Bykomende aanvulling
Die strategie tot oorwintering moet eerstens wees om die veld se beperkende voedingstowwe aan te vul, sodat aan die rumen en die dier se voedingsbehoeftes voldoen word. Die primêre tekort op die meeste winterweidings is proteïen, oftewel stikstof (N), wat deur die rumen-mikroörganismes benodig word. Deur hierdie strategie te volg, ontstaan ’n situasie van bykomende aanvulling waar die beperkende voedingstowwe aangevul word om die verteerbaarheid en inname van die weiding te bevorder.
Hierdie doelwit kan bereik word deur die voorsiening van ’n winterlek wat hoog is in nie-proteïen-stikstof (NPN), soos ureum, om aan die rumen-mikroörganismes se stikstofbehoefte te voldoen. Sodoende word mikrobiese aktiwiteit gestimuleer, wat die kapasiteit vir veselvertering verbeter en dus tot ’n verbeterde inname van swak gehalte weiding lei.
’n Mens slaag in die doelwit van ekonomiese oorwintering wanneer die lekprogram tot verhoogde verteerbaarheid en inname van die onsmaaklike winterveld lei. Vervanging, waar diere die lek vreet in plaas van die veld, moet sover moontlik vermy word.
Ekonomiese oorwintering
Die sukses van oorwintering word alreeds in die somer bepaal, en die aanbeveling is dat die lekaanvullingsprogram vroegtydig en oordeelkundig uitgewerk moet word. Diere behoort die strawwe droë seisoen in ’n aanvaarbare kondisie in te gaan. Die lekprogram behoort daarom van só ’n aard te wees dat dit ten alle tye voedingstekorte aanspreek, selfs in die stadium wanneer goeie gehalte weiding beskikbaar is.
Dit is ’n beproefde praktyk om fosforlekke soos Nutri Feeds se Nutri Tub Fosfaat (V14996) of Nutri Lek Fos 6 (V8874) in die somer op groen, sappige weidings aan te vul om voldoende groei en kondisie by die diere te bewerkstellig.
Sodra die weiding egter in gehalte begin afneem, soos gekenmerk word deur verhoogde innames van die fosfaatlek, is die aanbeveling om diere stelselmatig oor te sit op ’n lek wat benewens fosfaat (P) ook proteïen bevat. Normaalweg sal hierdie oorgangslekke reeds in die laatsomer of herfs aan die diere beskikbaar gestel word en bevat dit minder ureum as ’n tipiese winterlek.
Die doel van oorgangslekke is om die diere by die ureum te laat aanpas sodat hul kondisie en liggaamsgewig onderhou word. Hierdie oorgangslek sal steeds fosfor (P) voorsien teen sowat 6 g tot 12 g per bees per dag.
Wanneer die weidingsgehalte en hoeveelheid van so ’n aard raak dat die inname van die oorgangslek begin styg, is dit ’n teken dat die lek aangepas moet word – eers na ’n volwaardige winterlek en later na ’n lek wat ook produksie kan ondersteun.
- Nutri Lek Winter 40 (V17401) werk uitstekend vir die doel om weidingsinname te stimuleer. Dit bestaan hoofsaaklik uit proteïen waarvan die oorgrote hoeveelheid vanaf ’n NPN-bron kom, asook uit makro- en mikrominerale van belang vir die diere se onderhoud. Die aanbevole lekinname is tussen 375 g en 750 g per bees per dag en bevorder die koste-doeltreffende oorwintering van vee wat nie hoë voedingsbehoeftes het nie.
- Waar die behoefte bestaan vir ’n lek met hoër innames en ’n verhoogde voedingstofinname, word Nutri Lek Winterbreker 32 (V3342) aanbeveel, juis vir gebruik tydens die laatwinter wanneer die beskikbare weiding of ruvoer beperk is.
- Indien diere se kondisie of liggaamsgewig egter afneem, is dit raadsaam om na Nutri Lek Produksie (V28671) oor te slaan. Dit sal tipies die geval wees wanneer die vraag aan produksie nie alleenlik deur ’n winterlek voorsien kan word nie en die produksielek benewens proteïen ook energie, minerale en vitamiene moet voorsien.
Die keuse van die korrekte lek vir die bepaalde seisoen en gehalte veld is noodsaaklik om diere se kondisie optimaal te hou, en in doelwitte vir verhoogde produksie en verbeterde reproduksie te slaag.
Hoewel winters die uitdagendste tydperk vir veeproduksie is, kan die lekprogram vir oorwintering nie in isolasie beskou word nie. Die benadering behoort ’n volledige lekprogram vir die hele jaar te wees en die gehalte en hoeveelheid van die weiding, asook die inname van die betrokke lek, behoort ’n aanduiding te wees van die tipe lek wat gebruik moet word.
Ten slotte
Die slotsom is dat die lekprogram voldoende moet wees om diere se kondisie en produksie te onderhou. Tweedens moet die lekprogram se doelwit altyd wees om die goedkoopste hulpbronne, naamlik weiding en ruvoer, optimaal te benut. Dit is makliker en meer ekonomies om pro-aktief te wees deur die korrekte en aanbevole hoeveelheid lek te voorsien, as om ’n probleem as gevolg van ’n tekort te identifiseer en te probeer regstel.