Volgens Danie Bester, TLU SA Jongboer van die jaar 2020, is data die sleutel tot sukses met presisieboerdery. Hy het Donderdag (6 Mei 2021) TLU SA se Jongboerkonferensie toegespreek onder die tema: Presisietegnologie: Rendement of duur sentiment?
Danie boer met sojabone by Balfour in Mpumalanga. Hy het presisieboerdery omskryf as ‘n bestuurstrategie wat temporale (seisoenale), ruimtelike (opbrengsdata op ‘n gegewe area) asook individuele data versamel, verwerk, analiseer en dan kombineer met ander inligting wat bekom is om besluite te neem om verbeterde hulpbronne, produktiwiteit, kwaliteit, winsgewendheid en volhoubaarheid in landbouproduksie te verbeter.
“Daar is soveel verskillende stelsels op die mark en om werklik wins uit een te maak, moet jy weet hoe dit werk. Die tegnologie wat jy koop, is maar net ‘n instrument tot jou beskikking om besluite te neem,” het Danie afgeskop.
Hy meen dat as ‘n produsent presisietegnologie reg gaan aanwend, dit lonend sál wees. “Die teendeel is egter ook waar: As jy dit nie reg gaan doen nie, gaan dit jou ‘n klomp geld kos en dit is dán wanneer die sentiment ontstaan dat dit ‘n nice to have is.”
Presisietegnologie is nie noodwendig net ‘n skerm en ‘n stroper nie. “Dit is sagteware, ‘n weerstasie, enigiets wat ‘n bydrae gaan lewer tot jou besluitneming,” het hy verduidelik.
Die middelpunt van presisiebestuur
“Kry sagteware wat al jou data kan stoor en jou toerusting kan diens,” is Danie se raad. “Data is ‘n kommoditeit op jou plaas. Sou jy weer later ‘n droogte beleef, kan jy byvoorbeeld gaan kyk wat vir jou gewerk het tydens die droogte van 2012.”
Hy raai produsente aan om ‘n pakket te kies wat hulle in die toekoms uitbreidingsmoontlikhede sal bied. “As jy van die begin af verkeerd gaan koop, gaan dit jou later duurder uitwerk. Jy moet die regte paadjie met die regte verskaffer stap.
“Tegnologie help jou om te meet en as jy kan meet, kan jy besluite neem.
“Insette is duur en sodra jy dit doeltreffend kan aanwend, gaan jou kwaliteit en produksie verhoog. Ons wil almal winsgewend en volhoubaar boer en hierdie is ‘n stelselbenadering wat jou winsgewendheid gaan verhoog,” het Danie bygevoeg.
Presisieboerdery neem tyd
Danie sê dat presisieboerdery ‘n proses is. “As jy bestuursones begin opstel van multi-jaardata wat jy ingewin het, begin jy sien daar is verskillende sones in jou grond met verskillende opbrengste.
“Dit sal nie sinvol wees om ‘n stuk grond wat 10 t/ha lewer, dieselfde te benader as ‘n stuk wat net 5 t/ha lewer nie.”
Volgens Danie word tot 80% van jou besluitneming geskoei op wat jy van ‘n stropermonitor insamel, want dit is die fisiese rapport wat jy kry van wat jy oes op ‘n land. “As jy ook sien jy stroop net 6 t/ha, maar die grond het potensiaal om 8 t/ha of 9 t/ha te lewer, moet jy vasstel hoekom dit nie die gewenste opbrengs lewer nie.”
Vestig ‘n proefplaas op jou plaas
“Jy tel dikwels tendense op wat teenstrydig is met wat gepubliseer is.” Danie is ook ‘n groot voorstaander van wisselende bemesting, omdat dit meer doeltreffend is.
“Dit help nie jy doen elke jaar dinge dieselfde nie, want volgende jaar wil jy beter doen. Tegnologie stel jou in staat om klein proefstroke binne in ‘n land te kan vestig.
“Dit is herhalings van verskillende plantestande. As jy oes, kry jy ‘n opbrengsverslag wat jou in staat stel om te sien waar die optimale plantestand lê vir opbrengs en vir maksimum wins. Opbrengs en wins loop nie altyd saam nie. Laer opbrengs met beter insetbestuur is soms waar jou wins lê.”
Tegnologie is nie net nuttig vir toediening nie, maar ook om te moniteer. “Dit help jou om probleemareas te identifiseer en regstellende stappe te neem.”
Belangrike oorwegings om in gedagte te hou:
- Stel ‘n plan op volgens die vereistes en toerusting wat jy tot jou beskikking het.
- Samel data sinvol en akkuraat in. ‘n Opbrengsmonitor en chemiekaarte van jou grond vorm hier die basis.
- Hoe meer data jy kan insamel, hoe meer akkuraat gaan jou prentjie wees.
- Jy moet data kan verwerk en interpreteer. Dit is waar jou sagteware-platform inkom. “Jy moet weet waarom ‘n sekere toediening vir jou ‘n sekere resultaat lewer.”
- Beplan en skoei toekomstige besluite op daardie data.
- Moniteer en evalueer alle komponente gedurende ‘n seisoen. “Al sê die verskaffer vir jou die instrument kalibreer homself, gaan maak seker. Die tempo van jou sukses hang daarvan af. As daardie wiskunde verkeerd is, vreet dit jou geld.”
Benader presisieboerdery só
Danie het voorts ‘n driehoek-benadering voorgestel, waarvolgens die produsent presisieboerdery as volg moet benader:
- Toedieningsbeheer: “Opbrengsmonitering is ‘n standaard. Daarsonder kan jy nie basiese toedieningsbeheer doen nie. Lê eers die fondasie reg, jy kan nie bo by die driehoek begin nie,” het hy verduidelik.
- Seksiebeheer of selfstuur: “Dit is waar jy geld spaar.”
- Sensor- of planterverbetering: “Weereens kan sensors vir stikstof vir jou groot besparings meebring.”
- Sogenaamde telematics of nice to have’s volg laaste.
“Presisietoerusting is baie duur. Dit is wenslik om ingelig te word van moontlike foute, selfs al is jy nié by jou land nie.”
Op ‘n vraag oor wát produsente dan moet koop, het Danie geantwoord hy glo nie daar is iets soos ‘n swak stelsel nie.
“Elke vervaardiger het ‘n oplossing vir jou situasie. Gaan na hom/haar met jou plan en koop wat jy nodig het. Kry wel ‘n produk of stelsel wat soveel moontlik van jou behoeftes sal aanspreek.
“Kry iets wat veeldoelig is. Soms is dit duurder om R100 000 vir ‘n skerm te betaal, as R40 000, maar oor twee jaar het jy reeds alles wat jy benodig om te kan uitbrei.”
In dieselfde asem maan hy produsente om soms net hulle toerusting te vernuwe liewer as om nuwes te gaan koop. “Vernuwe ou toerusting of pas huidiges aan. Daar is trekkers van 40 jaar oud in die Amerika wat met selfstuur loop.”
Maak ook seker van moontlike onderliggende koste, soos subskripsies.
“Moenie blindelings inspring en oorhaastig besluite neem nie. Praat met boere wat sukses het. Tegnologie betaal, dit moet net reg aangewend word.”
NWK het dié geleentheid geborg.