Deel 2

Jy is oorgehaal om te boer, maar ’n magdom vrae weerhou jou dalk daarvan om te begin. Watter boerderypraktyke moet gebruik word? Hoe werk bemesting? Watter kultivar is die beste keuse? Moenie bekommerd wees nie – elke produsent struikel hiermee.
In boerdery, waar navorsing en tegnologie ’n groot rol speel, steek nuwe uitdagings gereeld kop uit en dwing die beginnerboer dikwels terug na die tekenbord.
Vir die eerste hektare is dit die beste om dinge eenvoudig te hou en die basiese praktyke reg te kry. Ná ’n paar jaar se ervaring en nadat die boerdery se risiko verlaag is, kan daar geëksperimenteer word om die optimale praktyke, kultivars en bemestingstrategieë te bepaal.
Hier volg praktiese wenke om die beginnerboer se eerste hektare eenvoudig, maar steeds sinvol en volhoubaar, aan te pak.
Boerderypraktyke
GRONDBEWERKING
Die eerste stap is grondbewerking – nog vóór daar geplant kan word. Dit is belangrik dat elke bewerking prakties en logies gedoen word. Bepaal eerstens die doel van die bewerking. Ná die bewerking moet daar geëvalueer word of die doel bereik is. Indien die doel nie bereik is nie, moet ’n ander implement of metode gekies word.
’n Belangrike aspek is om vas te stel of daar ’n verdigte sone in die grond is wat wortelontwikkeling kan belemmer. Wortelontwikkeling het ’n direkte invloed op die plant se vermoë om water en voedingstowwe op te neem. Indien ’n verdigte sone voorkom, moet dit met ’n skeurploeg (ripper) opgehef word. Figuur 1 dui ’n verdigte sone en die vereiste bewerkingsdiepte aan.
- Voor die bewerking begin, maak seker die implement kan diep genoeg werk.
- Met konvensionele 50 mm-skare moet minstens 50 mm dieper as die onderkant van die verdigting bewerk word.
- Tandspasiëring moet verkieslik nie meer as 350 mm wees nie. Indien vlakker as 350 mm gewerk word, moet die tandspasiëring hoogstens 250 mm wees.
- Met hamerkopskare kan die spasiëring wyer wees, maar die invalshoek (19°) beïnvloed die trekkrag en opbreekdoeltreffendheid betekenisvol.


Tydens skeurploegbewerking vorm makroporieë, wat die grondvog vinniger kan laat verdamp. Om uitdroging te verminder, moet die land binne een dag ná die bewerking met ’n wydwerkskoffel, beitelploeg met vlerkskare, duisendpoot of kluitroller geseël word.
Die tweede bewerking is dus gewoonlik ’n wydwerkskoffel of beitelploeg met vlerkskare (saadbedbewerking).
Aangesien tandimplemente soms die onkruiddruk verhoog, moet onkruidbeheermaatreëls reeds vroeg ingestel word. Siektesiklusse kan ook deur wisselbou, skoonbewerkings en oorlêstelsels onderbreek word.
ONKRUIDBEHEER
Die derde bewerking is dikwels ’n vooropkoms-onkruidbespuiting. Al help bewerkings met onkruidbeheer, is dit dikwels nodig om chemie te spuit – veral as bewerkings lank voor planttyd gedoen is. Onkruide word verdeel in breëblaar- en grasspesies, wat elk ander aktiewe bestanddele benodig.
Raadpleeg jou chemiese verteenwoordiger om die regte mengsels te kies.
PLANTTYD
Die belangrikste aksie is om te plant, maar daar moet eers oor die aangewese rywydte en plantestand besluit word.
- Indien daar van ’n kontrakteur gebruik gemaak word om te plant, maak seker dat sy toerusting by jou stelsels inpas. Die algemeenste rywydte is 0,91 m.
- In die geval van mielies, is dit is ook belangrik dat die planter en strooptafel se rye dieselfde is (bv. ’n ses-ry 0,91 m planter en ’n ses-ry 0,91 stropertafel).
- Die rywydte en plantestand beïnvloed die kultivarkeuse, aangesien sekere kultivars beter vaar by ’n sekere plantestand.
’n Goeie beginpunt vir die eerste hektare is ’n mikpunt van 20 000 plante per hektaar vir mielies. Dit beteken daar moet sowat 22 000 pitte per hektaar geplant word. Teen dié stand moet ’n kultivar gebruik word wat sterk meerkoppig is. Streeksverskille speel wel ’n rol: Wes van Lichtenburg verkies produsente dikwels laer plantestande, terwyl diegene oos van Lichtenburg hoër plantestande gebruik.
Tydens die plantproses word daar met ’n gekose plantmengsel bemes en direk ná planttyd word residuele onkruiddoder gespuit. Soms is die planter met onkruidspuitpunte toegerus om direk agter die plantereenhede te kan spuit.
BEMESTING
Begin deur grondmonsters (verkieslik op ’n ruitpatroon) te neem om die grond se plantvoedingstatus te bepaal en doen regstellings voor planttyd indien nodig. Waar moontlik, dien regstellings variërend toe. Daarna kan bemesting volgens plantonttrekking beplan word.
Algemene riglyne om bemesting te beplan:
- Mielies: 15 kg/ha stikstof (N), 3,1 kg/ha fosfor (P), 4 kg/ha kalium (K) per ton graan (Fertasa, 2021).
- Sonneblom: 28 kg/ha N, 3,7 kg/ha P, 6 kg/ha K per ton graan (Fertasa, 2021).
- Sojabone: 90 kg/ha N/t (slegs indien nie met Rhizobium geënt nie). As boontjies wel geënt word, dien net 10 kg/ha N
tot 15 kg/ha N met planttyd toe, asook 8,5 kg/ha P en 10 kg/ha K tot 20 kg/ha K (afhangende van die grond se K-status) per ton graan (Fertasa, 2021). - Grondbone: 10 kg/ha N, 3 kg/ha P (indien laag), 5 kg/ha K
(afhangende van die grond se K-status) per ton graan. K en P word beter voorsien deur die vorige gewas met genoeg K en P te bemes (Fertasa, 2021).
TOEDIENING VAN KUNSMIS
Die wyse van toediening hang af van die produk en element.
- Plante gebruik stikstof as ammonium (NH4+) of nitraat (NO3–).
- Ureum moet eers deur mikrobiologiese prosesse omgeskakel word na NH4+ en NO3–, wat tyd en die regte toestande verg.
- Kalksteenammoniumnitraat (KAN) is onmiddellik beskikbaar, maar nitraat kan uitloog.
- Fosfaat beweeg amper glad nie in die grond nie en moet daarom in ’n bandplasing toegedien word.
- Swael (S) is loogbaar en moet gereeld aangevul word. Waar S-vlakke laag is, maak gebruik van ’n plantmengsel en topbemesting wat S bevat.
- Mikro-elemente se opneembaarheid word sterk deur die grond se pH beïnvloed. Dit kan by wyse van blaarvoeding aangevul word indien nodig.
’n Algemene riglyn is om N, P en K tydens planttyd in ’n band toe te dien sodat die gewas ’n sterk voorsprong kry. Volg later op met ’n bandplasing of breedwerpige N-topbemesting.
Opsomming van aksieplanne
- Doen doelgerigte bewerkings: Hef verdigting op en beskerm grondvog.
- Onkruidbeheer is noodsaaklik: Gebruik beide meganiese en chemiese metodes.
- Plant prakties en strategies: Hou die rywydte en strooptafel in gedagte – mik vir ’n realistiese plantestand.
- Bemes volgens die plantonttrekking en grondstatus: Gebruik die korrekte norme vir jou gewas.
- Dien kunsmis reg toe: Bandplasing tydens planttyd, topbemesting later en gebruik blaarvoeding waar nodig.
Deur die basiese boerderypraktyke, bemesting en toedieningsmetodes eenvoudig maar reg aan te pak, kan beginnerboere hul risiko’s beperk en ’n stewige grondslag lê vir volhoubare produksie.
Bronnelys
ARC (Agricultural Research Council), 2022. Soil compaction and tillage guidelines. Potchefstroom. ARC-Grain Crops Institute
ARC (Agricultural Research Council), 2023. Weed and crop protection handbook. Pretoria. ARC
Fertasa (Fertiliser Association of Southern Africa), 2021. Fertiliser Handbook. 8th ed. Pretoria. Fertasa
International Plant Nutrition Institute (IPNI), 2012. Nitrogen cycle in cropping systems. IPNI, Norcross, Georgia, USA. Beskikbaar by: https://www.ipni.net [25 September 2025]
Omnia Nutriology, 2022. Nutrient management in grain crops. Sasolburg. Omnia







