Alles op die plaas Witkraal word as kommoditeite beskou wat noukeurig bestuur moet word. Dit is een van die redes waarom die broers Johan en Christo van Niekerk van VNB Boerdery naby Delareyville einde verlede jaar as die Delareyville Studiegroep se algehele wenners aangewys is.
Johan (64) en Christo (59) van Niekerk verbou droëlandmielies, -sojabone en -sonneblom, asook mielies, koring en sojabone onder besproeiing. Die broers het ook indrukwekkende veevertakkings, naamlik ‘n Friesbees-melkery, asook Bonsmara- en Merinokuddes.
Johan was onlangs in die nuus toe hy vertel het hoe melkboere steier weens stygende insetkoste, laer pryse vir melk en onbegaanbare paaie, wat dit moeilik maak om hulle produkte te vervoer. Tog lewer hy steeds 5 000 liter melk per dag.
Die broers vul mekaar opvallend goed aan. “Ek is die opskrif en Johan is die berig,” vertel Christo hoe iemand al hulle hegte band beskryf het. Johan is detail-georiënteerd en Christo is meer pragmaties.

Arm grootwordjare kweek waardering
Hulle pa was ’n sweiser wat ook met Frieskoeie geboer het. Hy het die plaas Witkraal (190 hektaar) gekoop en moes 30 van sy 65 koeie verkoop om die eerste paaiement te kon betaal.
In daardie stadium was Johan by Volkskas Bank werksaam en het sy pa bekommerd gevra hoe hulle die tweede paaiement sou kon bekostig. “Hy het net gesê: ‘Die Here sal sorg.’ Net voor ons die tweede paaiement moes betaal, is hy dood aan kanker en het dit (sy dood) die paaiement betaal,” glimlag Johan wrang. Christo was besig met sy matriekeindeksamen toe hulle pa in 1979 oorlede is.
Hoewel die broers ’n vennootskap gestig het, het Christo aanvanklik skoolgehou en daarna by die ou Transvaal Landbou-unie gewerk. Die maatskappy VNB (Van Niekerk-broers) Boerdery is in 1997 gestig en Christo het in 2000 plaas toe gekom.
“Dis ’n voorreg om arm groot te word. Tot vandag het ons waardering vir dinge wat ander nie het nie. Die klein druppeltjies maak die emmer vol,” verduidelik Christo hulle filosofie.
Gemengde boerdery werk goed
Die Van Niekerks het uit die staanspoor gediversifiseer deur mielies en sonneblom op droëlande te verbou, en het nie net op die melkery staatgemaak nie. Met Christo se aankoms op die plaas in 2000, is daar geboor vir water en kon hulle met ’n spilpunt begin, wat dadelik gehelp het om die melkery uit te brei.
Hulle mikpunt was om die “vier Witkrale weer bymekaar te kry” en hulle kon uiteindelik die ander drie plase koop soos wat dit in die mark gekom het. Christo benadruk deurgaans dat hulle ’n konserwatiewe benadering volg. “Koop die buurman se klein plasies. Moenie probeer om die aangrensende provinsie te koop nie.”
Hy vertel dat hulle in 2019 ’n vyfjaarontleding, asook ’n SWOT-analise, in samewerking met Michael van Rooyen, bestuurder van Adviesdienste by NWK se Landboubestuursdienste, gedoen het. “Ek was geïrriteerd, want ek het aanvanklik niks wyser ge-word nie, behalwe dat ’n gemengde boerdery goed werk. Daar was nie één vertakking wat twee jaar opeenvolgend bo uitgekom het nie.” Hy meen dit is hieraan te danke dat hulle nooit ’n kontantvloeiprobleem ervaar nie en nog altyd hulle verpligtinge kon nakom en werknemers kon betaal.
“Ons sien meer boerderye in die moeilikheid kom weens kontantvloei as ‘n gebrek aan solvabiliteit. Bates oorskry laste verreweg, maar daar is nie geld om onmiddellike behoeftes aan te spreek nie. Hulle kan nie nou gif gooi of diesel ingooi nie, want hulle verstaan nie kontantvloei nie.
“Ons is konserwatief, belê net in landbou en gee babatreetjies. Niks word aangepak voordat die lewensvatbaarheid daarvan nie bepaal is nie. Elke plaas wat jy bykoop, het ekstra insette nodig. Het jy daarvoor begroot? Daarom is ons groei eerder generies.”
Hy raai jongboere aan om te “dryf” tydens moeilike jare en te “bêre” tydens goeies. “Poog om twee jaar se insette by NWK te belê en een jaar se oes te hou om meer volhoubaar te wees.”
Studiegroep van onskatbare waarde
Johan is al langer as 35 jaar by die studiegroep (voorheen bekend as die Excelsior Studiegroep) betrokke, en een van sy en Christo se doelwitte is om altyd onder die topvyf van die studiegroep te eindig.
“Want dan is jy geplot. Dan het jy ’n maatstaf waaraan jy jouself kan meet,” verduidelik Christo. Hulle beskou die studiegroep as ’n werksdokument waarna hulle regdeur die jaar verwys.
“Toe ons (met die toekenningsaand in November) nie die topdrie in een van die onderskeie kategorieë behaal nie, het ek gedink ons is uit. Dit is weereens ’n bewys dat jy nie ’n wenner in alles hoef te wees om die algehele eerste plek te behaal nie, en dit is wat Christo bestuur,” voeg Johan by.
Michael is ook die studieleier en het verduidelik dat nie net die totale hektare geproduseer en veevertakkings vir die toekenning oorweeg word nie, maar ook die boerdery se totale inkomste, uitgawes en balansstaatinligting. Hierin het VNB Boerdery uitgeblink.
“As ek alleen hardloop, kom ek altyd eerste, maar sodra jy jou teen iemand anders meet, sal jy agterkom daar is ruimte vir verbetering,” sê Johan. “Ons (die studiegroep) moet dinge met mekaar deel. Dit is van onskatbare waarde.”
Ander lede van die studiegroep se prestasies het die broers gemotiveer om te poog om hul opbrengste te optimaliseer, maar hul insetkoste te verminder. “Dit irriteer my as ek sien ons dieselverbruik is gemiddeld. Ek wil dit ondergemiddeld hê en daarom het ons begin met min tot geenbewerking. Ons het gesien dat ander lede wat dit toepas se chemie in die beginstadium toeneem, maar ná ’n paar jaar neem dit ook af,” sê Christo.
Wenke wat werk
BEHEER WAT JY KÁN
Hy meen dat, hoewel produsente niks aan die prys van insetkoste kan verander nie, daar wel ander veranderlikes is waaroor hulle beheer kan uitoefen. “Kyk byvoorbeeld na jou kunsmisplasing en onkruidbeheer. Wanneer dien jy dit toe? Tydigheid is van die uiterste belang. Wat hierdie jaar tydig is, is volgende jaar te laat. Kry jou slaankrag reg.
“In ons provinsie het jy net 14 dae (nie noodwendig opeenvolgend nie) om te plant, dan is dit óf te droog óf te nat. Die plantperiode raak al korter.
“Sorg dat jy insette optimaal gebruik. Dit frustreer my as ek duur gif koop en ek kort nog. Het ek dan nie my oppervlaktes reg uitgewerk nie? Werk my toerusting nie reg nie? Evalueer en maak aanpassings waar nodig.”
STEUN OP KENNIS
Die broers is vol lof vir die kundiges by NWK se Landboubestuursdienste. “Ek weet niks nie, maar ek ken baie ouens wat iets weet,” lag Christo. “Dit is waar Landboubestuursdienste inkom. Met al sy vertakkings, is dit dié sakevennoot om te hê.”
Hulle gaan draai weer in die 1980’s en herroep die goeie oes van 1981. “Die ondervog van 1981 het gemaak dat 1982 se oes ook redelik was. Daardie jare het ons nie gemeet soos nou nie. As Christo vandag oor ’n land besluit, doen hy eers grondprofiele en dan besluit hy oor kapasiteit en ons bemes daarvolgens (afhangend van die reënval). Alles word fyn beplan,” vervolg Johan.
Hierdie grondontledings het hulle ook genoop om in sekere lande eerder na gras oor te slaan en kalk word wisselend toegedien. “Ons is nog ver van presisie af, maar mooi op pad,” sê Christo.
Hulle hanteer ook hulle insetverskaffers as sakevennote. “Dis nie my gifsmous nie. Dis ons sakevennoot. Al die suksesse en mislukkings op die plaas word gedeel. As ek ’n spilpunt klaar gestroop het, stuur ek die opbrengs dadelik per WhatsApp vir die kunsmisouens sodat hulle kan sien ons is ’n span,” benadruk Christo.
KONTANTVLOEI IS ’N DISSIPLINE
Hulle boer in ’n maatskappy, is werknemers en kry ’n salaris. “As jy nie met jou geld uitkom nie, is dit jou probleem.
“Johan sê altyd dit kos geld om blink te wees. Jy moet netjies wees, maar jy hoef nie blink te wees nie,” sê Christo. Hulle koop byvoorbeeld tweedehandse bakkies omdat hulle dit as net nog ’n werktuig beskou. “Koop net wat nodig is, nie dit wat goed lyk nie – dit is ons beleid. Rentekoerse is dalk nou gunstig, maar op ’n stadium draai dit teen jou,” voeg hy by.
Ouboet Johan maan dat veral produsente wat gediversifiseer is, nie noodwendig graan moet verkoop net nadat dit gestroop is nie. “Ja, daar is uitsonderings, maar jy verkoop graan eers wanneer jy die beste prys daarvoor kan kry.”
Hulle beskou NWK as hulle bank waar hulle belê en uitgawes mee finansier. “As ons met ’n belegging se rente insetkoste kan help betaal, boer ons doeltreffend.”
“Alle eer aan ons gades vir die rol wat hulle hierin gespeel het,” sê Johan. Christo beaam dit. Sy vrou (Carina) en Johan se vrou (Sonja) het tot in 2020 skoolgehou en dus geldelik bygedra. “Ons het nog nooit nodig gehad om uit die kasregister te leef nie,” sê Christo.
Die broers het hoë agting vir die waarde wat jonger mense tot hul boerdery voeg. Hulle het in 2016 vir Ulricke le Roux aangestel om hulle administrasie te hanteer. “Vir alle praktiese doeleindes, is sy nou ons finansiële direkteur. Ons neem geen finansiële besluite sonder haar nie. Dit het ons boerdery totaal verander. Boerdery-administrasie is nie meer net BTW en dieselrabatte nie.
“Daar is vandag soveel voldoeningswette, werkloosheidsversekering, dekking teen ongevalle… Die tydigheid van belasting is belangrik en baie ouens vergeet daarvan,” sê Christo.
Juan Brand (Christo se skoonseun) is grootliks getaak met die Bonsmara-kudde en maak ook ’n “reusebydrae” met sy nuwe energie en idees wat hy na die tafel bring. “Hierdie tegnologiese vaardighede help ons baie.”
Johan beaam dit: “Ek staan soms in ongeloof as ek pa’s en seuns sien wat nie saam kan boer nie. Die pa’s sit met die wêreld se kennis en die seuns het tegnologiese vaardighede waarvan die pa’s net kan droom.”

Die fokus is op koeidoeltreffendheid
“Met die Bonsmaras het ons aanvanklik getalle gejaag, maar ons wil nou begin aandag gee aan koeidoeltreffendheid. Om dit te kan doen, is nogal ’n groot taak. Jy moet elke koei en kalf weeg as jy die dag wil verkoop,” sê Christo.
Johan raak liries oor dierevoeding en is duidelik ’n kenner op dié gebied. “Jy gee nooit ’n koei kos nie. Jy gee die mikrobes in die maag kos, want as daardie mikrobes die kos verteer, kan die liggaam dit gebruik.
“Prikkelvoeding vir enige dier is ongelooflik. As ons begin met ’n dekseisoen, spuit ons al die vroulike diere wat ons op hitte wil hê met ’n multivitamien in – met ’n groot dosis
vitamien A, C en D.”
Met prikkelvoeding kry die Merino’s se geslagsiklus ’n hupstoot, waarna hulle koggelramme inspan. “Ek en Christo kry só goeie resultate.”
Hulle steun ook op kruipvoeding, en Johan glo dit dra by tot die beeste se goeie kalf- en speenpersentasie. “Wanneer ’n koei aanvanklik kalf, het sy min melk omdat die kalfie klein is. Soos wat die kalfie groei, neem haar melkproduksie toe. Ná sowat 90 dae neem dit weer af.
“As ’n kalfie vanaf die eerste week kruipvoeding kry en leer vreet, drink hy minder en haal dit druk van die koei af. Hierdie koeie verloor nie so baie gewig nie. Wanneer haar melkproduksie in die eerste drie maande toeneem, moet haar kondisie nie afneem nie, want dan gaan sy nie gestimuleer word om weer ’n bul te vat nie.” Hy vervolg: “’n Koei bring nie vir jou vleis nie, maar wel ’n kalf.”

Melkboere se stryd
Johan is in 2016 wreed op die plaas aangeval en 36 keer met ’n mes gesteek. Sy stembande is in die aanval beskadig en sy geheue en balans is sedertdien aangetas. Hy kan nie meer teen dieselfde tempo werk as voor die aanval nie en wil begin afskaal.
Nou moet die broers boonop die uitdagings wat hulle kollegas in die melkbedryf in die gesig staar, óók trotseer. Die melkery is die afgelope 44 jaar op dieselfde perseel. “Ons sit nou met siektes wat ons nooit geken het nie,” vertel Christo. “Nie net Afrika-rooiwater nie, maar nou ook Asiatiese rooiwater. Ons het ook las van ensoötiese beesleukose (EBL).”
“Die Suid-Afrikaanse rekord is 79 liter op ’n dag. Ek het ’n klomp koeie gehad wat hier by die 70, 72 liter gedraai het,” glimlag Johan. “Die melkery het al die jare ’n melk-, vleis- en genetiese inkomste gehad. Ons kudde was op ’n stadium die vierde beste in die land danksy die telerswaarde-indeks. Ek het ’n vers geteel met ’n indeks van 189%.
“’n Jerseykoei se bottervet is 4,5%. Dié van my Frieskoeie is almal 4,4% danksy goeie genetika. Ek kan egter nie meer genetika verkoop nie, want niemand soek melkkoeie nie. Die suiwelveiling waarvan ons gedroom het, kan nie plaasvind nie.”
Johan noem dat melkboere volumepremies ontvang het, wat nou iets van die verlede is. “Dit gaan nie goed met die bedryf nie,” vervolg Christo. “Ons moet egter ’n vergelyking tref: Moet ek alles verkoop en die geld in die bank sit? Kan ek beter doen? Indien nie, gaan jy aan. Danksy goeie insetbestuur, kry ons darem nog ’n redelike opbrengs op kapitaal. Die dag as dit onder 10% is, sal ons dit laat gaan.”
Oor hul sukses sê hulle die volgende: “Bly nederig en leef dankbaar, want alles is net genade. Stel realistiese doelwitte en jy sal dit bereik. Sukses kweek sukses.”