Die Amerikaanse sanger, Frank Sinatra, sing in die lied “New York, New York” die volgende: If I can make it here, I’ll make it anywhere. Dié lied kan ’n temalied vir Suid-Afrikaners word, wat buiten talle plaaslike uitdagings ook geraak word deur internasionale gebeure wat alles bydra tot ’n verhoogde lewenskoste.
Suid-Afrika staan nie in isolasie teenoor gebeure in die res van die wêreld nie. Buiten vir die onluste in KwaZulu-Natal in 2021 en die oorstromings in dieselfde provinsie in 2022, moes die land ook die uitdagings van die COVID-19-pandemie en die oorlog tussen Oekraïne en Rusland trotseer. Terloops, die oorstromings in KwaZulu-Natal was die negende grootste natuurramp van 2022 ter wêreld, aldus ’n verslag deur Christian Aid, ’n welsynsorganisasie in die Verenigde Koninkryk.
Infrastruktuur soos paaie en spoorlyne verbrokkel, hawens is ondoeltreffend en die chaos waarin Eskom gedompel is, is sekerlik een van die beste voorbeelde van die regering se ondeurdagte besluitneming.
Werkloosheid en armoede neem met rasse skrede toe en dit lei regstreeks tot ’n groot toename in misdaad.
Voorwaardes van herversekering
Internasionale herversekeraars – die versekeraars wat kapasiteit aan die plaaslike versekeringsmark voorsien – sien en ontleed al hierdie gebeure en bring dit in berekening as hulle besluit watter dekking en teen watter voorwaardes hulle gewillig is om herversekering aan Suid-Afrika te verskaf.
Só het SASRIA, die staat se korttermynversekeraar teen openbare geweld, premies op sekere klasse drasties verhoog ná die 2021-onluste en die dekkingsvlakke wat beskikbaar was, is beperk. Daar is vandag heelwat groot instellings wat nie genoeg versekering in die plaaslike of internasionale markte kan kry om vir toekomstige onluste voorsiening te maak nie.
Met die afgelope hernuwingseisoen het herversekeraars die dekking wat aan Suid-Afrikaanse versekeraars gebied word, beperk. Premies is verhoog en bybetalings op katastrofiese gebeurtenisse is drasties verhoog. Só is daar byvoorbeeld nie meer dekking in Suid-Afrika beskikbaar vir gebeurtenisse soos die totale ineenstorting van die kragnetwerk nie. Uitvoerende beamptes van die groot versekeraars moes tien teen een hard werk om Suid-Afrika as ’n aanvaarbare risiko vir internasionale maatskappye te verkoop.
Die implikasie vir plaaslike versekeraars is dat hulle kapitaalvereistes meer gaan word – dekking wat op polisse aangebied word, gaan ingeperk word, wat tot ’n verhoging in premies sal lei.
Elektrisiteitskrisis
Bykomend tot al die uitdagings wat ’n produsent vandag in Suid-Afrika ondervind – misdaad, duur insetkoste, lae winsgrense, arbeidsprobleme en probleme by hawens met uitvoere – het kragonderbrekings seker die grootste impak op ’n produsent se besigheid.
Kragstuwings wat deur kragonderbrekings veroorsaak word lei tot skade aan pompe en toerusting. Diere vrek weens ’n tekort aan elektrisiteit en landerye kan nie besproei word nie. Dit lei tot hoër uitgawes om selfvoorsienend te word en om beter en dus duurder dekking in die versekeringsmark te verkry.
Produsente belê meer kapitaal om sonkrag of kragopwekkers te installeer en dekking of hoër perke is noodsaaklik om dekking teen kragstuwing vir noodsaaklike toerusting soos pompe uit te neem.
Daar word vereistes deur versekeraars gestel indien toerusting soos sonkrag en kragopwekkers geïnstalleer word. Dit is dus noodsaaklik om kundiges aan te stel indien dié tipe beleggings gemaak word.
Diefstal
Die afgelope jaar het versekeraars ’n geweldige toename in die diefstal van sekere klasse voertuie waargeneem en hulle neem een na die ander aksies om hulle resultate te beskerm. Dit lei noodwendig tot voorwaardes, beperkings en premieverhogings wat aan die versekerde deurgegee word.
Die verswakking van die rand teenoor die belangrikste geldeenhede in die wêreld, die onderbreking in uitvoere tydens die Covid-19-pandemie en die oorlog in Oekraïne het tot tekorte en prysverhogings vir voertuie se onderdele gelei.
’n Drastiese verhoging in die pryse van voertuie – veral kommersiële voertuie, swaar voertuie en die gespesialiseerde voertuie wat die moderne kommersiële produsent in ’n kompeterende wêreld benodig – het ook gevolg. Ons sien dit daagliks in die voertuie en toerusting wat produsente by ons verseker en in die pryse van voertuigonderdele en toerusting wat ons laat herstel.
Daar is ook ’n beduidende toename in diefstal van voorraad soos byvoorbeeld saad – nie net op plase nie, maar ook tydens die vervoer van hierdie kommoditeit. Soja, suiker en mielies word ook ’n gewilde teiken vir misdadigers wat vragte beroof. Ons voorsien dat dié tipe kommoditeite aantrekliker sal raak vir misdadigers soos wat voedselinflasie in Suid-Afrika styg.
Kies reg
’n Produsent is ’n sakeman met spesifieke behoeftes, uniek tot die tipe boerdery wat bedryf word. Dit is belangrik dat die versekeraar wat boerdery-versekering verskaf, die omgewing verstaan en voorsiening maak vir die risiko’s wat ’n produsent moet aanspreek. Dit sluit die bates, werkers en aanspreeklikheid van die boerdery in sodat aandag gegee kan word aan die werklike boerdery-aspek van die onderneming.
Dit is dus noodsaaklik vir ’n produsent om ’n kundige makelaar te spreek wat die beste raad kan gee en die beste dekking by ’n gerespekteerde versekeraar kan bekom. Kontak gerus die naaste NWK & IP Makelaars-kantoor en gesels met ’n kundige makelaar.
* Hierdie artikel is die skrywer se persoonlike siening en moet nie as finansiële advies beskou word nie.