Grondpaaie in NWK se bedieningsgebied is moeilik begaanbaar ná swaar reënval in Maart en April en die maatskappy het nou sy eie padskraper en roller aangeskaf om dié paaie te skraap.
NWK skraap elke jaar grondpaaie in sy bedieningsgebied nadat dit in 2021 ‘n memorandum van verstandhouding met Noordwes se departement van openbare werke, paaie en vervoer onderteken het, waarvolgens dit sy hulp aan die regering bied om die provinsie se grondpaaie meer begaanbaar te maak.
Nie net maak NWK se produsenteklante van hierdie paaie gebruik om hul oeste na die maatskappy se silokomplekse aan te ry nie, maar plaaswerkers en skoolkinders word ook daagliks hierlangs vervoer.
Buiten vir sy eie padskraper en roller, span die maatskappy ook ses gehuurde padskrapers in. Sowat 900 km se paaie is reeds geskraap. “Die projek is uitdagend hierdie jaar weens die baie reën,” sê Jaco du Rand, uitvoerende bestuurder van kommoditeite by NWK. “Ons het daarom besluit om meer toerusting aan te wend en ook ons eie padskraper aan te skaf vir die taak op hande.”

Daar is ook ‘n roller aangekoop om grond te kompakteer waar nodig. “Deur die grondslagwerk reg te doen, kan ons die res van die onderhoud vinniger en makliker doen,” verduidelik Jaco.
Paaie is reeds geskraap in die omgewing van Boons, Stella, Excelsior, Migdol, Kameel, Delareyville, Barberspan, Rostrataville, Nooitgedacht, Coligny, Putfontein, Halfpad, Oppaslaagte, Lichtenburg en Grootpan.
“Ons glo dat NWK met die neem van hierdie stap steeds meer waarde vir sy produsente en klante kan bied. Wees gerus op die uitkyk vir die geel masjiene wat deur ons gebied op grondpaaie beweeg en ook eersdaags sal pryk met die trotse NWK-naam,” sluit Jaco af.