
Die 2026 Graan SA Kongres, wat op 11 en 12 Maart aangebied is met die tema “Benut die gaping: Volhoubaarheid die kern, winsgewendheid die belangrikste”, het 615 afgevaardigdes byeengebring om een van die dringendste werklikhede in die Suid-Afrikaanse landboubedryf te takel: Die groeiende gaping tussen die produksiekoste en die opbrengste wat produsente ontvang.
Landbou in Suid-Afrika bevind hom tans in die perfekte storm. Die konflik in die Midde-Ooste kan in die volgende paar weke verskeie scenario’s tot gevolg hê wat organisasies soos Graan SA se aksies vir die volgende jaar sal bepaal.
Richard Krige, voorsitter van Graan SA, het by hul kongres, wat by Nampo Park naby Bothaville gehou is, gesê dat wye skakeling met die voorsieningsketting belangrik is.
Hy het gevra vir deursigtigheid van landboumaatskappye as dit by prysvasstelling kom, nadat dieselpryse oornag weens die heersende konflik verhoog is. Daar is vrese dat die pryse van ander insette, veral dié van kunsmis, ook gevolglik wesenlik sal verhoog.


Verhoging in dieselprys die hoogste nóg
Met die skryf van hierdie artikel op 23 Maart was alle aanduidings dat die prys van diesel met soveel as R8 per liter sou styg op Woensdag, 1 April, en dié van petrol met sowat R7 per liter.
Graan SA het drie dae vantevore ’n mediaverklaring uitgereik waarin verduidelik is dat diesel tot 15% van graanprodusente se veranderlike produksiekoste uitmaak en dat Suid-Afrika dit grootliks invoer.
“Dit maak die landbousektor besonder kwesbaar vir globale prysskokke. Die styging in die dieselprys sal boonop bykomende geldelike druk op verbruikers, vervoerkontrakteurs en sleutelsektore van die ekonomie plaas, met die impak wat veral erg op die landboubedryf is.”
Richard het voorts gesê: “Soos Suid-Afrika voorberei om wintergraan te plant en somergewasse te stroop, veroorsaak die gekombineerde invloed van stygende brandstof- en kunsmispryse een van die grootste kosteskokke vir boere in onlangse jare.
“Sonder tydelike verligting en verantwoordelike optrede deur alle rolspelers in die waardeketting, kan die impak op boerderyvolhoubaarheid en dus voedselsekerheid ernstig wees.”
Prys kunsmis verantwoordelik
Kunsmis maak tot 50% van produsente se veranderlike produksiekoste uit. Graan SA het ’n skrywe aan die Kunsmisvereniging van Suid-Afrika (Fertasa) gerig ná berigte dat sommige kunsmismaatskappye pryse weens die konflik in die Midde-Ooste wil verhoog, hoewel voorraad reeds vóór dié konflik teen laer pryse aangekoop is.
Dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, het gesê: “Die organisasie doen ’n beroep op verskaffers om opportunistiese en ongeregverdige prysstygings tydens dié uiters belangrike tydperk vir wintergraanprodusente te vermy. Ons vra kunsmismaatskappye, brandstofverskaffers en vennote in die regering om saam met ons te werk om die bedryf gedurende hierdie wisselvallige tydperk te stabiliseer. Produsente kan nie onbeperkte insetkosteskokke absorbeer nie en Suid-Afrika kan nie onderbrekings in voedselproduksie bekostig nie.”
Die organisasie het voorts dieselverskaffers en -verspreiders gevra om toe te sien dat voldoende diesel vir die wintergraan-aanplantings en die stroop van somergrane toegeken word. “Beskikbaarheid is noodsaaklik om ononderbroke voedselproduksie tydens ’n tydperk van verhoogde geopolitiese onstabiliteit te handhaaf.”
Sommige van die maatreëls wat Graan SA vereis het, sluit in:
- Tydelike belasting- of heffingsverligting om April se brandstofprysverhoging te versag.
- Regverdige en deursigtige vasstelling van brandstof- en kunsmispryse.
- Die versekering van voldoende dieselvoorsiening vir komende aanplantings en stropingsperiodes.
Hoewel produsente 40% van die algemene brandstofheffing en 100% van die Padongelukkefonds-heffing deur die dieselrabatstelsel terugkry, kan ’n tydelike uitbreiding van hierdie rabat noodsaaklike korttermynverligting bied.
“In ’n tyd waar marges reeds onder druk is, hang die volhoubaarheid van graanproduksie nie net van wêreldtoestande af nie, maar ook van hoe doeltreffend plaaslike rolspelers reageer,” het Tobias afgesluit.

Dit gaan nie net oor “N, P en K” nie
Kevin Kalb boer met mielies in Indiana in die Verenigde State van Amerika (VSA) en spog met opbrengste van tot 20 t/ha. As gasspreker by Graan SA se kongres, het hy gesê dat hulle reeds in die eerste twee weke van die konflik tussen Amerika en Iran ’n insetprysstyging van 40% ervaar het.
“Ons moes ons boerderypraktyke aanpas om volhoubaar te bly. Ons volg nie neigings nie en hoewel ons hoë opbrengste jaag, het ons geleer om doeltreffender te boer.”
Volgens Kevin speel bemesting nie meer ’n beduidende rol in die toename van graanopbrengste in Amerika nie, maar eerder saadgenetika.
Hy het verwys na wat in Amerika genoem word die moron theory – “more on does not make more yield”.
Hy gebruik reeds die afgelope 32 jaar nie meer droë kunsmis nie en vind dat vloeibare kunsmis doeltreffender deur die plant opgeneem word. Kevin is van mening dat gesonde grondbiologie die sleutel is tot verbeterde opbrengste.
“As jou opbrengste ten spyte van verhoogde kunsmis afneem … Die grond raak soos ’n dwelmverslaafde as dit groot hoeveelhede kunsmis ontvang. Dan móét die grond dit kry, want die grondbiologie is laer weens al die soute en swaar metale.”
Hy verkies om sy grond eerder met suiker te voed en gebruik hoë gehalte molasse, wat nie byprodukte bevat nie en koud verwerk is. Meer fungusse in die grond maak dit ook meer droogtebestand.
“Ons het verlede jaar sowat 35 dae aaneenlopend geen reën gehad nie en temperature van 46°C gemeet. Dit terwyl die mielies in hul graanvulstadium was. Tog het ons die beste plaasgemiddeld nóg behaal.”
Kevin laat toets gereeld monsters om sy grondgesondheid te bepaal. Die uitslae daarvan is gewoonlik minder as 48 uur later beskikbaar. “Die regte pH is baie belangrik. As jou pH te laag is, sal ek nie ’n sent op bemesting spandeer nie, maar eerder kalk.”
Hy het die belangrikheid van minerale, buiten stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K), beklemtoon. “Sink (Zn) is belangrik vir fotosintese om groot mielieblare te kweek en ons gesels te min oor koolstof (C). Sojabone roof grond van C en ek sien ’n daling in mielie-opbrengste as ek die vorige jaar sojabone daar geplant het.
“My raad aan die boere in Suid-Afrika is om hul grond te laat toets. Jy moet weet waarop jy jou geld spandeer en of dit wel deur die plant benut kan word. Grondmonsters is die enigste manier om te weet of dit wat jy doen, reg is.”
“Boere het nie nodig dat die regering vir hulle voorskryf nie”
Die minister van landbou, John Steenhuisen, het ook die kongres toegespreek. “Landbou was nog nooit ’n onderneming vir iemand wat hou van sekerheid nie. Dit gaan egter nie net meer net oor die risiko nie, maar ook oor onvoorspelbaarheid.
“Boere het nie nodig dat die regering vir hulle sê hoe om te boer nie. Hulle moet hul kennis en hulpbronne met selfvertroue kan aanwend en ons (die regering) moet ’n regverdige, voorspelbare omgewing skep.
“Die suksesvolste landbou-ekonomieë is nie dié waar die regering vir hulle sê waar om wat te plant nie, maar waar hulle sekerheid skep en hindernisse verwyder.”
Nie net is Suid-Afrikaanse produsente uitgelewer aan globale voorsieningskokke nie, maar op eie bodem is die marktoestande ook ongunstig. “Die verval van munisipale dienste is nie net meer ’n geringe ongerief nie, maar verhoog die koste vir die landbousektor aansienlik deurdat dit omsettye vertraag en hoër instandhoudingskoste tot gevolg het.”
Hy het bygevoeg dat dit belangrik is dat Suid-Afrika innovasie sal omarm en dat die regulatoriese omgewing tred hou met internasionale ontwikkelings.
Die minister het die heersende krisis rakende bek-en-klouseer (BKS) ook aangespreek. “Suid-Afrika het die afgelope 20 jaar toegelaat dat sy biosekuriteitstelsel ineenstort. Daar is baie redes hiervoor, maar die vraag is wat ons nou kan doen om dit te herstel.”
Hy het bygevoeg dat sy departement iemand sou aanstel wat uitsluitlik met biosekuriteit getaak sal wees. “Vandag is dit BKS, môre is dit die herfskommandowurm. Ons moet by ander lande leer wat biosekuriteit ernstig opneem.”
Die regering beoog om 14 miljoen beeste – sowat 80% van die land se kudde – teen BKS in te ent. Nog miljoene dosisse entstof sou die land voor einde Maart binnekom.





