Katte is uiters doeltreffend om knaagdierplae op plase onder bedwang te bring. Lichtenburg Dierewelsyn het tans te veel katte om in hulle hokke te huisves. Omdat wilde katte in elk geval nie goed aanpas in geslote ruimtes nie, probeer dié welsynsorganisasie om hulle sover moontlik op plase in die omgewing te vestig.
Die katte word vooraf gesteriliseer en produsente moet bloot gewillig wees om hulle van skuiling, kos en die nodige versorging te voorsien. “Ons het al baie suksesvolle plasings in die verlede gehad en wil produsente weer aanmoedig om van hierdie katte na hul plase te bring,” sê Nicole van Gessellen, ’n vrywilliger by die organisasie.
Die terugvoering van produsente was onder andere dat hul rotprobleme iets van die verlede is en die teenwoordigheid van die katte by ’n stoor rotte en selfs slange weghou.
Danksy Lichtenburg Dierewelsyn se katte kan produsente vinnig muise en rotte op die plaas uitroei.
As jy ’n kat wil inneem, kontak asseblief Lichtenburg Dierewelsyn by 071 313 9248 of 083 336 3939.