
Mensgesentreerde leierskap in die graanbedryf was vanjaar die fokus van GOSA se 41ste simposium. In pas met die oorhoofse tema, “’n Nuwe graangenerasie in wording”, het topsprekers deelgeneem aan die gesprek oor die noodsaaklike vereiste van personeel wat bemagtig en doeltreffend is om die plaaslike graanbedryf die toekoms in te neem.
“GOSA se waarde as ’n toonaangewende platform wat rolspelers van regoor die graanwaardeketting byeen bring vir kennisdeling, netwerkbou en gesprekke oor die toekoms van die bedryf is weereens bevestig,” het Johan van Rensburg, president van GOSA, na afloop van die simposium op 24 en 25 Maart in Mosselbaai gesê.
Dag 1 se sessies was op mensebestuur gerig, met die volgende sprekers:
- Die inspirasiespreker en outeur, Jannie Putter, het stilgestaan by hoe ’n mens kan werk teen slagofferskap met die uitdagings waarmee ons in die daaglikse lewe gekonfronteer word.
- Lizelle Jacobs, ’n lewens- en besigheidsafrigter, het die vraagstuk of integriteit en lojaliteit in die werksplek ’n feit of fiksie is, toegelig.
- VKB se uitvoerende hoof van Mensekapitaal, Francois Sieberhagen, het simposiumgangers uitgedaag om nuut oor leierskap te dink. Dit is belangrik om relevant in die bedryf te bly deur nuwe tegnologie soos kunsmatige intelligensie te omhels, maar veral deur mensgesentreerde leierskap te demonstreer.
’n Paneelbespreking met lojaliteit as tema is deur Lizelle gelei. Die paneellede was Francois Sieberhagen (VKB), Jerry Maritz (voorsitter van Agbiz Grain) en dr Sierk Ybema.
Dag 2 het gefokus op tegnologie en die waardeketting, met die volgende kundiges wat aan die woord was:
- Pieter Geldenhuys, tegnologiestrateeg van die Instituut vir Tegnologiestrategie en Innovasie, het ’n insiggewende aanbieding gelewer oor digitale transformasie as deel van die nuwe oes in die graanwaardeketting. Hy het ook die vrees vir die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) aangespreek.
- Landboumarkte het wêreldwyd meer blootgestel geraak aan klimaatgedrewe volatiliteit. Dr Mariëtte Geyser (Departement Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by die Noordwes-Universiteit) het gekyk na die invloed van die klimaat op graanprysvlakke.
- Dr Tobias Doyer, hoof- uitvoerende beampte van Graan SA, het in sy aanbieding die kollig laat val op die volgende dekade van graan in Suid-Afrika, met die fokus op beleid, mense en produktiwiteit. Deur strategies in navorsing te belê en wetenskapsgebaseerde beleidsbesluitneming moontlik te maak, kan Suid-Afrika ’n veerkragtige, innoverende en wêreldwye mededingende graanbedryf verseker.
- Die politieke analis, dr Theuns Eloff, het in sy oorsig oor die politiek en die pad vorentoe gesê die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) is tans nog staande, maar dat vanjaar se plaaslike verkiesing dit gaan beproef. Hy reken dat kleiner politieke partye verder steun gaan wen, wat ’n impak op die uitkoms van die nasionale verkiesing in 2029 kan hê.
’n Paneelbespreking oor hoe mededingendheid in die graanwaardeketting gehandhaaf kan word – en die regulatoriese omgewing se invloed daarop – is deur Tobias gelei. Anina Hunter (voorsitter van AFMA), Tom Terblanche (Grain Carriers) en Johan van Rensburg (VKB) was die paneellede.
Vir Lizandri Horn, ’n graanverhandelaar van NWK, wat dié simposium vir die eerste keer bygewoon het, was dit ’n groot voorreg. Die gassprekers, gevoel van eenheid onder die afgevaardigdes en gesellige atmosfeer het al haar verwagtinge oortref. “Dit laat ’n mens weereens besef dat jy by ’n ongelooflike waardeketting betrokke is,” het sy gesê.
Aan die stuur van GOSA
Vier raadslede se termyne het vanjaar geëindig. Marco Pretorius (AFGRI) was nie weer verkiesbaar nie. Benewens nominasies ontvang vir Johan van Rensburg (VKB), Dries Dannhauser (Tiger Brands) en Rinus Bezuidenhout (Bester), is ’n gekoöpteerde lid van die raad, Thys Visagie (NWK), as raadslid in die vakante pos aangewys. Tydens ’n raadsvergadering ná die algemene jaarvergadering is Johan van Rensburg as president en Dries Dannhauser as tesourier herkies.
Dit is vir Thys Visagie, Silodienste-streekbestuurder by NWK Graan, ’n groot voorreg om op die GOSA-raad te dien. Hy is dankbaar dat NWK dit moontlik maak vir hom om dié posisie te kan beklee. “Dit is ’n geleentheid om jou kennis en praktiese ervaring met ander te deel. Ons doel is immers om die graanbedryf na groter hoogtes te neem.”
Volgens Thys was die 2026-simposium een van die bestes wat hy al bygewoon het. Hy het al baie goeie terugvoer van mense regoor die graanbedryf ontvang. Die verskeidenheid sprekers het verseker dat elke afgevaardigde met ’n stuk waardevolle inligting huis toe gestuur is.
“Wat ons (GOSA) vir die mense by die simposium wou bied, was veel meer as net ’n lekker kuier. Die doel is om die sektor en waardeketting beter te verstaan, daarop te verbeter, en om op hoogte te bly van huidige ontwikkelings en gepaardgaande tendense te ondersoek.” Hy beklemtoon ook die waarde van hierdie netwerkgeleentheid.
Kliek op die skakel om die volledige persverklaring oor die simposium te lees.






