Elke seisoen is uniek en omstandighede verskil. ’n Groot kopseer is die regte plantdatum. Die vraag is of die tradisionele plantdatum vir mielies nog van toepassing is en wat die faktore is wat in ag geneem moet word om hierdie belangrike besluit te neem.
’n Belangrike faktor wat elke jaar ’n groot rol speel met die bepaling van die plantdatum, is natuurlik wanneer dit gaan reën. In die verlede is die lande altyd bewerk en geplant as die eerste reën val, al was dit nog vroeg in die seisoen.
Dit wil egter voorkom of die midsomer-droogtes al hoe langer en warmer word. Dit val gewoonlik ook saam met die gewasse se blomtyd. En wat kan verwag word as daar nie reeds met die eerste reën geplant word nie? Wanneer gaan dit dan weer reën?
Die afgelope paar jaar se aanhoudende hoë temperature in Januarie en Februarie is ’n relatiewe nuwe verskynsel wat ook in berekening gebring moet word. Hiermee saam is die humiditeit, veral in die seisoen waarin ons tans is, baie hoog.
Die afgelope tien jaar se rekords van Lichtenburg se reënval, humiditeit en temperatuur tydens die tydperk vanaf Oktober tot April is gebruik om die vergelykings in hierdie artikel te maak. Die inligting in die artikel kan moontlik help om ’n ingeligte besluit te neem en voorbereid te wees vir die gevolge van ’n potensiële foutiewe besluit. Hier word slegs na tendense gekyk omdat elke jaar verskil en sy eie uitdagings bied.
Reënval
Die gemiddelde reënval tydens Oktober se tendens, soos aangedui in Grafiek 1 – wat voorheen die begin van die tradisionele planttyd was – het oor die afgelope tien jaar nie veel verander nie. Dis egter opmerklik dat daar ’n groot wisseling in die Oktober-reënval was oor hierdie tydperk.

As in ag geneem word dat dit in die twee voorafgaande maande selde reën, is die gevolg dat voorplant-bewerkings vir mielies noodgedwonge later moet plaasvind. Dis veral ’n kopseer indien die grond té droog is ná strooptyd.
Die reënval is vanaf November meer konstant en daar was ’n effense toename in die kumulatiewe totale reën vir Oktober, November en Desember oor die tien jaar (Grafiek 2). Volgens die data wil dit voorkom asof die eerste betekenisvolle reënbuie eers vanaf die tweede week van November begin val. Dit kan redelike druk op produsente plaas wat nog nie primêre grondbewerkings kon uitvoer nie. Die natter November en
Desember kan ook ’n uitdaging wees om betyds te plant.
Hoewel Januarie se gemiddelde reënval hoër as dié van Februarie is (Grafiek 3), is die onvoorspelbaarheid daarvan moontlik ’n groter probleem. Volgens die data wil dit voorkom asof daar ’n afname in die kumulatiewe reënval vir die betrokke twee maande was.
Die bekende midsomerdroogte tydens Januarie en Februarie staan nie uit in hierdie data nie, maar dis duidelik dat die jaarlikse patrone gedurende hierdie belangrike tydperk heelwat wissel. Die gevolg hiervan is droër en warmer toestande in ’n belangrike tyd wanneer mielies in die saad kom.


Humiditeit
Waterdamp, yskristalle en neerslag kom natuurlik voor in die aarde se atmosfeer. Relatiewe humiditeit verwys na die persentasie waterdamp in die lug, wat fluktueer soos wat die temperatuur verander. By konstante druk kan versadigde lug nie meer watermolekules behou nie, wat ’n relatiewe humiditeit van 100% tot gevolg het.
Sulke toestande kan dan aanleiding gee tot reën. Die lug kan meer watermolekules stoor soos die temperatuur styg, wat die relatiewe humiditeit verminder. Die relatiewe humiditeit styg wanneer die temperatuur daal.
Voordele van hoë humiditeit:
- Die impak van hitte kan verlig word.
- Matige humiditeit kan die fotosintesetempo optimaliseer, wat gesonde plantgroei bevorder.
- Hoë humiditeit kan ook daartoe bydra dat stuifmeel se lewensvatbaarheid gehandhaaf word, wat noodsaaklik is vir suksesvolle bestuiwing en saadvorming.
Nadele van hoë humiditeit:
- Dit lok veral insekte en plae, wat die gewas se vatbaarheid vir siektes verhoog.
- ’n Oormaat vog kan soms stuifmeelstorting benadeel.
- Die graangehalte kan moontlik afneem.
Gevolglik het die temperatuur ’n direkte verband met die hoeveelheid vog wat die atmosfeer kan berg.
Temperatuur
Met die uitsondering van Desember, het die gemiddelde maksimum temperature vanaf November tot April ’n klein opwaartse tendens getoon. Dit kan moontlik verband hou met klimaatsveranderinge.
’n Intensiewer studie hiervan oor ’n langer tydperk is egter nodig om sinvolle afleidings te kan maak. Die gemiddelde maandelikse nagtemperature het egter vanaf Desember tot Maart ’n afwaartse tendens getoon, hoewel dit gering was. Januarie se gemiddelde maksimum (Grafiek 4) het redelik konstant gebly en die gemiddelde minimum temperatuur (Grafiek 5) oor die tien jare het ’n effense afname getoon.


Opbrengsverliese in mielies van tussen 13,7% en 22,8% kan met temperature bo 36°C verwag word. Die maksimum temperature in die Lichtenburg-gebied in Desember 2023, Februarie 2024 en Maart 2024 was dikwels bo 34°C, met ’n gepaardgaande lae humiditeit en swak wolkbedekking. Dit word beskou as een van die vernaamste oorsake vir die afgelope produksieseisoen se swak oeste.
Die pluim van ’n mielieplant is veral baie sensitief vir hittestres. Dit onderbreek die omskakeling van suiker na stysel en beskadig stuifmeel-morfologie, wat uiteindelik stuifmeel se lewensvatbaarheid verlaag. Stuifmeel-ontkieming begin vanaf 32°C afneem en dit daal skerp tot op 38°C.
Hittestres kan ook die atmosferiese verdamping verhoog en dit lei tot fisiologiese droogtestres. Die optimale temperature vir mielieverbouing wissel in die dag tussen 25°C en 33°C, en in die nag is dit tussen 17°C en 23°C. Uit hierdie data blyk dit dat die gemete temperature grootliks binne hierdie grense geval het.
Baie lae nagtemperature lei gewoonlik tot ’n verlaagde groeitempo, wat die vatbaarheid vir siektes verhoog – veral as die humiditeit hoog is – en dit ontwrig ook bestuiwing en saadvorming.

Samevatting
Die lae reënval in Oktober en vroeg in November lei dikwels tot min grondvog. Dis veral ’n probleem in gevalle waar min grondvog van die vorige seisoen oorgedra is. In sulke gevalle skuif die planttyd vir mielies aan tot die tweede helfte van November en dikwels selfs tot diep in Desember. Dit verkort dus die tradisionele plantvenster vir mielies betekenisvol. Die hoër reënval tydens November en Desember bemoeilik dit egter dan om in die lande te kom.
Die maksimum temperature oor al die maande, met die uitsondering van Desember, het ’n effense stygende tendens getoon. Desember se dalende tendens hou moontlik verband met veral 2019 en 2021, waartydens die gemiddelde maksimum temperature heelwat laer as die ander jare was.
Die nagtemperature het hierteenoor eerder ’n dalende tendens getoon. Dit dui in alle waarskynlikheid daarop dat die daaglikse verskil tussen maksimum en minimum temperature aan die toeneem is, soos wat in baie droë gebiede ervaar word.
Dit is noodsaaklik dat hierdie faktore in ag geneem moet word tydens die jaarlikse produksiebeplanning as dit kom by praktyke soos bewerkings, kultivarkeuse en plantdatums. ’n Mens kan nie veel aan die klimaat doen nie, maar om ingelig te wees maak besluitneming ’n bietjie makliker.
Hou rekord van die reënval en temperature op jou plaas om langtermyndata te vergelyk en te verstaan hoe dit jou boerdery beïnvloed.
Bronnelys
- Chriswick H, 2025. Met Office. https://www.metoffice.gov.uk/weather/learn-about/weather/types-of-weather/humidity/effects#:~:text=During%20very%20heavy%20rainfall%2C%20where,we’re%20likely%20to%20see
[16 Januarie 2025] - Dong X, Li B, Yan Z, Guan L, Huang S, Li S, Qi Z, Tang L, Tian H, Fu Z & Yang H, 2024. Impacts of high temperature, relative air humidity and vapour pressure deficit on the seed of contrasting maize genotypes during flowering. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S2095311923002952?dgcid=rss_sd_all [15 Januarie 2025]
- Rahimi-Moghaddam S, Kambouzia J & Deihimfard R, 2018. Adaptation strategies to lessen negative impact of climate change on grain maize under hot climatic conditions: A model-based assessment. Agricultural and Forest Meteorology, 253–254, pp. 1-14 [13 Januarie 2025]
- World Weather Online. https://www.worldweatheronline.com/lichtenburg-weather-history/north-west/za.aspx [10 Januarie 2025]