Die minister van elektrisiteit, dr Kgosientsho Ramakgopa, het Donderdag by sakelui van Lichtenburg gepleit om in die dorp aan te bly nadat hulle miljoene rande verloor het weens ʼn grootskaalse kragonderbreking van 26 dae.
“Moet asseblief nie gaan nie. Ek belowe ek sal oor minder as ʼn maand kom om terugvoer te gee,” het hy onderneem. Die minister het hulle by NWK se opleidingsentrum toegespreek.
Dit volg nadat ʼn transformator op 27 Julie onklaar geraak en ʼn groot deel van die dorp in die duister gelaat het. Beurtkraggleuwe van vier ure elk is toe op verskillende tye in verskillende dele van Lichtenburg ingestel, sodat alle inwoners darem ʼn paar uur se krag per dag kon hê.
ʼn Nuwe transformator is die naweek van 5 Augustus geïnstalleer, maar Eskom wou nie die kragtoevoer herstel voordat Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit nie ten minste R123 miljoen van die meer as R1 miljard wat dit aan dié kragvoorsiener skuld, betaal het nie.
Boonop is die dorp nie van nasionale beurtkrag kwytgeskel nie. Epko, NWK se sonneblomoliepersaanleg, kon gevolglik glad nie produseer nie en het sowat R143 miljoen verloor.
Met die DA wat Eskom hof toe gesleep het omdat hulle gemeen het hulle verontagsaam ʼn hofbevel waarvolgens hulle slegs kragonderbrekings mag instel vir instandhouding, is die kragtoevoer uiteindelik op 21 Augustus herstel.
Die skade is gedoen en dreigemente dat besighede Clover se voorbeeld wou volg en hulself elders gaan vestig, het die minister se ore bereik en hy het hulle kom toespreek.
Die vergadering is ook deur Noordwes se LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, Virginia Thlape en die burgemeester van Ditsobotla, Thabo Nkashe, bygewoon.
Ditsobotla se probleme aangespreek
Die minister het begin deur uit te brei oor nasionale ingrypings in ʼn poging om beurtkrag te beëindig, voordat hy op Ditsobotla se probleme gefokus het.
“Hulle skuld is onvolhoubaar. Ons kan nie gevolglik besighede en gemeenskappe straf nie. Ons moet terselfdertyd Eskom se belange beskerm.”
Hy het bygevoeg dat die ministerie in samesprekings met die departement van samewerkende regering en die nasionale tesourie is in ʼn poging om die probleem op te los.
“Julle moenie ingesleep word by die feit dat die munisipaliteit Eskom R1 miljard skuld nie. Julle word gestraf vir kwessies buite julle beheer. Teen die tyd wat die probleme opgelos word, is die besighede weg. Oor ses maande is die transformator weer stukkend en het ons dieselfde probleme. Besighede moenie van hierdie gesprekke uitgesluit word nie.”
Die minister het ook gekap na diegene wat krag met onwettige aansluitings bekom. Hy het gesê dat die polisie moet ingryp en dat die munisipaliteit verbruik akkuraat moet kan bepaal en die geld dienooreenkomstig inwin.
“Julle (besighede) het die ergste die spit afgebyt, maar gekies om te bly. Met besighede weg, sal werkloosheid geweldig toeneem. Laat dit aan ons oor om die betalingskwessie op te los.
“Ons sal diegene met die beste vermoë taak om die probleem op te los. Ek verseker julle ons sal dit doen.”
Dries van Tonder, bestuurder van Finansies by NWK en ondervoorsitter van Lichtenburg se sakekamer, het benadruk dat besighede nie geraadpleeg is oor die beurtkraggleuwe wat ingestel is nie. Hy het gevra dat die dorp vir 26 dae van alle beurtkrag kwytgeskel word sodat ondernemings ten minste kan probeer om van die verliese in te haal.
“Daar is agt besighede wat ingevolge die hofbevel hul rekeninge direk aan Eskom betaal, is dit nie tyd dat alle besighede in Lichtenburg Eskom direk betaal nie?”
Anton Claassen, bestuurder van Epko se aanleg, het weer gevra dat die voorstel dat Eskom Epko direk van krag voorsien, gunstig oorweeg word. “Dit sal boonop die las op die munisipaliteit se infrastruktuur verminder.”
Die minister het in reaksie hierop gesê dat hierdie voorstelle oorweeg word, maar bygevoeg dat die regering nie die munisipaliteit se vermoë wil ondermyn nie. “Ons moet eers vasstel of Ditsobotla inderdaad nie in staat is om verbruik akkuraat te bepaal en gelde in te vorder nie.”
Dries se reaksie namens die sakekamer ná afloop van die vergadering was: ‘Ons is dankbaar vir die geleentheid om met die minister te kon praat. Dis net jammer dat hierdie krisis moes ontstaan voor gehoor gegee word aan die probleme wat jare lank al bestaan.
“Die minister is duidelik bewus van wat die probleme is en die kamer het gefokus om die geleentheid te benut om die behoefte om betalings vir elektrisiteit direk aan Eskom te maak, weereens te beklemtoon, aangesien die geld nie deur die munisipaliteit aan Eskom betaal word nie.
Indien hierdie versoek gunstig ontvang word, maak ons vordering, aangesien daar nie enige hoop is dat die munisipaliteit gered kan word nie. Ons is versigtig optimisties!”