Die matrieks van 2021 het twéé jaar van belangrike onderrig te midde van ’n wêreldpandemie en gevolglike inperking voltooi en nietemin die onderskeidings ingepalm.
Toppresterende matrieks van die Ditsobotla-subdistrik is Woensdag tydens ’n spoggeleentheid by Hoërskool Lichtenburg vereer en NWK het hier 21 skootrekenaars, toegerus met die nuutste sagteware, aan die topleerlinge van die 21 toppresterende skole in die distrik oorhandig.
Gr. 11 is ’n belangrike akademiese jaar, aangesien dit nie net leerlinge vir matriek voorberei nie, maar hulle ook meestal met hierdie punte vir universiteitstoelating moet aansoek doen. Noordwes se departement van onderwys was dit eens dat die matrieks van 2021 daarom die bykans onmoontlike vermag het.
NWK se direkteur van ekonomiese ontwikkeling, Benedict Modise, het die matrikulante van 2021 tydens die geleentheid toegespreek. “NWK voel geëerd om intelligente matrikulante soos julle in Ditsobotla te hê. Julle opregtheid, dissipline en voorbereiding het julle hierdie toekennings besorg en ons wens julle geluk. Ons waardeer die toewyding tot julle studies wat julle geopenbaar het.”
Hy het voortgegaan deur te sê dat die provinsie se prestasie ’n weerspieëling van die leerders se veerkragtigheid is. Hulle moes aanpas by nuwe maniere van leer tydens die COVID-19-pandemie wat hulle skoolprogram ontwrig het.
“Die jaar 2021 was nie ’n maklike jaar nie en kontakonderrig kon nie normaal voortgaan nie. Waar ander tou opgegooi het, het julle deurgedruk. Ek weet hierdie mylpaal is een van baie wat die toekoms inhou.”
Hy het benadruk dat NWK talle volhoubare indiensnemingsgeleenthede vir kwalifiserende kandidate het en dat hulle dit in gedagte moet hou wanneer hulle hul tersiêre onderrig aanpak.
Die waarde van NWK se skenking beloop R259 324. Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy het in 2013/2014 vir die eerste keer skootrekenaars aan toppresterende matrieks uitgedeel. Sedertdien het 166 van hulle al skootrekenaars ter waarde van meer as R1,5 miljoen ontvang.
Tokollo Mafora van Bophirima High School het gesê dat NWK se skenking van skootrekenaars aan toppresteerders hom aangemoedig het om hard te werk. “My ma is geldelik glad nie in staat om só iets te bekostig nie, so ek het baie hard gewerk met die hoop dat ’n goeie prestasie my ’n skootrekenaar sou besorg.” Hy gaan hierdie jaar met ’n LLB-graad by die Universiteit van Johannesburg begin en wil dit graag met sielkunde kombineer.
Remofilwe Dithejane van Baitshoki Secondary High School wag nog om te hoor of sy keuring het om skakelwese te studeer. Sy is baie dankbaar vir die skootrekenaar en het bygevoeg dat sy hoop om hiermee basiese programme soos Word baas te raak.
