Distokie (of moeilike kalwings) is ‘n realiteit vir die beesboer. Deur die regte oorsake te identifiseer en toepaslike bestuursbesluite toe te pas, kan die produsent die kere verminder waarop hy tydens ongeleë tye ‘n koei moet help om te kalf.
Vir beginner-veeprodusente word gesê: “Jy is nie ’n beesboer voordat jy nie ’n kalf tydens geboorte uit ’n koei getrek het nie.” ’n Veeboer kan ook nie beplan wanneer hulle met kalwing moet gaan help nie – soms op ’n Sondagoggend voor kerk of op ’n Vrydagaand tydens ’n betaal-naweek. Alhoewel moeilike kalwings ’n realiteit is, kan veranderings deur aanpassings in plaasbestuur aangebring word om gevalle van moeilike kalwings te beperk.
Die presiese impak van moeilike kalwings of “distokie” is onbekend in Suid-Afrika, aangesien rapportering en ’n akkurate diagnose beperk is. ’n Moontlike aanduider van die impak is wel gesien tydens onlangse studiegroep-ontledings en gesprekke met beesboere. Soos die studiegroep-ontledings getoon het, was kalwingsprobleme die grootste rede vir vrektes onder die kalweroes, asook ’n noemenswaardige rede vir vrektes of die uitskot van koeie.
In gesprekke met ander beesprodusente is opgemerk dat hulle in die afgelope nat jare meer koeie met kalwing moes help as voorheen. By ’n onlangse bulveiling is bulle nie verkoop nie omdat hul gemete geboortegewig te hoog was.
Probleme met moeilike kalwings
Moeilike kalwings kan vrektes van beide die koei en die kalf tot gevolg hê, maar daar is ook ander negatiewe nagevolge wat die winsgewendheid van ’n beesboerdery beïnvloed, selfs al is dit nie so direk soos die vee se mortaliteit nie.
VERLIESE IN KALFPRODUKSIE
Die bekende Afrikaanse sêding “aan die agterspeen suig” kom vanaf gevalle van moeilike kalwings. Produsente het al dikwels gesien dat koeie ná ’n moeilike kalwing hul kalwers anders as gewoonlik hanteer. In sulke gevalle gebeur dit dikwels dat die kalf van agter af aan die koei suip, eerder as van die sykant af soos normaalweg.
Die kalf benader die koei dan van agter af en druk sy kop tussen haar agterbene in om te suip, sodat die koei die kalf nie kan wegstamp of skop nie. Dit beïnvloed die hoeveelheid wat die kalf kan suip en vertraag sy groei. Die koei aanvaar die kalf nie heeltemal nie, wat dit laat lyk asof sy die kalf verantwoordelik hou vir die pyn en ongerief wat tydens die kalfproses ervaar is. Ná sommige traumatiese kalwings sal die koei die kalf selfs heeltemal verwerp.
VERLIESE IN VRUGBAARHEID NÁ MOEILIKE KALWINGS
Studies in melkkoeie wys dat kalwers ná moeilike geboortes ’n moontlike knou ervaar wat hul lewenslange produksie beïnvloed. Kalwers uit moeilike geboortes kon binne die eerste drie ure ná geboorte nog nie staan en suip soos dié wat normaal gebore is nie.
- Hierdie melkkalwers het gedurende die melkfase hoër siekte- en vrektesyfers gehad.
- Verse uit moeilike geboortes het ook op ’n latere ouderdom vir die eerste keer dragtig geraak.
- Koeie neem ook langer om weer dragtig te raak ná ’n moeilike kalwing as koeie wat normaal gekalf het.
Faktore wat moeilike kalwings kan veroorsaak
FUNKSIONELE DOELTREFFENDHEID VAN DIE KOEI
Baie kalwingsprobleme begin by die koei en nie by die kalf of bul nie. Sommige koeie is, eenvoudig gestel, “nie gebou om te kan kalf nie”.
As daar kalwingsprobleme in jou kudde voorkom, is dit belangrik om die koeie te inspekteer vir moontlike strukturele probleme wat moeilike kalwings kan veroorsaak. Tydens kudde-inspeksies kom strukturele probleme soos klein bekkenholtes en vernouing by die sitbene voor. Hierdie strukturele foute beperk die koei se vermoë om ’n maklike geboorte te hê, omdat die geboortekanaal se spasie beperk word.
Ander strukturele probleme sluit regophakkigheid (post legs) in. Die regop langbene van die agterkwart druk die bekken opwaarts en verklein die bekkenholte, wat kalflewering bemoeilik. Links in Figuur 1 kan die skeletbou van ’n regophakkige koei gesien word. Let op hoe klein die opening tussen die heup- (ilium) en stuitjiebene (sacrum) is. Regs is die skelet van ’n koei met ’n normale agterbeenkonstruksie, wat ’n groot opening vir die geboortekanaal tot gevolg het.

Bron: Livestock production: A global approach. (Bonsma J).
’n Reguit, plat kruis is ook ongunstig vir kalwingsgemak, aangesien koeie moet opstoot, teenoor ’n kruis met ’n effense helling na agter waardeur die kalf makliker “uitval” (Figuur 2).

Goed ontwikkelde uitwendige geslagsorgane is ook noodsaaklik vir maklike geboortes. Die uitwendige geslagsorgane gee vir produsente ’n idee van die baarmoeder se ontwikkeling in die koei, sowel as hormoonbalanse wat die koei in staat stel om te kan dragtig raak en kalf.
GENETIESE FAKTORE
Daar word onderskei tussen die direkte en maternale oorerflikheid van kalwingsgemak.
- Direkte kalwingsgemak verwys na die kalf se genetiese potensiaal om maklik gebore te word. Dit sluit oorerflike faktore soos beide ouers se geboortegewig in.
- Maternale kalwingsgemak verwys na die genetiese potensiaal van ’n koei wat haar vermoë om maklik te kan kalf, bepaal. Die sluit die lengte en breedte van die lyf, volwasse gewig en draagtyd in.
Dit is belangrik om tussen hierdie twee te onderskei, en dit is nie noodwendig positief gekorreleer nie.
Voorbeelde van waar die direkte en maternale kalwingsgemak in die praktyk gesien word:
- ’n Stoetbul vanuit ’n koeilyn met kort draagtye, swaar 18-maand-gewigte en uitstekende breedte, kan goeie maternale kalwingsgemak hê, wat beteken sy dogters gaan maklik kalf. Dieselfde bul kan weens sy grootte en breedte ander koeie wat deur hom gedek is, laat sukkel om te kalf (direkte kalwingsgemak).
- ’n Bul met goeie direkte kalwingsgemak (kalfies is klein, lank en smal by geboorte) kan dogters hê wat self later moeilik kalf weens hul smal liggame.
’n Goeie balans tussen die direkte en maternale kalwingsgemak is dus noodsaaklik.
’n Ander genetiese faktor wat die kalwingsgemak beïnvloed, is dubbelbespiering. Kalwers wat dubbeld bespier is, het swak “direkte kalwingsgemak” omdat die “oorbespierde” lyf moeilik deur die geboortekanaal van selfs struktureel korrekte koeie beweeg. Koeie met dubbelbespiering het klein onderontwikkelde geslagsorgane wat moeilik kalwers uitstoot. Die gespierde agterkwarte verdring ook die geboortekanaal verder, wat moeilike geboortes tot gevolg het.

Dit kan moontlike kalwingsprobleme tot gevolg hê.

OMGEWINGSFAKTORE
Alhoewel genetika ’n groot rol speel, word gevalle van distokie ook deur omgewingsfaktore beïnvloed.
- Ouderdom van die koei
Jong verse wat nog nie volledig uitgegroei is nie, is meer geneig om moeilike kalwings te ervaar as ouer koeie wat reeds volledig uitgegroei is of wat voorheen gekalf het.
Jan Bonsma het in die 1960‘s en 1970‘s studies gedoen oor die korrelasie tussen kalwers se geboortegewig en die ma se liggaamsgewig. Hy het bevind dat ’n kalf se geboortegewig tussen
7% en 8% van die koei se volwasse gewig moet wees. By verse is dit ongeveer 10% van hul gewig, omdat hulle slegs 85% van hul volwasse gewig bereik het teen die tyd van hul eerste kalwing.
- Voeding
Die koei se voedingstatus tydens dragtigheid het ’n groot invloed op haar kalwingsgemak. In die meeste gevalle waar distokie deur voeding veroorsaak word, hou dit eerder verband met oorvoeding as met ondervoeding.
Oorvoeding van proteïen en energie hou groot risiko‘s in vir ’n koei se kalwingsgemak. Die ruproteïen wat tydens dragtigheid aan die koei voorsien word, word meer vir die kalf se groei gebruik as vir die koei se eie onderhoud.
Wanneer daar ’n oormaat proteïen, veral verteerbare proteïen wat maklik afbreek en energie vrystel, aan die koei voorsien word, kan gevalle van distokie skerp toeneem. Dit word gereeld gesien wanneer koeie in die lente gedek word. Die groen gras voorsien meer as genoeg proteïen, wat veroorsaak dat die fetus oormatig groei en dan moeilik in die winter gelewer word.
Dieselfde probleem kom voor by koeie wat ’n baie hoë proteïenlek in die winter op veld ontvang wat reeds proteïenryk is, soos soetveld, aangeplante weidings en oesreste, in vergelyking met gemengde of suurveld. In ’n studie waar verse 145% van hul daaglikse proteïenbehoefte ontvang het, het 59,5% moeilike kalwings ervaar, teenoor 26,3% in die kontrolegroep.
Hoë energie-diëte kan ook distokie veroorsaak deur vet wat rondom die geboortekanaal opgebou word, wat die elastisiteit verlaag. Koeie en verse wat vet gevoer word vir skoue of veilings, kan moontlik hierdeur beïnvloed word.

Wenke om distokie te voorkom
SELEKSIE VAN DIERE
Die trop se genetika is die fondament van alle bestuur. Genetiese foute kan nie deur goeie voer reggemaak word nie. Handhaaf ’n koeitrop met goeie strukturele en genetiese vermoë om maklik te kalf.
Selekteer bulle wat die koeie komplementeer. Onderskei altyd tussen direkte en maternale kalwingsgemak en kies ’n bul daarvolgens.
Baie belangrik: Die bul se direkte geboortegewig is nie die enigste faktor nie. Dit is nie noodwendig die beste aanduider van die bul se genetiese potensiaal vir klein kalwers of dogters wat maklik kalf nie. Werk eerder op indekse en neem die koei waaruit die bul geteel is, se volwasse gewig in aanmerking.


waar die ma hulle nie kan wegjaag nie.
BESTUUR VAN DIE TROP
- Beplan kalfseisoene sodat die beskikbare voer met die koeitrop se behoeftes ooreenstem.
- Voer die regte aanvulling op die regte tyd. ’n Oormaat proteïen of energie kan skadelik wees.
- Laat die bul verse dek op 66% van hul volwasse gewig en mik dat hulle op 85%
van hul volwasse gewig kalf. - ’n Kompakte dekseisoen verminder traumatiese kalwings. Vinnige hulp tydens ’n moeilike kalwing verminder stres. Dit is moeilik om die koeie wat deur die jaar kalf, te monitor, teenoor in ’n kort, intensiewe kalfseisoen.
Bronnelys
- Alam M, Lee JG, Dang CG, Lee SS, Lee SM, Seong HS, Park M, Cha J, Kim EH, Song H, Lee S & Lee J. Genetic parameters for direct and maternal genetic components of calving ease in Korean Holstein cattle using animal models. Journal of Animal Bioscience
- Barrier AC, Ruelle E, Haskell MJ & Dwyer CM, 2011. Effect of a difficult calving on the vigour of the calf, the onset of maternal behaviour and behavioural indicators of pain in the dam. Preventive Veterinary Medicine. PMID: 21958900. https://doi.org/10.1016/j.prevetmed.2011.09.001
- Barrier ACM, 2012. Effects of a difficult calving on the subsequent health and welfare of the dairy cows and calves. Royal (Dick) School of Veterinary Studies, University of Edinburgh. Beskikbaar by: https://era.ed.ac.uk/handle/1842/6527
- Beef Cattle Handbook: Calving difficulty in beef cattle – Part II. Extension Beef Cattle
Resource Committee. Adapted from the Beef Improvement Federation - Bonsma J, 1980. Livestock production: A global approach
- Ritchie HD & Anderson PT. Factors affecting calving difficulty. University of Georgia, College of Agricultural and Environmental Sciences






