Beheer winteronkruid betyds
Onkruide kompeteer sterk met kontantgewasse, terwyl dit ook sterk in wisselende omgewingstoestande kan gedy. “Meer as twee derdes van alle onkruidspesies is breëblaarspesies (dikotiele), waarvan probleem-winteronkruide dan ook meestal breëblare is,” verduidelik Eric Louw, bestuurder: Presisieboerdery by AgTech@NWK.
Die enigste grasse wat in die winter probleemonkruide kan wees, is meerjarige grasse, soos kweekgras (Cynodon dactylon) en beesgras (Urochloa mosambicensis). Die algemeenste winteronkruide in veral Noordwes en die Vrystaat is radiatorbossie ((Senecio consanguineus)), vaalskraalhanse (Conyza spp.) en bloudissel (Argemone ochroleuca).
Sommige onkruidspesies kan wel ook laat in die somer begin ontkiem en deur die winter saad stort. Dit sluit in kakiebos (Tagetes minuta), kleinkakiebos (Schkuhria pinnata), knapsekêrels (Bidens spp.) en Kaapse dubbeltjie (Emex australis). Hierdie onkruide moet net soos winteronkruide ook doeltreffend beheer word, meganies en/of chemies.
Winteronkruid kom tipies in April en Mei op. Volgens Eric is laat April en begin Mei ’n goeie tyd om hierdie onkruide by wyse van oorhoofse bespuitings in mielies met glifosaat in Roundup Ready-kultivars te beheer. In wye rye (2,3 m) kan dit meganies by wyse van vlak skoffelbewerkings gedoen word.
Onkruidbeheer in hierdie stadium help om die lande in die winter skoon te kry. Hierdie praktyk word sterk aanbeveel omdat dit daartoe bydra om meer grondvog na die volgende seisoen oor te dra, en dit help ook betekenisvol om lande ná stroop te kan bewerk.
Omdat winteronkruide sterk kompeteerders is, moet dit beheer word om welige groei en saadstorting in die winter te bekamp.
- Eerstens sal winteronkruide grondvog verbruik en grondvog dus aansienlik verlaag.
- Tweedens word die winteronkruidsaadbank in die grond elke jaar aangevul, wat die probleem net sal vererger oor tyd.
- Winteronkruide ryp ook nie dood soos someronkruide nie.
- Swamsiektes kan ook op onkruide, as gasheerplante, oorwinter.
Onthou dat onkruide in die wintermaande nie as ’n “dekgewas” gesien kan nie word nie, aangesien die kompeterende uitwerking vir grondvog van die aktief groeiende onkruide te sterk is. Bewerking tydens die wintermaande word nie aanbeveel nie, aangesien die verlies aan grondvog
dan te groot is.
“Met die huidige swak tot matige La Niña wat waarskynlik in die volgende seisoen gaan voortduur, is grondvogbestuur uiters belangrik, en daarmee saam ook uitnemende onkruidbeheer,” noem Eric.
Goeie reënval kry winterweidings gereed
Die wydverspreide reën wat tot die skryf van die artikel (23 Januarie) in die NWK-bedieningsgebied voorgekom het, het veeprodusente laat glimlag. Aangeplante weidings wat reeds benut was, kan nou toegelaat word om uit te groei en voor die winter saad te skiet. Hierdie kampe kan ideaal aangewend word as staandehooi vir benutting in die winter.
Die 41 silo’s in NWK se bedieningsgebied het gemiddeld 310 mm tot op 19 Januarie ontvang:
- Die hoogste totale neerslag wat aangeteken is, was vir die Blaauwbank-silo (475 mm) en die laagste vir die Kameel-silo (110 mm).
- Die gemiddelde neerslag vir die 41 silo’s was in November 2024 altesaam 92 mm, in Desember 2024 altesaam 72 mm en in Januarie 2025 altesaam 118 mm. Die gebied het nie voor November wesenlike neerslae aangeteken nie.
Hou diere só gesond
“Hou aan met somerlekaanvulling tot die beeste se mis begin droog raak. Gaan dan oor na ’n oorgangs- of winterlek indien toestande verder verswak,” sê Pieter le Roux, hoof-diere- en weidingswetenskaplike by NWK. “Diere op groenvoer (besproeide weidings) kan oor die algemeen net somerlek ontvang, afhangend daarvan of die diere dalk bykomende behoeftes vir produksie of groei het.”
Volgens Pieter het veldgras en aangeplante weiding reeds die meeste bogrondse voedingstowwe na die wortels verplaas vir opberging deur die dormante maande wat voorlê. Die aanvulling van ruproteïen en fosfor moet in April begin. Dit kan tipies gedoen word deur gebruik te maak van oorgangslekke en later (vanaf Mei) volledige winterlekke.
Die tipiese aanbeveling vir die inname van winterlek is sowat 450 g/dier/dag vir beeste en 150 g/dier/dag vir skape. Die gebruik van ureumbevattende lekke bevorder die inname en verteerbaarheid van winterveld. In die Klipveld (die gebied noord van Lichtenburg), waar die veldsamestelling hoofsaaklik suur is, is dit raadsaam om winterlekke te gebruik waarvan die ruproteïeninhoud 45% tot 50% is. Die insluiting van ’n tannienbinder (soos Browse Plus) in winterlekke bevorder ook die inname en verteerbaarheid van suur winterveld en bosse.
Strooi ook ’n handvol Smutsvinger-, witbuffel- of bloubuffelgrassaad (’n mengsel kan ook werk) oor die winterlek in die lekbakke om veldversterking te bevorder.
Nuus uit AgTech se ruimte
Klik op die skakel en kyk na ’n video waar Gideon van Deventer (DJI-operateur by AgTech@NWK) van die basiese aspekte van instandhouding aan jou DJI-hommeltuig illustreer. https://www.youtube.com/watch?v=z4c2_8sefYs
Hierdie hommeltuigsleepwa wat sáám deur Okkie Vermeulen (landboutegnikus by AgTech@NWK) en Nic Keyser van NIC Trailers ontwerp is, is ’n voorbeeld van ’n dinamiese vennootskap en tekenend van NWK se visie. Klik op die skakel om die wa te sien: https://www.tiktok.com/@nwk1909/video/7473391292752334086
Kry voorbrande betyds in plek
- Verseker dat voorbrande in plek is vir die komende wintertyd. Onderhoud op brandpaaie deur bewerking, hoëdrukbeweiding of voorbrande moet nou gedoen word as dit nie reeds gedoen is nie.
- Maak seker dat roetes langs grensheinings en kampdrade toeganklik is vir voertuie om in te beweeg indien daar brande uitbreek.

Ontmoet die nuwe grondkundige
Naam: Zane Barnard (29)
Kwalifikasies: BSc. Agric. met grondkunde as hoofrigting en besproeiingsingenieurswese as subrigting, asook ’n MSc.-graad in grondkunde.
Waarom het jy dié studierigting gekies?
Ek het grondkunde gekies omdat ek dit nog altyd interessant vind hoe die geologie van ’n landskap die grond en sy eienskappe bepaal – en ook hoe die grondeienskappe die gehalte van ’n produsent se grond én sy oeste bepaal.
Wat hoop jy om in dié pos te bereik?
Ek het nog altyd ’n groot liefde vir landbou gehad, veral die saaipraktyk, en hoop om in die NWK-bedieningsgebied ’n positiewe verskil in hierdie veld te maak. Ek sal graag soveel produsente as moontlik wil bystaan om optimaal te kan boer.
Waar het jy gewerk voor jy by AgTech@NWK aangesluit het?
Ek het as ’n plaasbestuurder/voorman gewerk op ’n plaas in die omgewing van Marquard in die Oos-Vrystaat.
Wat is jou stokperdjies?
Ek hou van enige adrenaliengevulde aktiwiteite, maar veral motorfiets ry. Ek hoop om binnekort ook valskermspring aan te durf.