• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Wed, Jun 18, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Nuus

Jong afslaer geloof vir sy talent

Nicolene Smalman, Redakteur: NWK Arena

20 Sep 2023
in Nuus
Jong afslaer geloof vir sy talent

Zac Haasbroek met rosette vir eerste plekke wat hy in afslaerskompetisies ingepalm het.

Share on Facebook

Jy kan maar op die 17-jarige Zac Haasbroek van Sannieshof bie, want as jou diere onder sy hamer kom, kan jy weet hulle gaan goeie pryse behaal. Dié skrander leerling van Hoërskool Sannieshof het in slegs ‘n jaar in ‘n belowende afslaer ontluik nadat hy homself touwys gemaak het met Youtube-video’s en kundiges in die bedryf hom onder hulle vlerk geneem het.

Zac het op 28 Augustus aandag getrek toe beamptes van Noordwes se onderwysdepartement sy skool besoek het en hom gevra het om sy afslaervermoëns ten toon te stel. Hulle het ‘n video daarvan op hul Facebookblad gelaai wat meer as 315 reaksies (likes) gekry het en 140 keer gedeel is.

‘n Liefde vir landbou

Koos, Zac se oorlede pa, het as plaasbestuurder vir Wessel Badenhorst tussen Migdol en Delareyville gewerk. Met sy afsterwe in 2014, het Zac se ma, Karen, besluit om met haar drie kinders na Sannieshof te verhuis. Zac het ‘n tweelingbroer, Corné en suster, Mieke (13). Met ‘n liefde vir landbou wat sedert kindsbeen gekweek is, neem Zac landboutegnologie en -wetenskap as vakke by Hoërskool Sannieshof.

Toyota SA, in samewerking met Plaas Media, het verlede jaar ‘n afslaerskompetisie tot die Nasionale Jeugskou gevoeg. Zac het besluit om sy hand hieraan te waag. “Ek het besluit om dit ‘n kans te gee en het daarvan begin hou en toe besluit ek om dit verder te vat,” verduidelik Zac.

Met niemand om hom formele afrigting te gee nie, het Zac hom tot Youtube gewend. Hy het meestal na video’s van Amerikaanse afslaers gekyk.

Produsente in die omgewing het van Zac se belangstelling hierin gehoor en hom saamgeneem na veilings.

Die afslaers Jan Steinman, Vlekkie du Toit en Steven Mathews, het ook nie geskroom om vir Zac leiding te gee en video’s aan te stuur nie.

Oefen, oefen en nogmaals oefen

Afslaers praat teen ‘n snelle tempo en Zac se tong het aanvanklik baie geknoop met die syfers. Hy sou verbyvliegende lamppale opveil as hy saam met sy ma in die voertuig was en, soms tot sy broer en sussie se ergenis, items in die huis ook.

“Ek sal voor ‘n skou deur die huis loop en enigiets opveil om te oefen. Dan vra hulle ek moet ‘sagter, ons het al genoeg van jou gehoor’. Dan is ek stil vir ‘n dag of twee dan begin ek net weer,” lag Zac.

Hy oefen ook in die “landbou-juffrou” Driekie Louw se klas voor maats wat as bieërs optree.

Ma Karen ondersteun haar kinders in hulle vele aktiwiteite en het verlede jaar met Zac na verskeie veilings gery. Met die baie skoolwerk in gr. 11, kon Zac vanjaar nog net een veiling bywoon.

Waar hy verlede jaar met tweede plekke in kompetisies tevrede moes wees, het hy vanjaar al verskeie eerste plekke ingepalm, onder andere by Sannies Jeugskoukampioenskappe asook Stella Jeugskou.

Kyk gerus na die video om Zac in aksie te sien.

https://www.nwkarena.co.za/wp-content/uploads/2023/09/Zac-Arena.mp4

Rympies en truuks

Zac sê rympies op om op te warm en sy tong behoorlik los te maak, byvoorbeeld: “The big brown buck bit the big brown bear.”

Ritme en stemtoon is belangrik. “Om vinnig te praat is nie eintlik só belangrik nie, dit gaan meer oor duidelikheid,” vertel Zac. “Ook asemhaling. Mense moet jou kan hoor.”

Zac moet goed kan kophou met baie bieërs. “Party skud kop, ander lig ‘n hand en ander knipoog net,” sê hy.

‘n Goeie algemene kennis oor ‘n verskeidenheid diere is belangrik om die dier wat opgeveil word, aan voornemende kopers te kan beskryf en hulle belangstelling te prikkel. Gewoonlik weet Zac vooraf watter diere opgeveil gaan word, maar hy het al by skoue opgedaag waar hy onverwags ‘n konyn of ponie moes opveil. Dan vra hy Karen om vinnig te “Google” of ‘n produsent te bel.

Zac sal die enigste leerling van Noordwes wees om aan die Toyota SA Nasionale Jeugskou Afslaerskompetisie tydens die Nasionale Jeugskou in Clanwilliam deel te neem. Dit vind vanaf 1 tot 4 Oktober plaas en Zac is tans besig om ‘n dik handleiding te bestudeer. Hy sal teen 18 ander deelnemers te staan kom.

Die kompetisie behels dat hulle opleiding by ‘n afslaer ontvang, wat hulle meer sal vertel oor ‘n loopbaan as afslaer. Hy/sy gaan onderwerpe toelig soos inleiding en aanslag, stemduidelikheid, -beheer en -ritme, kenmerke van ‘n goeie afslaer, veekennis en die belangrikheid daarvan, biosekuriteit, hoe om ‘n bod te jaag en basies alle praktiese goed rondom veilings.

Die leerders sal dan deelneemaan ‘n skynveiling waar hulle klein- en grootvee sal opveil. Dit sal oor twee dae plaasvind en die wenners sal aangekondig word by die prysuitdeling saam met al die ander jeugskouklasse.

Zac moet ook op hoogte bly van vleispryse omdat dit pryse by veilings bepaal. Hy het al kleinvee vir Jan (eienaar van Swarico Afslaers) opgeveil en vertel dat, hoewel hy nie meer skaam is nie, elke veiling maar spanningsvol bly.

“Jy kry veilings waar die bod lekker vloei. By ander veilings is die bod laer as wat die verkoper wil hê, dan gooi jy maar ‘n grappie of twee in om die bod te jaag.”

‘n Blink toekoms wink

Karen bars van trots op haar seun. “Hy was my skaamste kind, teruggetrokke en met min selfvertroue.” Toe hy haar verlede jaar vertel dat hy hom as ‘n afslaer wil bekwaam, het sy nie gedink dat dit iets is waarmee hy sal volhou nie. “Hierdie jaar het hy net ontpop.”

Zac, wat ook ‘n ywerige rugby-, krieket- en hokkiespeler is, vang vis en werk soms op plase in sy vrye tyd.

Ook Jan is positief dat Zac nog groot hoogtes as afslaer kan bereik. “Hy is skitterend en ambisieus. Hy geniet wat hy doen en is bereid om te leer. Daar lê ‘n blink toekoms voor hom. Ons is bly om sulke jong outjies te kry, want ons het altyd afslaers nodig.

“Hy is een van die bestes in sy ouderdomsgroep. Zac is bereid om hard te leer en te werk. Hy neem dit wat jy sê ter harte en bring dit tot uitvoering.”

Tags: Sept/Okt 2023
Previous Post

Minister paai Lichtenburg se sakelui ná onlangse kragkrisis

Next Post

Lenteprag verdryf hartseer


Recommended

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In