Produsente berei tans voor vir die nuwe seisoen. Die span van AgTech@NWK maak hierdie taak makliker met die advies en ondersteunende dienste wat hulle bied.
In hierdie uitgawe deel Martiens du Plessis (voorheen bestuurder: Landboustelsels en projekte) vir oulaas wenke oor akkerboupraktyke met ons lesers. Hy gesels oor hoe om voor te berei vir die nuwe seisoen deur lente-onkruid uit te roei, en wat die waarde van grondvoorbereiding is. Pieter le Roux (hoofdiere- en weidingspesialis) deel wenke oor weidingsbestuur en dieregesondheid vir die lente.
Akkerboupraktyke
LENTE-ONKRUID
Die meeste van die saaigronde het ’n goeie hoeveelheid oordragvog en opslag. Dít en ander lente-onkruid gaan heel gewillig wees om dié grondvog te verkwis en moet nou beheer word. Geeluintjies kom in hierdie tyd op en moet beheer word voordat op die lande geplant word.
Dit is belangrik om die lande skoon te hou en nie in ’n vuil saadbed te plant nie. ’n Skoon saadbed is ’n ononderhandelbare praktyk. Die redenasie om die land later skoon te spuit, is dikwels nie suksesvol nie en dan word die oorblywende onkruid groot, wat meebring dat dit selfs meganies moeilik uitgeskoffel word.
GRONDVOORBEREIDING
Een van die gereelde kwelvrae is hoe diep die lande bewerk moet word. Die werklike hardheid van verdigte sones in die grond en die diepte wat bewerk moet word om dit op te hef, behoort met behulp van ’n penetrometer bepaal te word.
Moenie onnodig diep bewerk nie, maar moet ook nie te vlak werk nie – albei kos geld en met die heersende brandstofpryse, kan geen produsent dit bekostig om ondoeltreffende bewerkings uit te voer nie! NWK se landboukundige span bied hierdie diens aan NWK se produsente teen uiters bekostigbare tariewe.
WEES GEREED VIR DIE NUWE SEISOEN
Die klimatologiese indekse (ENSO en SOI) het tydens die skryf van hierdie artikel steeds gedui op ’n goeie waarskynlikheid om minstens gemiddelde tot bogemiddelde reënval vir die komende seisoen te ontvang.
Die laatreën van die vorige seisoen het sommige lande met goeie oorgedraagde grondvog gelaat. Boonop is die huidige verdiskontering van volgende jaar se graanpryse ook nie te versmaai nie. Hierdie besondere kombinasie sorg weereens vir ’n positiewe vooruitskouing vir die nuwe seisoen.
Met goeie produksiebestuur kan hierdie potensiële geleentheid só in ’n “vol” oes omskep word:
- Waak teen aspekte wat jou hierdie geleentheid kan ontneem, soos onkruid, suur grond, verdigte sones in die grond, onvoldoende bemesting en onnodige diep skoffel ná plant.
- Waak ook teen die versoeking om oorboord te gaan met ’n té hoë plantestand.
- Skakel elke druppel water doeltreffend om in graan.
- Die besondere hoë produksiekoste gaan ’n “vol” oes vereis om steeds ’n positiewe marge te realiseer.
Skakel AgTech@NWK se Presisiespan by 018 633 1143 vir hulp met grondkompaksie, asook die meet en bestuur van grondvog in droëlande.
Weiding en voeding
- Die bemestingsbeplanning vir aangeplante weidings behoort nou afgehandel te wees. Verdeel die seisoenale toediening om die helfte met die eerste reëns toe te dien en die res in Desember/Januarie. Dit help om die risiko’s te versprei, want die tweede toediening kan verder uitgestel of gekanselleer word indien die seisoen swak uitdraai.
- Waar die vestiging van aangeplante weidings in die lente beoog word, moet ’n deeglik voorbereide fyn saadbed voorsien word. Maak seker dat die grond se voedingstatus voldoende is, werk die oorblywende winteronkruid in en wees voorbereid om somer-onkruidbeheer toe te pas. Onthou, die vestiging van meerjarige aangeplante weidings in Februarie/Maart is meer suksesvol aangesien die kompetisie van someronkruide daarna minder is as met lente-aanplantings, en dat chemiese beheer dus minder of onnodig is. Weidings wat wel in die lente gevestig word, kan egter reeds teen die laatsomer benut word.
- Benut vleikampe vroeg in die lente om ander weidings die geleentheid te gun om ná die winter
te hergroei. - Beweide kampe kan nou kort gesny word waar nodig, byvoorbeeld waar digte stande van dekgras voorkom. Die doelwit is om kompetisie tussen onsmaaklike en smaaklike spesies uit te skakel. Dit kan sommer met ’n bossiekapper of deur ultrahoëdrukbeweiding gedoen word.
Dieregesondheid en bestuur
SKAPE
Ooie wat nou moet lam
- Mikskeer of skeer die ooie wat nou moet lam.
- Ent ooie teen Pasteurella en bloednier. Inentings teen blou-uier, rooiderm en bloedderm is opsioneel – afhangende of dit ’n probleem is of nie.
- Doseer of spuit ooie in teen lewerslak en peervormige slak (indien nodig).
- Spuit of doseer met vitamien A en minerale, veral as ooie lanklaas groen weiding gehad het.
- Monitor die ooie se kondisie weekliks vir die laaste agt weke van dragtigheid – veral die meerling- en tweetandooie. Voorsien vroegtydig aanvullings.
- Begin om kampe waarin gelam gaan word, te monitor vir ongewenste predatore en tref betyds voorsorg. Moenie uitstel tot die ooie begin lam nie, want dan het hulle jou volle aandag nodig.
Ooie wat gepaar gaan word
- Skuif ooie wat gepaar gaan word na vars kampe 14 tot 21 dae voor die ramme bykom om hulle op ’n natuurlike wyse te prikkel/koggel.
- Die skeer van ooie is ook ’n natuurlike manier om hulle te prikkel/koggel. Mikskeer waar nodig voor paring.
- Met die komende dekseisoen moet ooie en ramme aanvullings en inentings teen die volgende ontvang: Slenkdalkoors, bloutong, Pasteurella, ensoötiese aborsie (EA) ses weke voor paring, vitamien A en Multimin.
- Begin om ramme voor te berei vir die dekseisoen deur hulle stelselmatig fiks te maak. Dit kan gedoen word deur hulle daagliks vinnig aan te jaag tot hulle 3 km in 25 minute kan aflê.
- Spuit of doseer met vitamien A en minerale sowat ’n maand voor paring, veral as hulle lanklaas groen weiding gehad het.
- Maak seker dat die ooie skoon is van bosluise.
- Doseer of spuit ooie in teen lewerslak en peervormige slak (indien nodig).
Ramme
- Aksies ten opsigte van ramme moet agt weke voor paring afgehandel wees.
- Verseker dat daar genoeg funksionele ramme vir die aantal ooie is.
- Begin om ramme vir die dekseisoen voor te berei deur hulle stelselmatig fiks te maak. Dit kan gedoen word deur hulle daagliks vinnig aan te jaag tot hulle 3 km in 25 minute kan aflê.
- Skeer, ent/doseer en voorsien minerale-aanvullings vir die lenteparing.
- Voorsien prikkelvoeding soos hawerpitte of ’n goeie lek wat hoog in proteïene is.
- Toets vir vrugbaarheid en geslagsiektes.
- Spuit of doseer met vitamien A en minerale, veral as hulle lanklaas groen weiding gehad het.
- Doseer of spuit in met ’n breëspektrummiddel teen rondewurms (veral haarwurm) en neuswurm.
- Maak seker dat die ramme skoon is van bosluise.
- Doseer of spuit ramme in teen lewerslak en peervormige slak (indien nodig).
- Koggelramme word vir nege dae voor paring ingesit. Vervang hulle laatmiddag op dag 9 met die ramme vir paring.
BEESTE
- Let steeds op na die droogheid van die mis as maatstaf om te besluit wanneer om van ’n winter-/proteïenlek na ’n oorgangs- of somerlek oor te skakel. Maak seker dat die lekbakbestuur op standaard is. Diere moet die korrekte volumes aanvullings inneem.
- Lentekalfkoeie moet sowat vier weke voor kalwing met vitamien A ingespuit word. Hierdie koeie moet die beste beskikbare voeding ontvang. Hulle moenie net lakteer nie, maar ook kondisie opbou om binnekort weer bul te vat teen ’n kondisietelling van minstens 3,5 uit ’n punt van 5. Waar voertekorte voorkom, kan ’n produksielek oorweeg word om hulle te help en/of kruipvoer vir die kalwers om hulle te help om vroeër te speen.
- Die voorafgaande punt is nog belangriker vir eerstekalfverse, aangesien hulle boonop energie moet gebruik om die laaste ongeveer 20% van hul volwasse gewig te groei. Dit is belangrik om te verseker dat hulle gereed is vir goeie konsepsie met hul tweede dekking.
- Verse wat vier maande oud is, moet met Stam 19 teen besmetlike misgeboorte (BM) ingeënt word.