Die jaar 2020 se matrieks het teen alle verwagtinge besonders goed presteer te midde van ‘n wêreldpandemie wat tot ‘n streng inperking en die sluiting van skole gelei het.
Matrieks is grootliks aanlyn onderrig en moes uitdagings soos ‘n gebrek aan data en tegnologie te bowe kom om hulle matriekeindeksamen te kon aflê. Twintig matrikulante van die 20 toppresterende skole in die Ditsobotla-distrik in Noordwes, sal darem nou toekomstige aanlynonderrig kan omarm met splinternuwe skootrekenaars. NWK het dié rekenaars, toegerus met die nuutste sagteware, ter waarde van R245 557,20 op Donderdag 11 Maart 2021 aan hulle tydens ‘n erkenningsgeleentheid by Hoërskool Lichtenburg se Leon Bantjies-saal oorhandig.
Dit is in samewerking met Noordwes se departement van onderwys, Samuel Nkone (voormalige areabestuurder van die Ditsobotla-subdistrik van Noordwes se departement van onderwys en sportontwikkeling), Afrisam en Lichtenburg Kantoormeubels & Skryfbehoeftes aangebied.
Benedict Modise, direkteur van transformasie by NWK, het leerlinge geluk gewens met hulle akademiese prestasies ondanks moeilike omstandighede. “Soos Aristotle gesê het: ‘die wortels van onderrig is bitter, maar die vrugte is baie soet’.”
Hy het hulle alle sterkte met hulle tersiêre onderrig toegewens en hulle gevra om NWK as toekomstige werkgewer te oorweeg. “Daar is baie geleenthede in ons maatskappy. Kom gesels met ons, sodat ons hierdie vennootskap tot ‘n volgende vlak kan neem. Moet nooit ophou droom nie. Dit gaan nie maklik wees nie, maar uitdagings is daar om benut te word.”
NWK het in 2013/2014 vir die eerste keer skootrekenaars aan toppresterende matrieks uitgedeel. Sedertdien het 145 van hulle al skootrekenaars ter waarde van R1,3 miljoen ontvang.
Monique Roussea, topleerling van Hoërskool Lichtenburg, begin hierdie jaar aktuariële wetenskap by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer. “Dit is baie opwindend om ‘n skootrekenaar te kry. Dit is beslis ‘n bonus met dié dat alles nou aanlyn is.”
Mmampe Angelina Mahlane, topleerling van Hoërskool Coligny, het gesê dat ‘n skootrekenaar handig te pas sal kom om take te doen en navorsing te doen. Sy pak ‘n graad in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria aan.
Kamogelo Prince Lekabe van Kopanelo Secondary School naby Mahikeng, het ook sy dank teenoor NWK betuig vir ‘n nuwe skootrekenaar. “My selfoon het onlangs gebreek, so dit is ‘n welkome geskenk. Nou kan ek navorsing doen vir my graad in onderwys by die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus.”
Modise het afgesluit deur te sê dat dit ‘n riem onder die hart is om te weet dat van hierdie toppresteerders boonop die produk is van die Ikataleng-projek. Dit is ‘n opvoedkundige inisiatief wat deur die Noordwes-Universiteit aangebied word en gr.10 tot 12 leerlinge bykomende hulp in vakke soos wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde, ekonomie en Engels bied. NWK borg hierdie projek al sedert 2011.