• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Wed, Jul 29, 2026
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

Dubbelbespiering: Is dié spiere net vir vertoon?

Dawid van Heerden, Veekundige

29 Jul 2026
in Tegniek
Dubbelbespiering: Is dié spiere net vir vertoon?

Die kalf met die dubbelbespiering-mutasie het ‘n oorbespierde voorkoms en lyk op die oog af meer indrukwekkend as ander kalwers in die trop.

Share on Facebook

Dubbelbespiering is ‘n genetiese mutasie wat gereeld in beeskuddes voorkom. Dit het indrukwekkende beeste met ‘n besondere gespierde voorkoms tot gevolg, maar gaan ook gepaard met beduidende negatiewe eienskappe. Alhoewel die diere moontlik verbeterde vleissagtheid, voeromset en groei kan toon, is die impak weens verlaagde vrugbaarheid en probleme met kalwing beperkende faktore tot die kudde se ekonomiese prestasie.

DNS (deoksiribonukleïensuur) word dik­wels beskryf as die “kode van lewe”. Dit is omdat die volgorde van nukleïensure waaruit ‘n DNS-string bestaan, uiteindelik vertaal word na ‘n string aminosure of polipeptiede, wat op hul beurt tot proteïene gevou en gevorm word (Figuur 1). Die DNS-string in ‘n chromosoom wat vir ‘n spesifieke proteïen of polipeptied kodeer, staan as ‘n geen bekend.

Die mikrogenetika van dubbelbespiering

Miostatien is ‘n proteïen wat in soogdiere vervaardig word om hul spieremassa te reguleer en word deur die miostatien-geen beheer. Sekere mutasies, oftewel veranderings in die DNS-kode, veroorsaak ‘n verandering in die miostatienproteïen se struktuur (soos in Figuur 1), wat tot abnormale spierontwikkeling lei.

Dubbelbespiering by soogdiere ontstaan wanneer ‘n DNS-mutasie veroorsaak dat die miostatien-
proteïen nie doeltreffend in die regulering van spiermassa is nie, met die gevolg dat die dier “oorbespierd” voorkom.

Mutasies kom natuurlik in populasies voor wanneer foutiewe DNS-duplisering plaasvind, met ander woorde, wanneer die DNS-kode tydens meiose verkeerd na die gamete oorgeskryf word.

Figuur 1: ‘n Grafiese voorstelling van die proses van DNS-transkripsie en -vertaling wat in die sel plaasvind. Bron: Aangepas uit Dictionary of cancer terms.

Die makrogenetika van dubbelbespiering

Die geen wat dubbelbespiering veroorsaak, het twee variante, naamlik Q204X en nt821. Hierdie gemuteerde geen kan van die moeder óf die vader na die nageslag oorgedra word, wat beteken dat dubbelbespiering ‘n oorerflike toestand is. Alle beesrasse kan aan hierdie toestand ly en dit word veral waargeneem in rasse wat oor tyd vir verhoogde vleisproduksie geselekteer is.

Hoewel dit selde onder Suid-Afrikaanse kuddes voorkom, is die toestand ook aanwesig in skape. Tekstielskape in die Verenigde Koninkryk is egter goed gedokumenteerde lyers van dubbelbespiering.

‘n Verandering in die DNS-kode veroorsaak ‘n verandering in geenuitdrukking en dus in die dier se fenotipe (uiterlike voorkoms). Die fisiologiese funksie van die miostatienproteïen, naamlik om spiergroei afwaarts te reguleer, word versteur en dit lei tot ‘n oormaat spierontwikkeling, sowel as ‘n afname in liggaamsvet. Die verandering in die DNS-kode veroorsaak ‘n verandering in geen­uit­druk­king en dus in die dier se fenotipe (uiterlike voorkoms). Die fisiologiese funksie van die miostatienproteïen, naamlik om spiergroei afwaarts te reguleer, word versteur en dit lei tot ‘n oormaat spierontwikkeling, sowel as ‘n afname in liggaamsvet.

Aangesien miostatien normaalweg die spierana­bolisme reguleer, word metaboliese energie wat andersins vir vetneerlegging gebruik sou word, eer­der vir spierontwikkeling aangewend.

‘n Drakensberger-vers met dubbelbespiering. Hoewel die vers reeds ‘n geruime tyd in die voerkraal was, toon sy geen tekens van vetneerlegging nie.

Nadele van dubbelbespiering

Die afname in liggaamsvet kan ‘n negatiewe invloed hê op vrugbaarheid, omdat die hormoon leptien, wat deur vetselle vervaardig word, nie in voldoende konsentrasies voorkom om geslagontwikkeling te stimuleer nie. Gevolglik bereik die­re met dubbelbespiering dikwels later puberteit en het hulle onderontwikkelde geslagsorgane. Dit lei tot laer vrugbaarheid, asook kleiner bekkens weens vergrote spiere in die bekken, wat tot moeilike kalwing lei.

Aangesien die geenmutasie reeds voor geboorte aktief is, toon kalwers al in die baarmoeder buitensporige spierontwikkeling. Die kalf is dus groter teen die aanvang van kalwing, wat die kalwings­proses verder bemoeilik. Dubbelbespiering verhoog die waarskynlikheid van moeilike kalwings.

Aangesien die koei en kalf albei kopieë van die gemuteerde geen kan dra, is daar ‘n vergrote negatiewe uitwerking op kalwingsgemak omdat ‘n oorbespierde kalf deur ‘n verkleinde ge­boortekanaal moet beweeg. Hierdie verskynsel is veral duidelik in die Belgian Blue-beesras, waar elke kalf met behulp van ‘n keisersnee gebore moet word.

Alhoewel die karkasopbrengs en uitslagpersentasie hoër is by diere met dubbelbespiering, bevat die vleis minder vet. Dit kan daartoe lei dat karkasse se gradering gepenaliseer word, aangesien ‘n lae vetinhoud en marmering droër en minder smaaklike vleissnitte tot gevolg kan hê.

Die vergrote uitslagpersentasie wat by diere met dubbelbespiering waargeneem word, word toegeskryf aan die groter proporsie spierweefsel relatief tot ‘n kleiner proporsie van die soge-
naamde “vyfde kwart”. Die organe en vel van diere met dubbelbespiering vorm dus ‘n kleiner verhouding van die dier se totale liggaamsgewig.

Die verandering in die verhouding tussen die veloppervlak en liggaamsgewig veroorsaak dat diere met dubbelbespiering minder doeltreffend sweet en gevolglik moeiliker van oortollige liggaams­hitte ontslae raak. Aangesien die ingewande ook ‘n kleiner gedeelte van die totale liggaamsgewig uitmaak, word minder doeltreffende asemhaling en vertering dikwels waargeneem.

Die voorarm van ‘n bul met dubbelbespiering. Let op die vleis (rooi) tot been (blou) verhouding op die foto.

Wyse van oorerwing

Die wyse van oorerwing verwys na die manier waarop eienskappe van die ouers na hul nageslag oorgedra en tot uitdrukking gebring word.

Dubbelbespiering is ‘n kwalitatiewe eienskap, wat beteken dat slegs een geen, die miostatiengeen, betrokke is by die uitdrukking van die fenotipe. Dit maak dit hoogs oorerflik, in teenstelling met kwantitatiewe eienskappe soos die speengewig of liggaamslengte, waar die uitdrukking deur verskeie gene en omgewingsfaktore beïnvloed word.

Die genotipe verwys na die twee kopieë van ‘n geen wat ‘n dier erf – een van die moeder en een van die vader. Die dier se dubbelbespiering-status is afhanklik van die kombinasie van variante of mutasies van die geen wat die dier geërf het.

Sekere mutasies kom gevolglik meer gereeld in nouverwante populasies voor, soos in ‘n spesifieke ras. Hierdie variante word dikwels in die volksmond na die beesras vernoem waarin die mutasie algemeen voorkom of waarin dit die eerste keer geïdentifiseer is.

Wanneer daar byvoorbeeld na die “Charolais-mutasie” in ‘n Bonsmara-kudde verwys word, beteken dit nie dat die geen deur kruisteling in die populasie ingebring is nie, maar slegs dat dieselfde mutasie wat oorspronklik in Charolais-beeste geïdentifiseer is ook in dié Bonsmara-
kudde voorkom.

Bestuur van dubbelbespiering

Sommige produsente glo dat miostatien-mutasies bestuur kan word om kalwers met beter groei en meer hoëwaarde-snitte te produseer, soos wat die algemene praktyk in sommige Europese lande is.

In Europa word terminale kruising algemeen toegepas deur rasse soos Belgian Blue-bulle (homo-
sigoties vir die nt821-geen) op mutasievrye koeie van ander rasse te gebruik en al die kalwers wat geproduseer word, te slag. Hierdie stelsel is egter toepaslik vir die intensiewe produk­sietoestande van Europa en is nie geskik vir die algemene Suid-Afrikaanse produksietoestande nie.

Die verskille tussen Europese en Suid-Afrikaanse produk­siestelsels beklemtoon waarom dubbel-
bespiering slegs onder baie spesifieke omstandighede ekonomies sinvol is. Gevolglik het verskeie telersgenootskappe in Suid-Afrika ‘n beleid ingestel om mutasievrye kuddes te bevorder en word daar tydens keuring en veilings teen diere met miostatien-mutasies gediskrimineer. Genetiese ontledings van bulle word dikwels ook vereis.

Hierdie beleid geld egter nie vir die F94L-mutasie nie, aangesien hierdie mutasie nie oormatige dubbelbespiering of ernstige kalwingsprobleme veroorsaak nie. Die mutasie kom algemeen in Limousin-beeste voor en word binne die ras bestuur, en selfs doelbewus in kruisteelprogramme benut om karkaseienskappe te verbeter.

Tekens van dubbelbespiering in jou kudde

Diere met dubbelbespiering word eerstens aan hul voorkoms herken – vergrote spiere met duidelike nate, sowel as ‘n ronde bouvorm. Dit is egter belangrik om te onderskei tussen diere wat werklik dubbelbespiering het en dié wat bloot goed gespierd is. Dubbelbespiering gaan gepaard met ander fisiese eienskappe soos verlaagde vetbedekking, verkleinde uiterlike geslagsorgane en ‘n fyner beenstruktuur.

Tydens visuele inspeksie van die kudde moet daar nie net op spiermassa gefokus word nie, maar ook op ander aanduiders. Diere met dubbelbespiering word ook gekenmerk aan ‘n vergelyking in hul prestasie, naamlik beter groei, voeromsetvermoë en karkasse met min tot geen vet, hetsy binnespier-marmering of onderhuidse liggaamsvet.

Hierdie eienskappe kan gemeet word en word weerspieël in die teelwaardes indien die dier van ‘n stoet afkomstig is. Diere met dubbelbespiering het gewoonlik swakker teelwaardes, wat met kalwingsgemak en vrugbaarheid verband hou. Tegelykertyd het hulle hoër teelwaardes vir groei, voeromset en volwasse gewig.

Indien beskikbaar, kan die RTU (real time ultrasound)-resultate aandui dat die dier ‘n vergrote oogspierarea het, sowel as laer vetneerlegging en marmering. Die RTU verwys na afleidings gemaak vanuit ultraklank-beelde om die dier se karkaseienskappe te weerspieël, sonder dat die dier geslag hoef te word. Die enigste manier om wel 100% seker te wees, is om ‘n DNS-monster te laat ontleed.

DNS-ontledings kan duur wees, veral as besluit word om die hele kudde te toets. As daar vermoed word dat dubbelbespie­ring in jou kudde voorkom en dit ‘n wesenlike probleem is, kan teelwaardes en visuele leidrade gebruik word om kandidate vir DNS-ontleding te identifiseer. Sodoende hoef die hele kudde nie getoets te word nie en kan die probleem aangespreek word.

Tabel 1: Die verskillende algemene dubbelbespiering-mutasies, die wyse van hul oorerwing en die uitwerking van die verskeie mutasies op die dier se uiterlike voorkoms. Bron: Aangepas uit Madula et al., 2024, en Taylor, 2017.
Tabel 2: Vergelyking van die algemene Suid-Afrikaanse produksiestelsel met dié van Europa met betrekking tot die bestuur van dubbelbespiering.

Samevatting

Dubbelbespiering kan indrukwekkend voorkom en diere met groot, ronde spiere, wat vinnig groei en ‘n hoë uitslagpersentasie het, tot gevolg hê. Die negatiewe gevolge daarvan kan egter produk-
siedoeltreffendheid benadeel. Probleme soos laer vrugbaarheid, moeilike kalwings, hittestres, swakker benutting van ruvoer en asemha­lingsprobleme beperk dikwels die praktiese waarde van hierdie fenotipe in kommersiële produksietoestande.

‘n Doeltreffende beesboerdery fokus nie bloot op spier­massa nie, maar op funksionele en aangepaste diere met die korrekte verhouding tussen die been-, spier- en werkende weefsel. Produsente kan dubbelbespiering in hul kuddes beperk deur genetiese ontleding, verantwoor-
delike seleksie gegrond op teelwaardes en deeglike visuele inspeksie toe te pas. Só kan ‘n meer funksionele, vrugbare en ekonomies doeltreffende kudde opgebou word – wat nie net vir vertoon is nie!

Bronnelys

  1. Fiems LO, 2012. Double muscling in cattle: Genes, husbandry, carcasses and meat animal sciences unit. The Institute for Agricultural and Fisheries Research, Journal: Animals 2012, 2. wwmdpi.com/journal/animals
  2. Athur PF, 1995. Double muscling in cattle: A review*. NSW Agriculture, Agricultural Research Centre, Trangie, NSW 2823. Australian Journal of Agricultural Research 1995, 46
  3. Threon H, 2020. Double muscling in beef cattle. SA Stud Book & Animal Improvement Ass. Pretoria Office. https://www.boran.org.za/Media/Journals/2020%20Journal%20Articles/Double%20muscling.pdf
  4. Taylor ML, 2017. The relationship between the myostatin gene and calving ease in beef cattle: A review of published research literature. Agricultural Business Research Institute, Armidale NSW 2351
  5. Madula R, Visser C & Van Marle-Köster E, 2024. The impact of myostatin variants on growth traits in Bonsmara beef cattle. Journal of Tropical Animal Health and Production, Department of Animal Sciences, University of Pretoria, South Africa
Tags: Jul/Aug 2026
Previous Post

Grondaggregate: Die onsigbare fondament van volhoubare opbrengste

Recommended

Dubbelbespiering: Is dié spiere net vir vertoon?

Dubbelbespiering: Is dié spiere net vir vertoon?

29 Jul 2026
Grondaggregate: Die onsigbare fondament van volhoubare opbrengste

Grondaggregate: Die onsigbare fondament van volhoubare opbrengste

29 Jul 2026
You are worth more than the title

You are worth more than the title

29 Jul 2026

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Dubbelbespiering: Is dié spiere net vir vertoon?

Dubbelbespiering: Is dié spiere net vir vertoon?

29 Jul 2026
Grondaggregate: Die onsigbare fondament van volhoubare opbrengste

Grondaggregate: Die onsigbare fondament van volhoubare opbrengste

29 Jul 2026
You are worth more than the title

You are worth more than the title

29 Jul 2026

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In