
Oor die algemeen lam skaapkuddes in Suid-Afrika een keer per jaar. Produsente kan egter verskeie opsies volg – van eenmalige dekking op een of ander stadium van die jaar, tot stelsels waar die ramme heeljaar saam met die ooie loop en intensiewe stelsels, waar ooie selfs twee keer per jaar lam (ook bekend as versnelde lamstelsels).
Produsente moet die lamstelsel by hul produksiedoelwitte, hulpbronne en markaanvraag aanpas. Dieselfde plaas of aangrensende boerderye kan verskillende lamstelsels vir verskillende groepe skape gebruik.
Heeljaar dek
Soos die naam aandui, loop die ramme regdeur die jaar by die ooie. Wanneer ooie op hitte kom, word hulle gedek en raak hulle dragtig of nie. Heeljaar dek, beteken natuurlik ook heeljaar lam. Met die regte soort ooie kan dit oor die langer termyn lei tot ’n lam-interval van selfs minder as twaalf maande.
Heeljaar lam, maak egter die bestuur moeilik. Die geboorte van lammers is moeilik voorspelbaar. Dus is die tydsberekening van inentings, ontwurming, aanvullende voeding en ander bestuursaksies moeiliker.
Dit raak ook moeiliker om ooie wat begin swaar kry vroegtydig raak te sien, wat daartoe kan lei dat lammers vroeg gebore word. Rekordhouding raak ingewikkeld en moeisaam, wat die risiko van inteling kan verhoog indien vroulike nageslag nie betyds verwyder word nie (Schoenian, 2021).
Lam een keer per jaar
Ramme word vir bepaalde dekseisoene by die ooie geplaas. Die doelwit is meestal om die dektyd só te beplan dat die ooie in die lente lam, wanneer daar genoeg groen weiding beskikbaar is vir melkproduksie en om lammers markgereed te kry vir Paasfees.
Die ander opsie is om die dektyd só te beplan dat ooie in die winter op mielie-oesreste lam. Oesreste bied hoë gehalte winterweiding (veral vir skape) en dit kan goed aangewend word vir lakterende ooie. Hierdie lammers word dan in die lente gespeen en op vroeë somerweiding markgereed gemaak vir die Kersfeesmark.
Seisoenale dekking hou bepaalde voordele in, soos gefokusde arbeid vir die taak op hande, gekonsolideerde inentingsprogramme en ander bestuursaksies.
Versnelde lamstelsels
Versnelde lamstelsels verwys na stelsels waar ooie meer gereeld as net een keer per jaar lam, met die doel om vaste koste te verminder, meer eenvormige lammers deur die loop van die jaar te produseer en winsgewendheid te verhoog.
Dit word algemeen in die noordoostelike dele van Amerika (die VSA) en Kanada gebruik en word al meer algemeen in Suid-Afrika en Nieu-Seeland. Die verhoogde inkomste uit lammers wat in hoë-waarde markte verkoop kan word, moet egter versigtig opgeweeg word teen die verhoogde insette soos bestuur, beskikbare voer, arbeid en behuising (vir winterlam).
Alhoewel versnelde lamstelsels nog nie algemeen toegepas word nie, is daar al meer belangstelling in intensiewe boerderystelsels om lammers meer kostedoeltreffend markgereed te kry. Dit is veral produsente met beperkte oppervlakte grond tot hul beskikking wat hul opbrengste wil verhoog deur te mik vir meer as een lam per ooi per jaar. Daar is verskeie versnelde lamstelsels.
OOIE LAM TWEE KEER PER JAAR
- Die mees intensiewe vorm van versnelde lamtyd is waar ooie twee keer per jaar lam.
- Dié stelsel het die potensiaal om die maksimum lamopbrengs te behaal, maar is in die meeste kommersiële boerderye in Suid-Afrika nie prakties nie.
- Twee keer per jaar lamtyd is waarskynlik die algemeenste naby die ewenaar, waar die uitwerking van fotosensitiwiteit op die ooi se reproduksiesiklus die laagste is.
DRIE LAMMEROESTE IN TWEE JAAR (3/2-STELSEL)
Die algemeenste versnelde lamstelsel is drie lammeroeste in twee jaar, wat lei tot ’n gemiddelde laminterval van agt maande – die ooi lam dus 1,5 keer per jaar of drie keer in twee jaar. Hierdie stelsel word gewoonlik gekenmerk deur ’n vaste dek- en lamskedule, soos Mei-paring/Oktober-lam, Januarie-paring/Junie-lam en September-paring/Februarie-lam (met geringe variasies).
Indien twee van die drie geboortes tweelinge oplewer, is die aanwas vyf lammers oor twee jaar of 250% (2,5 lammers per ooi per jaar). Indien een uit drie geboortes ’n tweeling oplewer, is die aanwas vier lammers oor twee jaar of 200% (twee lammers per ooi per jaar).
’n Verdere opsie is die 3/2-oorvleuelende stelsel, waarin twee groepe ooie elke agt maande lam met ses lamperiodes per jaar – die twee groepe lam afwisselend. In hierdie stelsel kan dektye enige tyd van die jaar voorkom, maar die algemeenste praktyk is om ooie in die herfs by die ramme te bring om in die lente te lam.
Ooie word egter ook in die vroeë herfs of laatsomer gedek om in die winter te lam, om lammers vir die Paasfeesmark in Maart of April te voorsien. Dit vereis soms dat ooie gesinchroniseer moet word om ’n kompakte lamseisoen te verkry.
As die ooi tydens skandering (sowat 50 dae na dek) nie dragtig is nie, kan sy na die ander kudde “oorgeskuif” word en weer gedek word. Om suksesvol te wees, moet dektye kort wees om die laminterval te verkort. Lammers moet teen die ouderdom van twee maande gespeen word om tyd vir die volgende dekking toe te laat.
’n Baie bekende stelsel wat uit die 3/2-stelsel ontwikkel het, staan bekend as die Mamre-stelsel. Dié stelsel is deur Manie en dr Karin Wessels van Mamre Dormers ontwikkel. Kontak hulle gerus by 082 854 1491.
VYF KEER LAM ELKE DRIE JAAR (CORNELL
STER©-STELSEL)
Die Cornell STER-stelsel is soortgelyk aan die 3/2-stelsel, maar is meer “versnel” of intensief. Ooie lam streng elke 7,2 maande in plaas van elke agt maande (Larsen, 2025). Dit beteken ’n ooi lam vyf keer in drie jaar, indien sy nie oorslaan nie (Hogue, 1991). Die tyd toegestaan aan dek, lam, laktasie, speen en herkonsepsie word tot die absolute minimum beperk.
Alhoewel hierdie stelsel in terme van verhoogde produktiwiteit en toegang tot meer winsgewende markte aansienlike voordele inhou, vereis dit ’n hoë vlak van bestuur om goed te werk. Swak vrugbaarheid is geneig om lamtyd na ’n lente-lamstelsel te skuif, want ooie wat in die laat lente nie dragtig raak nie word weer in die herfs gedek, wanneer hulle natuurlik vrugbaarder is.
Siektebeheerprogramme moet baie goed bestuur word. Daar word van die ooikudde verwag om ’n baie hoë produksiepeil te handhaaf – daarom moet hul inentings- en ontwurmingsprogram nougeset uitgevoer word om enige ander uitdagings vir die immuunstelsel so ver as moontlik uit te skakel.
Daarmee saam is die korrekte voedingspeile in elke produksiefase van kardinale belang. Ooie se kondisietelling mag nie tydens die laktasieperiode verlaag nie, want daar is nie tyd om verlore kondisie ná speen te herwin voor die volgende dekperiode nie.
Meer oor dié stelsel
Die STER-stelsel berus op vyf periodes van 73 dae, wat ’n kalenderjaar van 365 dae presies opmaak. Verder is elke twee van hierdie periodes presies gelyk aan die ooi se dragtigheidsperiode, naamlik 146 dae. Deur die kalender in ’n sirkelvorm uit te druk, met elke periode van 73 dae afgemerk en met die afwisselende punte verbind, word ’n perfekte ster gevorm – vandaar die naam STER-stelsel.
Ooie word bestuur om by elke derde punt te teel, wat 73 dae vir lam, laktasie en speen en 146 dae vir dragtigheid toelaat. Ooie kan dus ’n maksimum van vyf keer in drie jaar lam. Die stelsel pas mooi in by die skaap se fisiologiese siklus, sowel as in die kalenderjaar. Omdat die lam- en dekdatums presies oorvleuel, is die bestuur van die skape makliker as by die meeste stelsels. Die STER-stelsel word diagrammaties in Figuur 1 uiteengesit.
Die STER-versnelde lamstelsel is by die Cornell Universiteit ontwikkel en sedert 1981 op die Cornell Dorset-kudde toegepas. Nadat Hogue (1991) vir ongeveer 15 jaar lank hier navorsing oor versnelde lamstelsels gedoen het, beskou hy die STER-stelsel as die beste versnelde lamstelsel.

In die STER-stelsel is daar op enige gegewe oomblik drie groepe diere op die plaas, naamlik:
- Oop of droë ooie (wat pas hul lammers gespeen het).
- Vroeg dragtige ooie (wat een periode vroeër dragtig geraak het).
- Laat dragtige ooie (wat twee periodes vroeër dragtig geraak het).
’n Groep van die droë ooie het dus pas hul lammers gespeen, terwyl ander oop was omdat hulle by die vorige dekking nie dragtig geraak het nie. Vroeg-dragtige ooie (wat nog nie dragtig bepaal kan word nie) bly by die droë groep.
Ander ooie in die droë groep het reeds in die voorlaaste dekperiode dragtig geraak en moet nou fyn dopgehou word om hulle uit te keer wanneer hulle naby lam kom. Visuele assessering en palpitasie van die ontwikkelende uier word gebruik om hierdie ooie van die res van die kudde te skei (Hogue, 1991).
Ooie word aan die begin van ’n periode vir 30 dae by teelramme geplaas. Die dekperiode van 30 dae oorvleuel direk met die lamtyd van 30 dae op hande. Ná lamtyd volg daar ’n laktasieperiode van 36 tot 66 dae. Lammers word op dag 66 van dié periode gespeen.
Sewe dae ná speen word die ooie weer by die teelramme geplaas om die volgende produksiesiklus te begin. Die stelsel herhaal vir vyf periodes oor ’n driejaartydperk. In dié tyd is dit slegs die laatdragtige- en lammerooie wat nie in die droë of dekgroep loop nie.
In die STER-stelsel is die kortste moontlike gemiddelde laminterval 219 dae (7,2 maande). Indien nie, volg die volgende dekgeleentheid 73 dae later – dus ná 292 dae (9,6 maande) of nog 73 dae later, op ’n jaarlikse (of langer) lamsiklus (Hogue, 1987).
Ooie kan op die beste vyf keer in drie jaar lam (1,67 lammers per jaar vir enkelinglammers). Indien drie uit die vyf lamperiodes tweelinge sou oplewer, produseer sy agt lammers in drie jaar, ’n lampersentasie van 266% of 2,66 lammers per jaar (Ehrhardt, 2012).
Ooilammers word op ses tot sewe maande gedek en kry hul eerste lammers reeds op een jaar.
Samevatting
Daar is baie verskillende benaderings tot die bestuur van kleinveekuddes. Dektye is veral van belang omdat dit bes moontlik beide met die bemarking van slagvee en die aanbod van hoë gehalte weidings of ander voerbronne gesinchroniseer moet word.
Die STER-versnelde lamstelsel bied ’n alternatief aan kleinveeprodusente met ’n aptyt vir meer intensiewe stelsels wat regdeur die jaar ’n gereelde inkomstevloei bied.
Bronnelys
Ehrhardt R, 2012. Accelerated production: An opportunity to increase production capacity and efficiency. Beskikbaar by: https://www.premier1supplies.com/sheep-guide/wp-content/uploads/2012/08/Accelerated-production-2012-RAE1.pdf [18 Maart 2026]
Hogue DE, 1987. ‘Frequent lambing systems’, in Marai IFM and Owen JB (eds.) New techniques in sheep production. London: Butterworths, pp. 57–63. Beskikbaar by: https://doi.org/10.1016/B978-0-408-10134-9.50011-X
[18 Maart 2026]
Hogue DE, 1991. Sheep management on the STAR sheep production system. Cornell University. Beskikbaar by: https://blogs.cornell.edu/newsheep/management/reproduction/star-management/ [18 Maart 2026]
Larsen JWA, (2025). Breeding programmes of sheep. MSD Veterinary Manual. Beskikbaar by: https://www.msdvetmanual.com/management-and-nutrition/management-of-reproduction-sheep/breeding-programs-of-sheep [18 Maart 2026]
Lewis RM, Notter DR, Hogue DE & Magee BH, 1996. Ewe fertility in the STAR accelerated lambing system. Journal of Animal Science, 74 Manitoba Agriculture. (n.d.) Accelerated lambing. Beskikbaar by: https://www.gov.mb.ca/agriculture/livestock/sheep/accelerated-lambing.html [18 Maart 2026]
Schoenian S, 2021. Lambing systems. Sheep 101. Beskikbaar by: https://www.sheep101.info/201/lambingsystem.html [18 Maart 2026]







