
Landbouwetenskap is ’n vakgebied wat deel is van die natuurwetenskappe. Hieronder berus landbouwetenskap op vakgebiede soos wiskunde, organiese en anorganiese chemie, plantkunde, dierkunde, mikrobiologie, fisika, agronomie (gewaskunde), veekunde, geografie en landbouweerkunde, grondkunde en vele meer.
Hierdie wetenskap is op bewese navorsing geskoei, wat beteken dat landbouwetenskap op bewese navorsing geskoei is. Uit die aard van die saak weet die wetenskap nog nie alles nie, en daarom is verdere navorsing nodig. Nog minder ken elke produsent al hierdie wetenskaplike vakke in diepte, en dit is net hier waar “kenners” hulle as kundiges voordoen met pragtig toegedraaide pseudo-wetenskap.
Die woord “pseudo” is ’n voorvoegsel wat sy ontstaan in Grieks het, met die betekenis van vals, namaaksel of skyn. Dit verwys na iets wat nie eg is nie, doen dit voor as iets wat dit nie regtig is nie of is ’n misleidende replika (www.dictionary.com). Produsente word byna daagliks met pseudo-wetenskap gekonfronteer, met produkte of dienste wat nie doen of is soos wat die ware Jakob is nie.
Soms klink dit só wetenskaplik omdat dit glo op Einstein se relatiwiteitsteorie (E=MC2) gebaseer is en glo energie vanuit die atmosfeer gebruik om alles op die plaas met presies die regte frekwensie reg te toor. Dit is blykbaar ook selfs moontlik om met net ’n paar boksies van “hierdie mikrobiologiese produk” die totale bemesting van alle gewasse op die hele plaas te vervang.
Die wonder van ’n paar kilogram van hierdie superfyn kalk in water “opgelos” is net so goed soos ’n paar ton “gemaalde klipkalk” en sal die land se pH regstel as dit met ’n onkruidspuit uitgespuit word … dit alles klink nogal na hoogs wetenskaplike deurbrake! Alhoewel sulke aansprake wetenskaplik klink, slaag dit dikwels nie die toets van basiese chemie, fisika of biologie nie, en kan dit met die mite dat die maan van kaas gemaak is, vergelyk word.
Die nuwe denkrigting in gewasproduksie is al die wonderlike mikrobes wat plantvoeding nou soveel kan verbeter en selfs verminder. Is daar wetenskap in hierdie denkrigting? Ja, beslis. Plantwortels kan beswaarlik sonder sekere mikrobes in sy risosfeer funksioneer. Net so is daar egter nog meer pseudowetenskap wat aan produsente voorgehou word as die waarheid, net om hierdie produk te verkoop, en nogal met proefresultate en al. Dit klink dan so waar!
Maar wat is die onderskeid? Die vraag is hoe goed die werking van hierdie produk bewys is en tot watter mate die inligting betroubaar is.
- Is daar werklik onderliggende wetenskap?
- Maak dit fisies, chemies of biologies sin?
- Het die proef herhalings in?
- Is dit ’n verewekansigde proef?
- Is daar kontroles waarteen hierdie produk gemeet word?
- Watter statistiek is toegepas en wat bewys dit?
- Is die verskille statisties betekenisvol?
- Tot watter mate is hierdie proef oor liggings en seisoene herhaalbaar?
Dit alles verwys na hoe waar, moontlik waar, waarskynlik onwaar of blote snert die bewys van die produk se waarde is.
Die klassieke voorbeeld is dat daar ’n sterk positiewe verband bestaan tussen die hoeveelheid roomys wat op die strand verkoop word en die hoeveelheid haai-aanvalle. Wat lei ’n mens hiervan af? Lok roomys haaie? Is mense wat roomys geëet het meer aanloklik vir haaie? Lok die roomysverkoper se klokkie die haaie? Die statistieke lyk dan so oortuigend!
Nee, beslis nie. Jou gesonde verstand sê vir jou daar is iewers ’n slang in die gras … Dit bewys net dat hoe meer roomys daar op die strand verkoop word, hoe warmer is dit, hoe meer mense is daar in die water en hoe groter is die waarskynlikheid van ’n haai-aanval.
As dit te goed lyk om waar te wees, is daar dalk ’n slang in die gras (of ’n haai in die water). Bespreek só ’n nuwe deurbraak eers met ’n geregistreerde landboukundige voordat jy jou geld agter dit aan gooi en die slang in die gras jou dalk pik.





