Ek het die voorreg gehad om ’n aantal jare gelede besonderse jongboere te besoek, wat as kandidate vir Agri NW se Jongboerkompetisie genomineer is. Een van hierdie kandidate het nogal vir my bo die talle ander uitgestaan omdat sy storie so merkwaardig is. Hy het as jong seun reeds ’n passie vir boerdery gehad en op laerskool al geesdriftig hiermee begin woeker. Met die geldjies wat ingekom het, het hy tóé reeds sy eie klein trekkertjie aangeskaf.
In die hoërskool wou die akademie nie vir hom werk nie en het hy die skool verlaat lank voor hy matriek geslaag het – natuurlik tot sy pa se frustrasie. Hy het toe as ’n gewone arbeider met ’n gewone loon op die plaas begin werk. In hierdie tyd het ’n ouer produsent in die omgewing besluit om sy grond te verkoop ter voorbereiding van sy aftrede en hierdie jongman het die eienaar gaan sien om die plaas by hom te koop.
Hy kon nêrens finansiering bekom nie, maar die goedhartige oom het die seun se passie raakgesien en hulle het toe ooreengekom op ’n spesiale transaksie waarin die eienaar bereid was om afbetalings op die plaas te ontvang soos wat die seun met die boerdery vorder.
Die plaas is binne enkele jare betaal en teen die ouderdom van 22 het hierdie jongman reeds vier plase besit, wat alles klaar betaal was. Toe ons hom besoek het, het hy verskeie vertakkings bedryf, baie onder besproeiing uit die Krokodilrivier. Vars groente is ook daagliks na Pretoria verskuif en sy jaarlikse omset was toe reeds meer as R20 miljoen.
Tydens ons besoek was die herverdeling van landbougrond ’n ernstige bedreiging. Sy reaksie op die vraag, “Wat sal jy doen as die regering ’n plaas by jou afvat?”, was: “Dan koop ek maar ’n ander een!” Dit was hierdie reaksie van die jongman wat vir my as ouer persoon ’n waardevolle lewensles was en wat ek daarna dikwels met talle persone gedeel het. Dit is ’n kosbare voorbeeld van hoe aanpasbaarheid lyk. In wese is dit die ingesteldheid (mindset) van die individu wat hierdie denkwyse dryf.
Met die November 2024-verkiesing in die Verenigde State van Amerika (VSA), toe Donald Trump as die nuwe president aangewys is, het daar ’n totale nuwe bedeling vir sy land op die tafel beland. Toe hy in Januarie 2025 die leisels oorneem, was talle nuwe inisiatiewe reeds deurdink en kon dit oornag geïmplementeer word. Dit hou verreikende implikasies vir die VSA en ander lande in.
Hy het ook baie vinnig negatief gereageer op die plaaslike Onteieningswet sonder vergoeding. Die onttrekking van miljoene rande se befondsing van plaaslike sogenaamde gesondheidsprogramme het spoedig gevolg – waarvan baie Suid-Afrikaners nie eens bewus is nie.
Plaaslik het president Cyril Ramaphosa sy Staatsrede gelewer enkele dae voor hierdie skrywe en die ink van die Onteieningswet was ook nog nie behoorlik droog nie. Hier kom ook moontlik heelwat veranderings vir ons – indien die uitvoering daarvan regtig deurgevoer kan/gaan word.
Hoe hanteer ’n mens omstandighede wat binne ’n oogwink verander? Die Amerikaners gaan betekenisvolle veranderings tegemoet. Hoe gaan hulle dit hanteer? Hoe gaan ons hierdie plaaslike veranderings hanteer?
Die belangrike vraagstuk is eerder of ons aanpasbaar genoeg is om hierdie moontlike veranderings te kan hanteer. Dit verg ’n bepaalde ingesteldheid of denkproses om veranderings te kan hanteer. As dinge op die plaas of in die besigheid nie uitwerk soos jy gedink het dit sou nie, kan jy oorleef deur van rigting te verander? Hiervoor moet ’n mens vaardighede in aanpassing aanleer.
Jennifer Herrity stel dit dat aanpassingsvaardighede bepaalde kenmerke is wat jou leer om by verandering in jou omgewing aan te pas. Dit beteken dat jy vinnig moet kan reageer op veranderde idees, verantwoordelikhede, verwagtings, tendense en strategieë. Dit vereis sagte vaardighede soos interpersoonlike vermoëns, kommunikasie, kreatiewe denke en probleemoplossingstegnieke. Soos die jongman geïmpliseer het, gaan hy nie eers vies wees en in ’n bondeltjie sit en tob oor die nuwe uitdaging nie, maar ’n alternatief in plek stel om hom weer te bring waar hy was.
Indien ons gekonfronteer word met ’n onverwagse uitdaging soos nuwe wetgewing, finansiële en produksie-uitdagings – en moontlik die impak van oorsese beleide op die plaaslike landbou – hoe gaan ons optree en wat gaan ons doen? Met die regte ingesteldheid en vaardighede kan die meeste uitdagings waarskynlik maklik hanteer word.
Bron: Herrity J, 2/8/25, 10:50 AM. 6 important workplace adaptability skills (with examples)