NWK4Sure Brokers het op 25 Februarie ‘n nuwe hoofstuk van hul bestaan ingelui met die opening van hul nuwe hoofkantoor in Ventersdorp. Dit is met ‘n spoggerige geselligheid by die nuwe perseel by Snymanstraat 7 gevier waar NWK-departemente asook verskaffers van die makelary hul produkte en dienste uitgestal het.
NWK4Sure Brokers het in Oktober verlede jaar geskuif vanaf hul kantore in Van Riebeeckstraat in die dorp, grootliks weens ‘n behoefte aan meer spasie.
Die nuwe perseel beslaan 600 vierkante meter en spog met elf kantore en drie raadsale waar personeel kan vergader en kliënte adviseer.
OFM het regstreeks vanaf 12:00 tot 15:00 uitgesaai. Die omroeper, Pulani Nel-Sekepe het tydens die At Lunch-gleuf onderhoude gevoer met Pieter Kleingeld (groephoof- uitvoerende beampte van NWK) asook Elretha Kock (hoof- uitvoerende beampte van NWK4Sure Brokers).


Kliënte kon ook kennis maak met Gert, ‘n karikatuur en tevrede NWK4Sure Brokers-kliënt wat voortaan ingespan gaan word in bemarkingsveldtogte van die makelary. Gert is deur René Retief, senior grafiese ontwerper by Creations@NWK, ontwerp.


Kliënte-ervaring verbeter met nuwe kantore
Elretha het kliënte bedank vir hul ondersteuning en geduld tydens die trekperiode. Dit is ‘n stoor wat in ‘n moderne kantoorruimte omskep is en Elretha en haar span is baie tevrede met die eindresultaat.
“Ook ons kliënte is aangenaam verras,” het sy aan Pulani gesê. “Hulle ervaar dit as professioneel en dit is die doel wat ons wou bereik. Belangrike inligting word gedeel en binne hierdie mure moet ons kliënte se risiko’s aanspreek en belange beskerm. Hulle bly die spil waarom ons draai.”
Hoewel NWK4Sure Brokers grootliks in ‘n landbou-omgewing funksioneer, bied hulle ‘n omvattende diens aan individue binne enige bedryf. Dit sluit in korttermyn-, oes-, reis- en lewensversekering; boedelbeplanning; beleggings; mediese fondse; vervoerkontrakteursdekking met vragdekking; asook risikofinansieringsprodukte.
NWK4Sure Brokers is passievol oor die gemeenskappe waarbinne hulle funksioneer en het Brokers Baking 4 Hope (BB4H) van stapel gestuur. Personeel bak gereeld pannekoek wat hulle verkoop en skenk die opbrengste aan ouetehuise en ander behoeftige instansies.
Versekering is nie ‘n luukse nie
Elretha het ook oor die lug gemaan dat kliënte wat geldelike nood ervaar, nie drastiese besluite moet neem om versekering te kanselleer sonder om dit met hul makelaar of adviseur te bespreek nie.
“Dis hier waar ‘n goeie verhouding met ‘n makelaar wat jy kan vertrou, belangrik is. Julle moet kan sit en ‘n plan bewerkstellig. Kyk na die kern van jou besigheid. Wat bepaal jou inkomste? Sorg dat dit verseker is.”

Sy raai kliënte in ‘n penarie aan om eers luukse items soos “gespesifiseerde alle risiko” van portefeuljes te verwyder en dit later, sou hulle posisie verbeter, weer by te voeg.
“Daar is opsies soos beperkte versekering of derdepartydekking alleen. Daar is áltyd ‘n plan om te maak. Het jy ‘n geldige testament en is dit opgedateer? Almal moet verantwoordelikheid neem vir hul besluite en dis hier waar ons met ons kliënte hande neem.”
Pieter het bygevoeg dat dit vir NWK belangrik is om ‘n eenstopdiens aan kliënte te kan lewer. “Deel van dit is die lewering van finansiële dienste en NWK4Sure Brokers skakel dus in by ons totale sakemodel.”

Met die snelle verandering van tegnologie en produsente wat toenemend hommeltuie inspan, moes die versekeringsbedryf hierby aanpas. “Die makelaars by NWK4Sure is kundig oor die beskikbare tegnologie en volg ‘n meer risikogebaseerde benadering ten einde die beste produkte vir kliënte op die tafel te kan sit,” het Pieter afgesluit.


