Goeie landboukundige praktyke is belangrik om suksesvol te boer. Die kundiges by AgTech@NWK en Finansiering is altyd gewillig om produsente by te staan om optimaal te boer.
In hierdie uitgawe gee Eric Louw (bestuurder: Presisieboerdery) riglyne oor grondvogbestuur en bemesting. Pieter le Roux (hoof-dier-en-weidingwetenskaplike) deel wenke oor weidingsbestuur en dieregesondheid.
Akkerboupraktyke
GRONDVOGBESTUUR
Die vorige seisoen, wat relatief nat was en oor die algemeen met redelike nat grondprofiele geëindig het, skep ’n gunstige wegspringplek vir die nuwe seisoen. Die voorspellings vir die nuwe seisoen is gunstig, wat die produksievooruitsigte baie positief maak. Produsente moet die beste maak van hierdie geleentheid.
Alle reënval, insluitende hoë-intensiteit donderbuie, moet doeltreffend in die grond gestoor word. Hou die bogrond ontvanklik vir reënwater sodat dit vinnig kan infiltreer. Dit kan gedoen word deur korse in die oppervlakte gereeld op te breek, oesreste op die grondoppervlakte te hou en verdigte lae op te hef sodat die water vinnig na die ondergrond kan dreineer.
PLANT OP ’N SKOON SAADBED
Benewens dat akkerboulande deur die jaar onkruidvry gehou moet word, is ’n onkruidvrye saadbed ononderhandelbaar. Kenmerkend van onkruid is dat dit sterk kompeteerders is, wat veral gewassaailinge se aanvanklike ontwikkeling ernstig onderdruk. Die onkruid raap plantvoedingstowwe en water voor die gewasse op en laat honger saailinge agter.
’n Wye verskeidenheid onkruide skei ook remstowwe af, wat die gewasse se ontwikkeling beperk. Onkruid moet dus doeltreffend beheer word sodat al die water en plantvoedingstowwe uitsluitlik vir die gewasse beskikbaar sal wees.
MOENIE OP BEMESTING BESPAAR NIE
Kunsmis is steeds ’n gerekende hoë koste-item. Dit kan sekerlik ’n motivering wees om nou met kunsmis te snoep. Selfs met die onsekerheid van die verwagte El Niño sou dit waarskynlik steeds loon om nie die plantmengsel te verminder nie, maar eerder die topbemesting aan te pas by die potensiaal in daardie stadium.
Hou by die geskikte bemestingspraktyke en die potensiaal van die grond. Inteendeel, hou die seisoen dop en gee dalk eerder ’n bietjie ekstra kunsmis. Voldoende grondvog, doeltreffende bewerking, goeie bemesting en doeltreffende onkruidbeheer is steeds die belangrikste aspekte wat tot ’n optimale oesopbrengs lei.
Dieregesondheid en bestuur
BEESTE
- Indien dit betyds gereën het en volop groen weiding beskikbaar is, kan beeskuddes nou voluit ’n somerlek (P6 of P12 om die helfte gemeng met sout) ontvang.
- Bulle moet gereed wees vir die komende dekseisoen. Toetsing vir vrugbaarheid, trigomoniase en vibriose moet afgehandel wees of dringend gedoen word.
- Laat dek die verse ’n maand voor die koeie sodat hulle ’n ekstra maand het om ná kalwing te herstel, met die oog op goeie herkonsepsie met hul tweede dekking.
- Help koeie en veral verse deur goeie voedingsbestuur om teen dektyd op ’n kondisiepunt van 3,5 uit 5 te wees.
- Behandel die kudde voor die dekseisoen teen inwendige parasiete.
- Dip gereeld waar nodig.
- Inentings teen beesvirusdiarree (BVD), Slenkdalkoors, knopvelsiekte en drie-dae-stywesiekte moet ook voor dektyd gedoen word.
- Onthoring kalwers in Desember. Wees waaksaam vir brommeraanvalle en behandel betyds.
SKAPE
Ramme
- Alle bestuursaksies by die ramme moet minstens agt weke voor paring afgehandel wees. Ent die ramme sodra hulle by die ooie uitgehaal word met lewendige entstowwe teen bloutong, Slenkdalkoors en so meer. Handel hierdie aksies minstens agt weke voor die volgende paring af.
- Ramme moet nou gereed wees vir die komende dekseisoen. Hulle moet gemaklik 3 km in 30 minute kan aflê.
- Teen die aanvang van die dekseisoen moet ooie en ramme teen bloutong ingeënt wees.
- Doseer elke ram in die laaste vier weke voor paring een keer per week met 20 ml koringkiem.
- Knip die ramme se hoewe sodat hulle sonder moeite kan loop en dek.
Ooie
- Ooie wat nou gedek word, moet in kondisie toeneem om goed ram te vat.
- Begin met prikkelvoeding vanaf 14 tot 21 dae voordat die ramme bykom tot 21 dae ná die ramme bygesit is.
- Koggel die ooie net vir nege dae en sit dan die ramme by. Koggelramme werk hierdie tyd van die jaar baie goed om die ooie op hitte te kry, maar 14 dae is te lank, want dan sal die vrugbaarste ooie reeds weer van hitte af wees.
- Mikskeer ooie met meer as ses maande se wolgroei wat gedek gaan word.
- Ent ooie teen ensoötiese aborsie ses weke voor paring. ’n Tipiese simptoom hiervan in die kudde is ’n verlies aan lammers tussen skandering en merk, asook lammers wat swak is by geboorte en kort daarna vrek.
- Ent ooie ses weke voor paring met ’n kombinasie-entstof teen bloednier en Pasteurella.
- Doseer die ooie met ’n breëspektrum wurmmiddel, indien nodig. Neem en ontleed mismonsters om die nodigheid van ’n dosering te bevestig.
- As die ooie lanklaas groen weiding gehad het, sal hulle goed reageer op die aanvulling van vitamien A en minerale (inspuitbaar of dosering). Ent met lewendige entstowwe teen bloutong, Slenkdalkoors en so meer.
- Ooie met September/Oktober-lammers moet vir vuil spene ondersoek word en vir uitskot gemerk word (veral as dit die tweede keer is) indien hulle nie ’n lam by hulle het nie. Foutiewe spene of swere in uiers kan ook redes wees waarom hulle nie ’n lam het nie.
- Ooie wat vroeër as Oktober/November gedek is en binne die volgende ses weke gaan lam, moet teen Pasteurella, bloednier, blou-uier, rooiderm en bloedderm (indien dit in die omgewing voorkom) geënt word. Verder moet hulle teen inwendige parasiete ingespuit word en teen neuswurm gedoseer word. Doseer ook met minerale en maak seker dat hierdie ooie nie kondisie verloor nie, veral die meerling- en tweetandooie.
- Neuswurm is baie aktief van November tot Januarie, en hierdie dosering word dus ook aanbeveel. Dit is belangrik om nie dragtige ooie met lewendige entstowwe teen bloutong en Slenkdalkoors in te spuit nie. Dit kan aborsies veroorsaak.