Die belangrikheid van swael word dikwels onderskat omdat stikstof, fosfaat en kalium die meeste aandag kry. Swael is egter een van 17 noodsaaklike plantvoedingstowwe en al meer agronome lê klem daarop dat swael as die vierde makro-element oorweeg behoort te word.
Swael speel ’n belangrike rol vir die kweek van gesonde gewasse. Verskeie sleutelfunksies in plante word deur swael beïnvloed (Figuur 1) en sluit onder andere die volgende in:
- Fotosintese.
- Proteïenproduksie.
- Koolhidraatproduksie.
- Energiemetabolisme.
- Stikstofassimilasie.
- Stresbestuur.
- Respirasie.

’n Grondverbeteraar
Swael is ’n noodsaaklike voedingstof deurdat dit tot beter gewasontwikkeling bydra, op beide kwalitatiewe en kwantitatiewe wyses. Dit tree ook as ’n natuurlike regstelling vir alkaliese en soutgronde op. Gips, wat baie swael bevat, word aanbeveel wanneer soute uit die grond geloog moet word, terwyl ammoniumsulfaat vir die verlaging van grond se pH aanbeveel word.
VERSOUTING
Waterstof- en sulfaatione vorm tydens die oksidasieprosesse ná die toediening van swael deur gips te gebruik. Die waterstofprotone en sulfaatione bind dan met die natrium en chloried van die soute. Soutsuur en natriumsulfaat vorm tydens hierdie proses en albei hierdie verbindings is hoogs oplosbaar. Dit word gevolglik maklik uit die grond geloog.
Dié reaksie verlaag die grond se soutinhoud en elektriese geleidingsvermoë. Dit stel op sy beurt die plant beter in staat om die noodsaaklike voedingstowwe makliker uit die grond op te neem.
Omdat gips ’n neutrale sout is, verander dit nie die waterstof-ioonkonsentrasie van die grond nie en derhalwe bly die pH onveranderd.
ALKALIESE GRONDE
In die geval van alkaliese gronde, lei die oksidasiereaksies wat deur ’n swaeltoediening soos dié van ammoniumsulfaat veroorsaak word, tot die vermindering van ’n oormaat kalsiumkarbonaat en gevolglik verlaag die pH-vlakke van hierdie tipe grond.
Mikroörganismes skakel die swael om in swaelsuur, wat waterstofione vrystel en die grond se pH verlaag. Waak daarteen om grond té veel te versuur met swaeltoedienings, aangesien dit moontlik tot ander wanbalanse kan lei.
Tekorte
IN DIE GROND
Swaeltoediening het met die toenemende gebruik van kunsmismengsels, wat min of geen swael bevat nie, in baie gevalle heelwat afgeneem. In kombinasie hiermee het sekere van die plaaslike landbougronde oor die algemeen beperkte swaelleweringsvermoë (Fertiliser Association of Southern Africa, 2016). Hierdie toedrag van sake lei dikwels tot ernstige voedingswanbalanse in gewasse.
Verskeie faktore dra by tot die swaelvlakke in grond (Figuur 2), soos mineraalverwering, atmosferiese neersetting en die afbreking van organiese materiaal. Swael sirkuleer tussen die organiese en anorganiese vorm in grond deur middel van mobilisasie, immobilisasie, mineralisasie, oksidasie- en reduksieprosesse. Organiese swael is grootliks immobiel in die grond en nie beskikbaar vir plantopname nie, terwyl anorganiese swael baie mobiel en plantbeskikbaar is (Edwards, 1998).
Swaeltekorte was in die verlede baie skaars. Die meerderheid swael was eintlik van lugbesoedeling afkomstig. Sedert swaeldioksied-vrystelling die afgelope sowat 40 jaar gelede gemonitor en beperk word, het swaeltekorte in verskillende gronde na vore getree (Mason, 2020).
Swael is ’n anioon, wat beteken dat dit baie mobiel in die grond is en dus ook maklik uitloog, nes stikstof. Gewasse neem bykans ewe veel swael en fosfaat op, maar omdat swael maklik uitloog, neem die swaelvlakke in grond vinniger af (Mason, 2020).

IN PLANTE
Swaeltekorte kom algemeen voor in suurgronde, sandgronde en grond wat min organiese materiaal bevat, asook wanneer lae temperature voorkom en die grond uitermate droog is. Hierdie toestande vertraag die vrystelling van swael uit organiese materiaal. Simptome wat vroeg in die seisoen waargeneem word, kan verdwyn namate die temperatuur en vogtoestande vir die mineralisering van swael uit organiese materiaal verbeter.
Stikstof- en swaeltekortsimptome lyk baie dieselfde (vergeling van blare) en word dikwels in die veld met mekaar verwar. Indien die gewas ’n swaeltekort ervaar, is die kans baie goed dat daar ook ’n stikstoftekort kan wees, ongeag hoeveel stikstof toegedien is. Dit is omdat die gewas swael benodig om stikstof te metaboliseer (Griffiths, 2022).
Swael is nie mobiel in plante nie en tekorte word dus eerste op nuwe blare waargeneem (sien foto), terwyl stikstoftekorte eerste op ouer blare waargeneem word.
Tekortsimptome sluit in:
- Jong blare vertoon geel, geelgroen of vaalgroen.
- Blare is kleiner en soms smal.
- Vertraagde groei, met kort en dun plante (verpotte groei).
- Plante neem langer om volwassenheid te bereik en na die reproduktiewe fase oor te gaan.
- Tussenaarse chlorose.
- Omkrul van blare.
Swaelvlakke van 7 mg/kg tot 10 mg/kg in grond is aanvaarbaar en vlakke bo 10 mg/kg word as goed geag.
Die onttrekking van swael vir elke ton mieliegraan geproduseer, is ongeveer 1,3 kg/ha. In die geval van droëbone is dit ongeveer 3 kg/ha (Fertiliser Association of Southern Africa, 2016).
Daar word dus altyd aanbeveel dat swael by die plantmengsel gevoeg word. Indien swaeltekorte eers later in die seisoen opgemerk word, kan dit deur middel van ’n blaarbespuiting reggestel word.
Samevatting
Swael speel ’n onontbeerlike rol in moderne landbou omdat dit tot die gesondheid en produktiwiteit van gewasse bydra. As ’n noodsaaklike voedingstof help swael met proteïensintese, verhoog dit die plant se weerstand teen siektes en ondersteun dit sekere noodsaaklike metaboliese prosesse. Met sy groeiende rol in die bekamping van voedingstoftekorte en die versekering van grondgesondheid, word swael al hoe noodsaakliker in volhoubare boerderypraktyke.
Namate landboubehoeftes ontwikkel, sal die inkorporering van swael in voedingstofbestuurstrategieë noodsaaklik wees vir die optimalisering van oesopbrengste, verbetering van die grondgehalte en aanpak van globale voedselsekuriteitsuitdagings. Die sleutel tot die bevordering van ’n meer veerkragtige en produktiewe landboustelsel vir die toekoms vereis dat swael se volle potensiaal en benutting verstaan moet word.
Bronnelys
- Ashokan A, Mini V, Rani B & Anand S, 2024. Mitigation of abiotic stresses in plants through nutrient management. International Journal of Environment and Climate Change, 254-267
- Biswas S & Das R, 2024. Organic farming to mitigate biotic stresses under climate change scenario. Bulletin of the National Research Centre, 71
- Dey S & Raichaudhuri A, 2022. Abiotic stress in plants. In J. N. Kimatu, Advances in Plant Defence Mechanisms. IntechOpen
- Edwards PJ, 1998. Sulphur cycling, retention and mobility in soils: A review. USDA
- Erasmus A, 2021. Aartappelmot kan ’n nagmerrie vir aartappelboere wees as dit nie effektief beheer word nie. (E. Richard, Interviewer)
- Fertiliser Association of Southern Africa, 2016. Bemestingshandleiding
- Griffiths C, 2022. Your fields are likely low on sulphur: Here’s how to fix it. https://www.agweb.com/news/crops/crop-production/your-fields-are-likely-low-sulfur-heres-how-fix-it#:~:text=Cold%2C%20wet%20or%20dry%20soils,already%20borderline%20sufficient%20for%20sulfur
- Hasanuzzaman M, Borhannuddin Bhuyan M, Parvin K, Bhuiyan TF, Taufika IA, Kamrun N, Fujita M, 2020. Regulation of ROS metabolism in plants under environmental stress: A review of recent experimental evidence. PubMed Central
- Kopecká R, Kameniarová M, Černý M, Brzobohatý B & Novák J, 2023. Abiotic stress in crop production. National Library of Medicine
- Koppert, 2024. Koppert. Biological pest control: https://www.koppert.com/crop-protection/biological-pest-control/
- Ma Y, Freitas H & Dias MC, 2022. Strategies and prospects for biostimulants to alleviate abiotic stress in plants. Frontiers in Plant Science
- Mason B, 2020. The importance of sulphur in your soil. Soil Doctor: https://www.soildoctorconsulting.com/pro-tips/2020/4/27/sulfur
- Meshram JH, Singh SB, Raghavendra KP & Waghmare VN, (2022). Chapter 6 – Drought stress tolerance in cotton: Progress and perspectives. In AK Shanker, C Shanker, A Anand & M Maheswari, Climate change and crop stress molecules to ecosystems (pp. 135-169). Academic Press
- Singh M, Kumar J, Singh S, Prasad SM & Singh VP, 2015. Roles of osmoprotectants in improving salinity and drought tolerance in plants: A review. Reviews in Environmental Science and Biotechnology, 407-426
- Van Heerden M, 2022. Insekte in gewasverbouing. Retrieved from Pioneer: chrome-extension://efaidnbmnnnibpcajpcglclefindmkaj/https://opot.co.za/imgs/crops/sunflowers/web-studies/02-diseases-pests-and-weeds/2-2-pests/insekte-in-gewasverbouing-van-heerden-pioneer-blog-112021.pdf