik sodat hierdie verwysing gebruik kan word as die verslag uitgestuur word (Foto 5).
- Hou die monsters in die koelte en moenie dat dit in die son bak nie.
- Indien die monsters nie dadelik per koerier na die laboratorium gestuur kan word nie, kan dit nog vir sowat twee dae in die yskas gehou word. Op dié manier sal die aalwurms nie verder aanteel in die hitte en die monsters sodoende ’n foutiewe beeld gee van wat werklik in die land aangaan nie.




Stuur monsters na:
LNR-Instituut vir Graangewasse
Hendrik Schoeman-gebou
Chris Hani-rylaan 114
Potchefstroom
2520
Sluit ’n folio of besigheidskaartjie met die kliënt se kontakbesonderhede by die pakkie in.
’n E-posadres moet verkieslik ingesluit word sodat die verslag daarheen gestuur kan word. Merk die pakkie vir aandag: Dr Sonia Steenkamp.
Dis wat met die monsters gebeur
Uit elke wortel en grondmonster word drie ekstraksies gedoen, naamlik:
- Grond (200 cm3): Dit is waar al die eksterne plantparasitiese aalwurms voorkom wat nie die wortels binnedring nie en net van buite af voed.
- Wortel (5 g): Dis waar die aalwurms wat in die wortels voorkom, onttrek word.
- Wortel (50 g): Hierdie tegniek is spesifiek vir knopwortelaalwurm ontwikkel, waar die gelatienlagie om die wyfies se eierpakkies opgelos word sodat die eiertjies loskom. Die eiers word dan getel om te bepaal wat die stand van die knopwortelaalwurm-populasie in daardie spesifieke monster is.
Koste: Elkeen van die analises kos R280 (BTW ingesluit). ’n Volledige aalwurm-analise sal dus R840 kos. Dit is raadsaam om al drie analises aan te vra omdat elke onttrekking op verskillende aalwurms fokus en dit saam ’n betroubare prentjie skets oor wat in die spesifieke land aangaan.
Tydperk: Die hele proses word binne vyf werksdae afgehandel. As die laboratorium nie te besig is nie, bestaan die kans dat ’n produsent sy verslag al op dieselfde dag of die volgende dag nadat die monsters ontvang is, kan kry.