
In ’n tyd waar landbou al hoe meer datagedrewe raak, bied NWK se Online-toepassing aan produsente ’n gestruktureerde manier om hul plaasbestuur te organiseer. Deur beplanning, insetbestuur en werklike produksiedata op een plek vas te lê, word dit makliker om ’n duidelike oorsig van die seisoen te behou. Dit help nie slegs met dag-tot-dag besluite nie, maar ook met langertermynbeplanning.
Die waarde lê veral daarin dat inligting nie verlore gaan of gefragmenteerd is nie – alles van begrotings tot werklike koste en opbrengste kan teenoor mekaar gestel word. Dit maak dit eenvoudiger om te sien wat werk en wat nie, en om aanpassings vir volgende seisoene te maak.
Verder ondersteun so ’n stelsel beter rekordhouding, wat nuttig is vir finansiële bestuur, verslagdoening en samewerking met adviseurs of instansies.
Deur ’n meer gestruktureerde benadering te volg, kan produsente uiteindelik meer ingeligte en konsekwente besluite neem sonder om noodwendig meer tyd aan administrasie te spandeer.
In NWK se Online-toep vorm die Gewasbeplanningsfunksie die beginpunt van alle produksiebesluite. Dit is hier waar produsente hul strategie vir die seisoen uitstippel – met die voordeel van gestruktureerde data en geïntegreerde bestuurshulpmiddels.
Hierdie hulpmiddel, ’n onderafdeling van die PLAASBESTUUR-funksie, gee aan gebruikers die volgende opsies:
- Beplanningsopsomming
- Insetoorsig
- Detailbegroting
- Werklik
- Verslae
- Meganisasiebeplanning
Beplanningsopsomming: Hier kan die toepgebruiker jaar-tot-jaar vaslê wat beplan word om te plant, asook dit wat werklik geplant is. Reënvaldata kan ook hier gelaai word, wat waardevolle insig bied vir toekomstige beplanning en vergelykings tussen seisoene.
Insetoorsig: By hierdie afdeling kan gebruikers aandui op watter tipe land (droëland of besproeiing) gewasse aangeplant word, asook oor watter oppervlakte. Daar is ook ’n opsie om beplande opbrengste vas te lê, wat weer help om ’n duidelike verwagting vir die seisoen te skep.
Detailbegroting: Dit is een van die kernfunksies van die toep en stel produsente in staat om ’n nougesette, item-vir-item kosteberaming vir elke gewas of land op te stel.
Gebruikers kan hier insetkostes detailleer, arbeidskoste aandui, meganisasiekoste toeken, koste per hektaar bereken en vergelyk en verder verskillende scenario’s opstel, soos byvoorbeeld optimistiese teenoor konserwatiewe opbrengste.
Werklik: Dié afdeling fokus op die vaslê van werklike en intydse data soos dit gedurende die seisoen op die plaas gebeur. Dit is ’n digitale rekord van alle produksie-aktiwiteite en fasiliteer vergelykings tussen beplanning en die werklikheid. Hier kan die volgende aangeteken word: Landinligting, saadgebruik, bewerkings, onkruid- en plaagbeheer, bemesting, arbeid, brandstof en diverse aktiwiteite. Dit bied ’n akkurate produksiegeskiedenis vir elke land en gewas, help om afwykings voortydig op te merk en lei tot beter besluitneming vir komende seisoene.
Saam met die Detailbegroting, is die Werklik-afdeling ’n kragtige hulpmiddel om te bepaal of ’n seisoen se beplanning finansieel en prakties suksesvol was.
Verslae: Hierdie funksie omskep alle vasgelegde data in verstaanbare, bruikbare inligting. Gebruikers kan verslae genereer wat vergelykings moontlik maak ten opsigte van jaar, seisoen, gewas of spesifieke land. Dit kan opbrengsverslae, inset- en kostevergelykings, winsgewendheidsontledings, produksieneigings en ook reënval- en klimaatdata insluit.
Die funksie is veral waardevol omdat dit komplekse data tot duidelike insigte vereenvoudig, gebruikers help om patrone/tendense raak te sien en inligting vir toekomstige begrotings verskaf.
Meganisasiebeplanning: Die afdeling help produsente om masjinerie en arbeid doeltreffend te beplan en te benut. Dit fokus op optimale benutting van toerusting tydens kritieke produksietye. Toepgebruikers kan onder meer werkure per dag beplan, aanplantings en oesvensters skeduleer, inligting oor masjinerie en implemente stoor, kapasiteit bepaal en onderhoud aan masjinerie monitor. Dit help dus om knelpunte tydens besige tye te voorkom, toerusting optimaal te benut en koste te bestuur.
Nog ’n voordeel is die beskikbaarheid van ’n Kunsmatige Intelligensie (KI)-helper wat aanbevelings op grond van ingevoerde data kan gee.
Agronoom en ekonoom gee hul mening oor dié handige beplanningsfunksie
Twee NWK-landboukundiges, Anche Suurd (hoof- landbou-ekonoom) en Rinus de Bruin (agronoom), gesels oor die Gewasbeplanning-funksie wat gratis op NWK Online beskikbaar is en hoe hulle die werking daarvan ervaar.
Op wie is die Gewasbeplanning-funksie op die toep gemik?
A: Hoofsaaklik vir produsente om makliker van insette asook meer spesifiek per land rekord te hou. Die inligting kan effektief deur landbou-ekonome gebruik word om gewasontledings en vergelykings te doen.
R: Vir NWK se produsente.
Hoe baat hulle daarby deur dit te gebruik?
A: Dit maak dit makliker vir ’n produsent om begrotings te doen, asook om die werklike syfers te sien. Indien ’n produsent goed rekord hou, kan dit help om bestuursbesluite te neem. Indien ons (landbou-ekonome) ontledings doen vir die produsent, kan insette en opbrengste met ander produsente, verkieslik in dieselfde omgewing, vergelyk word.
R: Dit gee hulle ’n beter insig in insetbegroting en maak die hele proses net soveel makliker.
Wat is die hooffokuspunte van Online se gewasbeplanningsfunksie?
A: Rekordhouding
R: Insetbegroting
Hoe vergemaklik dit ’n produsent se lewe?
A: Dit bespaar tyd aangesien werklike inligting vanaf die begroting deurgetrek en net gewysig moet word, indien van toepassing.
R: Dit help ’n produsent om voor ’n seisoen reeds sy insetbegroting op te stel en later met die werklike insette te vergelyk. Hy verkry ook tydige insigte, wat toekomsbeplanning vergemaklik.
Hoe maklik is dit om inligting op te laai?
A: Dit word gekies van ’n opsiekassie (drop down) op die toep – of self ingelees.
R: Dit is regtig maklik. Na die eerste seisoen se inligting ingevoeg is, raak die proses al makliker. Dit werk heelwat makliker as die Excel-sigblaaie van voorheen.
Hoe gemaak as gebruikers nie regkom nie?
A: Ek kan help met vrae oor die Gewasbeplanningsfunksie op Online.
R: Gebruikers wat vashaak by die insette en navigering kan my hieroor vra. As daar tegniese probleme is, kan NWK se IT-afdeling vir seker help.
Is daar ander soortgelyke toeps beskikbaar waarvan julle weet?
A: Ek is nie bewus van ander toeps nie.
R: Daar is moontlik ander, maar ek is nie daarvan bewus nie.
Wat is die terugvoer wat jy van Online-gebruikers ontvang?
A: Dit is sover veral ons jongboere wat die funksie gebruik, omdat ons hulle aanmoedig om dit te doen. Begrotings en werklike syfers is verlede jaar die eerste keer ingelees. Party is baie gemaklik daarmee, vir ander is dit ’n leerproses. Die swak seine maak dit soms moeilik.
R: Ek werk dikwels met jongboere en kry baie positiewe terugvoer hieroor van hulle kant.
Kontak NWK vir bystand met die Gewasbeplanningsfunksie
Anche Suurd
Hoof- landbou-ekonoom
082 478 6821
anche@nwk.co.za
Rinus de Bruin
Agronoom
082 478 7667
rinus@nwk.co.za





