• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Fri, May 9, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

Klimaat se invloed op die plantdatum

Anche Suurd, Landbou-ekonoom

14 Mar 2025
in Tegniek
Klimaat se invloed op die plantdatum

Foto: Tiani Claassen

Share on Facebook

Elke seisoen is uniek en omstandighede verskil. ’n Groot kopseer is die regte plantdatum. Die vraag is of die tradisionele plantdatum vir mie­lies nog van toepas­sing is en wat die faktore is wat in ag geneem moet word om hierdie belangrike besluit te neem.

’n Belangrike faktor wat elke jaar ’n groot rol speel met die bepaling van die plantdatum, is natuurlik wanneer dit gaan reën. In die verlede is die lande altyd bewerk en geplant as die eerste reën val, al was dit nog vroeg in die seisoen.

Dit wil egter voorkom of die midsomer-droogtes al hoe langer en warmer word. Dit val gewoonlik ook saam met die gewasse se blomtyd. En wat kan verwag word as daar nie reeds met die eerste reën geplant word nie? Wanneer gaan dit dan weer reën?

Die afgelope paar jaar se aanhoudende hoë temperature in Januarie en Februarie is ’n relatiewe nuwe verskynsel wat ook in berekening gebring moet word. Hiermee saam is die humiditeit, veral in die seisoen waarin ons tans is, baie hoog.

Die afgelope tien jaar se rekords van Lichtenburg se reënval, humiditeit en temperatuur tydens die tydperk vanaf Oktober tot April is gebruik om die vergelykings in hierdie artikel te maak. Die inligting in die artikel kan moontlik help om ’n ingeligte besluit te neem en voorbereid te wees vir die gevolge van ’n potensiële foutiewe besluit. Hier word slegs na tendense gekyk omdat elke jaar verskil en sy eie uitdagings bied.

Reënval

Die gemiddelde reënval tydens Oktober se tendens, soos aangedui in Grafiek 1 – wat voorheen die begin van die tradisionele planttyd was – het oor die afgelope tien jaar nie veel verander nie. Dis egter opmerklik dat daar ’n groot wisseling in die Oktober-reënval was oor hierdie tydperk.

Grafiek 1: Oktober-reënval vir Lichtenburg oor die afgelope tien jaar.

As in ag geneem word dat dit in die twee voorafgaande maande selde reën, is die gevolg dat voorplant-bewer­kings vir mielies noodgedwonge later moet plaasvind. Dis veral ’n kopseer indien die grond té droog is ná strooptyd.

Die reënval is vanaf November meer konstant en daar was ’n effense toename in die kumulatiewe totale reën vir Oktober, November en Desember oor die tien jaar (Grafiek 2). Volgens die data wil dit voorkom asof die eerste betekenisvolle reënbuie eers vanaf die tweede week van November begin val. Dit kan redelike druk op produsente plaas wat nog nie primêre grond­bewerkings kon uitvoer nie. Die natter November en
Desember kan ook ’n uitdaging wees om betyds te plant.

Hoewel Januarie se gemiddelde reënval hoër as dié van Februarie is (Grafiek 3), is die onvoorspelbaarheid daarvan moontlik ’n groter probleem. Volgens die data wil dit voorkom asof daar ’n afname in die kumulatiewe reënval vir die betrokke twee maande was.

Die bekende midsomerdroogte tydens Januarie en Februarie staan nie uit in hierdie data nie, maar dis duidelik dat die jaarlikse patrone gedurende hierdie belangrike tydperk heelwat wissel. Die gevolg hiervan is droër en warmer toestande in ’n belangrike tyd wanneer mielies in die saad kom.

Grafiek 2: Kumulatiewe gemiddelde reënval vir Oktober, November en Desember.
Grafiek 3: Kumulatiewe gemiddelde reënval vir Januarie en Februarie.

Humiditeit

Waterdamp, yskristalle en neerslag kom natuurlik voor in die aarde se atmosfeer. Relatiewe humiditeit verwys na die persentasie waterdamp in die lug, wat fluktueer soos wat die temperatuur verander. By konstante druk kan versadigde lug nie meer watermolekules behou nie, wat ’n relatiewe humiditeit van 100% tot gevolg het.

Sulke toestande kan dan aanleiding gee tot reën. Die lug kan meer watermolekules stoor soos die tempera­tuur styg, wat die relatiewe humiditeit verminder. Die relatiewe humiditeit styg wanneer die temperatuur daal.

Voordele van hoë humiditeit:

  • Die impak van hitte kan verlig word.
  • Matige humiditeit kan die fotosintesetempo optimaliseer, wat gesonde plantgroei bevorder.
  • Hoë humiditeit kan ook daartoe bydra dat stuif­meel se lewensvatbaarheid gehandhaaf word, wat noodsaaklik is vir suksesvolle bestuiwing en saadvorming.

Nadele van hoë humiditeit:

  • Dit lok veral insekte en plae, wat die gewas se vatbaarheid vir siektes verhoog.
  • ’n Oormaat vog kan soms stuifmeelstorting benadeel.
  • Die graangehalte kan moontlik afneem.

Gevolglik het die temperatuur ’n direkte verband met die hoeveelheid vog wat die atmosfeer kan berg.

Temperatuur

Met die uitsondering van Desember, het die gemiddelde maksimum temperature vanaf November tot April ’n klein opwaartse tendens getoon. Dit kan moontlik verband hou met klimaatsveranderinge.

’n Intensiewer studie hiervan oor ’n langer tydperk is egter nodig om sinvolle afleidings te kan maak. Die gemiddelde maandelikse nagtemperature het egter vanaf Desember tot Maart ’n afwaartse tendens getoon, hoewel dit gering was. Januarie se gemiddelde maksimum (Grafiek 4) het redelik konstant gebly en die gemiddelde minimum temperatuur (Grafiek 5) oor die tien jare het ’n effense afname getoon.

Grafiek 4: Gemiddelde maksimum temperatuur vir Januarie.
Grafiek 5: Gemiddelde minimum temperatuur vir Januarie.

Opbrengsverliese in mielies van tussen 13,7% en 22,8% kan met temperature bo 36°C verwag word. Die maksimum temperature in die Lichtenburg-gebied in Desember 2023, Februarie 2024 en Maart 2024 was dikwels bo 34°C, met ’n gepaardgaande lae humiditeit en swak wolkbedekking. Dit word beskou as een van die vernaamste oorsake vir die afgelope produksieseisoen se swak oeste.

Die pluim van ’n mielieplant is veral baie sensitief vir hittestres. Dit onderbreek die omskakeling van suiker na stysel en beskadig stuifmeel-morfologie, wat uiteindelik stuifmeel se lewensvatbaarheid verlaag. Stuifmeel-ontkieming begin vanaf 32°C afneem en dit daal skerp tot op 38°C.

Hittestres kan ook die atmosferiese verdamping verhoog en dit lei tot fisiologiese droogtestres. Die optimale temperature vir mielieverbouing wissel in die dag tussen 25°C en 33°C, en in die nag is dit tussen 17°C en 23°C. Uit hierdie data blyk dit dat die gemete temperature grootliks binne hierdie grense geval het.

Baie lae nagtemperature lei gewoonlik tot ’n verlaagde groeitempo, wat die vatbaarheid vir siektes verhoog – ver­al as die humiditeit hoog is – en dit ontwrig ook bestuiwing en saadvorming.

Foto: Wilmari Scholtz

Samevatting

Die lae reënval in Oktober en vroeg in November lei dikwels tot min grondvog. Dis veral ’n probleem in gevalle waar min grondvog van die vorige seisoen oorgedra is. In sulke gevalle skuif die planttyd vir mielies aan tot die tweede helfte van November en dikwels selfs tot diep in Desember. Dit verkort dus die tradisionele plantvenster vir mielies betekenisvol. Die hoër reënval tydens November en Desember bemoeilik dit egter dan om in die lande te kom.

Die maksimum temperature oor al die maande, met die uitsondering van Desember, het ’n effense stygende tendens getoon. Desember se dalende tendens hou moontlik verband met veral 2019 en 2021, waartydens die gemiddelde maksimum temperature heelwat laer as die ander jare was.

Die nagtemperature het hierteenoor eerder ’n dalende tendens getoon. Dit dui in alle waarskynlikheid daarop dat die daaglikse verskil tussen maksimum en minimum temperature aan die toeneem is, soos wat in baie droë gebiede ervaar word.

Dit is noodsaaklik dat hierdie faktore in ag geneem moet word tydens die jaarlikse produksiebeplanning as dit kom by praktyke soos bewerkings, kultivarkeuse en plantdatums. ’n Mens kan nie veel aan die klimaat doen nie, maar om ingelig te wees maak besluitneming ’n bietjie makliker.

Hou rekord van die reënval en temperature op jou plaas om langtermyndata te vergelyk en te verstaan hoe dit jou boerdery beïnvloed.

Bronnelys

  • Chriswick H, 2025. Met Office. https://www.metoffice.gov.uk/weather/learn-about/weather/types-of-weather/humidity/effects#:~:text=During%20very%20heavy%20rainfall%2C%20where,we’re%20likely%20to%20see
    [16 Januarie 2025]
  • Dong X, Li B, Yan Z, Guan L, Huang S, Li S, Qi Z, Tang L, Tian H, Fu Z & Yang H, 2024. Impacts of high temperature, relative air humidity and vapour pressure deficit on the seed of contrasting maize genotypes during flowering. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S2095311923002952?dgcid=rss_sd_all [15 Januarie 2025]
  • Rahimi-Moghaddam S, Kambouzia J & Deihimfard R, 2018. Adaptation strategies to lessen negative impact of climate change on grain maize under hot climatic conditions: A model-based assessment. Agricultural and Forest Meteorology, 253–254, pp. 1-14 [13 Januarie 2025]
  • World Weather Online. https://www.worldweatheronline.com/lichtenburg-weather-history/north-west/za.aspx [10 Januarie 2025]
Tags: MRT/APR 2025
Previous Post

Grond-pH beïnvloed werking van kunsmis

Next Post

Waarde van swael – pasop om dit gering te skat

Recommended

Bestuur jou kudde volgens die klimaat

Bestuur jou kudde volgens die klimaat

9 May 2025
Klein boertjie wen ’n handige prys

Klein boertjie wen ’n handige prys

6 May 2025
March/April 2025: Agricultural economic report

March/April 2025: Agricultural economic report

6 May 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Bestuur jou kudde volgens die klimaat

Bestuur jou kudde volgens die klimaat

9 May 2025
Klein boertjie wen ’n handige prys

Klein boertjie wen ’n handige prys

6 May 2025
March/April 2025: Agricultural economic report

March/April 2025: Agricultural economic report

6 May 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In