Die produsent moet jaarliks sy/haar opsies heroorweeg, aangesien die speenkalfprys en voerpryse van jaar tot jaar wissel, net soos seisoene in opeenvolgende jare van mekaar verskil en die beskikbare ruvoer op die plaas dus ook wissel.
Speentyd is op hande in die somerreënvalgebied (normaalweg vanaf Maart tot Mei). Wat is die produsent se opsies indien die speenkalfprys sodanig daal dat hy voel hy gaan ’n verlies maak as hy verkoop? Volgens Maré (2024) is daar basies drie opsies om te oorweeg, naamlik veldvoorbereiding (backgrounding), ’n osstelsel of om waarde toe te voeg deur self prosessering te doen.
Veldvoorbereiding
Volgens Hofmeyr (2024) is die definisie van backgrounding ’n produksiefase waartydens jong diere, tipies pas-gespeende kalwers, in ’n voerprogram opgeneem word waarin hulle primêr vir afronding voorberei word, hetsy in die kraal of vanaf weiding (Phillips, 2021).
In die somerreënvalgebied word dektye só beplan dat koeie in die lente kalf en kalwers in die herfs gespeen word. Indien hierdie kalwers vir die veld voorberei moet word, sal dit tipies op oesreste, veld of verkieslik aangeplante weiding gedoen word. Hulle sal tipies ook met ’n groeistimulant behandel word.
Veldvoorbereiding op weiding moet slegs oorweeg word indien daar teen speentyd voldoende ruvoer op die plaas beskikbaar is. Waar nodig, kan klein hoeveelhede byvoeding (gewoonlik kragvoer en soms ruproteïen, afhangend van die weiding se gehalte) aangevul word om groei tot op ongeveer 280 kg gewig te bevorder – dus sowat 60 kg tot 80 kg gewigstoename.
Indien verwag word dat die prys per kilogram kalf vir swaarder kalwers laag gaan wees, gaan ekstra gewig nie veel help nie. Oorweeg dit slegs indien daar werklik meer voer beskikbaar is as wat op die plaas benodig word. Maak ook seker of verhuring nie dan selfs ’n meer winsgewende opsie sal wees nie (Maré, 2024).
Volgens Phillips (2021) kan veldvoorbereiding ook in die kraal (sogenaamde dry lot) gedoen word. Veld sal altyd die goedkoopste ruvoerbron wees om diere mee te background, maar die kraalopsie hou ook sekere voordele in. Dié opsie maak byvoorbeeld akkurate rantsoenformulering moontlik.
Daarby is verskillende voedingstelsels, wat kan wissel van volledig of totaal gemengde rantsoene (TGR’e) tot verskillende kafeteriastelsels, moontlik. Verder kan individuele diere se gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) en voerinname noukeurig gemonitor word.
Daar is ook gevind dat die GDT hoër is by die kraalstelsel as by veldvoorbereiding (Phillips, 2021). Groei van tussen 500 g en 1,2 kg per dag kan verwag word. Die groei behoort hoofsaaklik in been en spier te wees, afhangend van die rantsoen se stysel- en energie-inhoud. Die doel hier is om raam te bou en nie soseer om te begin vet aansit nie.
Met die weidingstelsel is die oorgang ná speen makliker as vir die kraalstelsel van backgrounding. Kalwers in die weidingstelsel moet egter steeds uiteindelik voerkraal toe skuif, waar hulle dan weer deur ’n aanpassingsperiode sal moet gaan. Met die kraalstelsel is die voordeel dat diere vanaf die backgrounding-fase soomloos oorgaan na die volwaardige voerkraalfase, aangesien hulle reeds aan die krale gewoond is.
Backgrounding werk slegs waar voldoende selfgeproduseerde ruvoer op die plaas beskikbaar is of waar sodanige ruvoer teen ’n winskoop verkry kan word. Die verhoogde gehalte van groenvoer of ander aangeplante weidings verminder die behoefte aan veral aangekoopte ruproteïen en dit kan selfs onnodig wees. Waar selfgeproduseerde ruvoer egter beperk of nie beskikbaar is nie, is dit beter om kalwers eerder direk ná speen te verkoop.
Ander voordele
’n Betekenisvolle voordeel van backgrounding is dat die produsent baie meer buigsaamheid in die tyd van bemarking van sy kalwers het. Dit bied die geleentheid om moontlik beter pryse te kan behaal.
Kalwers wat vanaf ’n backgrounding-stelsel in die voerkraal inkom, toon ’n verlaagde voorkoms van siektes en laer mortaliteit omdat hulle ouer, groter en sterker is as pasgespeende kalwers. Prosessering word ook tipies gedurende die backgrounding-fase gedoen, dus kom die diere met verhoogde immuniteit in die voerkraal in.
Nog ’n voordeel met backgrounding is dat ’n mens onderpresteerders makliker kan identifiseer en uitskot voor hulle in die voerkraal beland, waar hulle waarskynlik te stadig en teen ’n verlies gaan groei. Sulke kalwers wat tydens die backgrounding-fase uitsak, kan as ligter speenkalwers teen ’n moontlike beter prys per kilogram gewig verkoop word om te voorkom dat hulle tydens die voerkraalfase verliese tot gevolg het (Backgrounding, MLA).
Backgrounding bied ook meer gemoedsrus aan die voerkraal (aankoper) omdat hy ’n sterker speenkalf inneem, wat minder vatbaar is vir siektes en ook oor ’n beter groeipotensiaal beskik.
Verdere oorwegings
Volgens Phillips (2021) is daar nog geen duidelike riglyne in Suid-Afrika oor watter kalwers uit die trop ge-background moet word nie. Sommige produsente glo dat die swaarder kalwers direk ná speen aan voerkrale bemark moet word en dat die ligter groep ge-background moet word. Verder is daar ook nog nie bewese riglyne oor hoe lank diere ge-background behoort te word nie. Dit wissel tans van een maand tot soveel as 18 maande.
Hofmeyr (2024) voer aan dat kalwers wat in die lente gebore word, by speen (Maart tot Junie) in twee groepe verdeel moet word, naamlik onder 200 kg en bo 200 kg. Die ligter kalwers word verkoop en die swaarder kalwers gaan in die backgrounding-program in. Die rede vir dié argument is dat swaarder kalwers normaalweg laer pryse per kilogram gewig behaal, veral in hierdie stadium wanneer die mark gewoonlik ’n ooraanbod van kalwers ervaar.
Die swaarder kalwers word dan tot vroeg in Desember ge-background, wanneer hulle teen 400 kg tot 480 kg geslag kan word (GDT van ongeveer 850 g), in ’n tydperk wanneer vleispryse normaalweg hoër is (sien asb “Osstelsel” hierna).
Phillips (2021) wys verder daarop dat die graan/speenkalf-prysverhouding beter bestuur kan word indien die produsent die opsie het om sy speenkalwers te kan background. In jare wanneer die graanpryse hoog is, kan kalwers eerder ge-background word voordat hulle na die voerkraal verskuif word, waar rantsoene ’n hoë graankomponent bevat. Net so kan kalwers ook eerder ge-background word wanneer die speenkalfprys laag is en later aan die voerkraal bemark word, wanneer pryse moontlik verbeter het.
In kort, daar is geen “algemene” of “duimreël”-program vir backgrounding nie. Elke produsent moet besluit of backgrounding finansieel sin maak vir sy of haar spesifieke boerdery, in ’n gegewe seisoen en prysscenario.

Osstelsel
In ’n osstelsel word speenkalwers teruggehou op die plaas tot op die ouderdom van ongeveer twee jaar. Die diere word op die veld afgerond tot hulle markgereed is. Wees bedag daarop dat diere in dié tyd kan wissel en dan B-grade by die slagpale kan behaal.
Die grootste kritiek teen dié stelsel is dat dit die beskikbare oppervlakte weiding vir teelkoeie verminder, aangesien hulle moet plek maak vir die osse wat teruggehou is (Maré, 2024).
Osstelsels word oor die lang termyn uitgevoer en kan nie sonder meer ingebring word of verander word na gelang van die markpryse nie. Wees dus bedag daarop dat wanneer op dié stelsel besluit word, dit nie maklik weer verander kan word nie.
’n Osstelsel vaar normaalweg beter wanneer die speenkalfpryse laag is. Daar gaan dus jare wees wat die verkoop van speenkalwers winsgewender sou wees.
Gesondheidsprosessering
Hierdie is die jongste neiging om ook waarde toe te voeg tot die produsent se produk (Maré, 2024). Daarby raak die direkte bemarking aan voerkrale al meer lonend en gewild. Produsente kan met spesifieke voerkrale onderhandel vir ’n premie op hul produk, waar hulle die prosessering van kalwers voor bemarking reeds afhandel.
Sommige voerkrale sal selfs die voorgeskrewe middels vir behandeling aan die produsente verskaf. Produsente dra dan die bewyslas om die voerkraal te verseker dat die prosessering wel gedoen is. Die voerkraal weet dan dat die kalwers nie by hul aankoms die spanning van prosessering en hantering hoef deur te gaan nie en hulle het reeds immuniteit opgebou. Sulke kalwers is normaalweg sterker, pas vinniger en makliker aan in die voerkraal, en behaal beter groeitempo’s as ander kalwers.
Ten slotte
Daar is ander opsies as om doodgewoon die speenkalwers na die veiling te neem en die prys te aanvaar. Ondersoek die opsies, gesels met kundiges en ekonome oor die korttermyn-prysverwagtings en neem ’n goed deurdagte besluit oor die bemarking van jou produk.
Bronnelys
- Backgrounding. Meat and Livestock Australia (MLA). https://www.mla.com.au/research-and-development/feeding-finishing-nutrition/Lotfeeding-intensive-finishing/backgrounding/
- Hofmeyr I, 2024. Backgrounding calves for the feedlot. The Red Breed, Vol. 8 Nr. 2. Publikasie van Plaas Media (Edms) Bpk
- https://www.farmersweekly.co.za/animals/cattle/backgrounding-beef-animals-for-higher-profit/
- Maré F, 2023. Oorwegings vir speentyd. Veeplaas, Vol. 14, Nr. 4. Publikasie van Plaas Media (Edms) Bpk
- Phillips L, 2021. Backgrounding beef animals for higher profit. Farmer’s Weekly, 4 Julie 2021